‘n Naelbyteinde is op die kaarte in die Produksievoertuigkategorie van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap.
Na die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren beskik drie spanne oor ‘n realistiese kans om die algehele kampioenskap in te palm en met net 12 punte wat dié drie spanne van mekaar skei, gaan die laaste twee byeenkomste van die seisoen die senuwees behoorlik aan flarde hê. Die huidige voorlopers, Chris Visser en Japie Badenhorst (RFS Toyota Hilux) is 11 punte voor die huidige jaerskampioen, Duncan Vos en Rob Howie (Span Castrol-Toyota Hilux) met die Botswana-wenners, Hannes Grobler en Hennie ter Stege in die RFS-BMW ‘n verdere punt agter.
Na ‘n tweede plek in Botswana beskik Visser/Badenhorst nou oor ‘n totaal van 97 punte. ‘n Derde plek was genoeg om Vos/Howie tot 86 punte te neem met die wenners, Grobler/Ter Stege, wat nou net ‘n enkele punt agter die fabrieks-Toyota-span is.
Die Sun City 400-wenners, Terence Marsh en Buks Carolin (Regent Racing-Nissan Navara) en Gary Bertholdt en André Vermeulen (Atlas Copco-Toyota Hilux) is vierde en vyfde algeheel en beskik wiskundig oor ‘n buitekans om by die agterdeur in te sluip. Marsh en Carolin is egter amper 40 punte agter die voorlopers en met net twee renne nog oor, is hulle vir alle praktiese doeleindes uit die prentjie.
Alhoewel die algehele puntetoekenning van die klaspunte verskil, is die posisie in die gesogte Klas SP dieselfde as in die algehele stryd. Hier is Visser/Badenhorst sewe punte voor Vos/Howie met Grobler/Ter Stege ‘n verdere punt agter met Marsh/Carolin en Bertholdt/Vermeulen wat die top vyf afrond.
‘n Interessante situasie het in Klas D ontwikkel. Die kampioenskapsleiers, Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam Toyota Hilux) het die Botswana-ren gemis wat hul voorsprong verklein het.
‘n Sege vir Deon Venter en Ian Palmer in ‘n nuwe 4×4 Mega World-Toyota Hilux het hulle binne drie punte van Breda en Du Toit laat opbeweeg. Venter en Palmer was die enigste Klas D-span wat die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren kon voltooi.
Na ‘n oorwinning in Botswana is die Klas E-kampioenskapvoorlopers, Lance Woolridge en Ward Huxtable (Span Ford Ranger) byna onaantasbaar in Klas E. Hulle is nou 29 punte voor Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus (4×4 Mega World-Toyota Hilux) en het die trofee in hul visier.
Die Woolridge-tiener het ‘n sprokiesresultaat tydens sy eerste Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren aangeteken. Woolridge se pa, Neil, is ‘n voormalige algehele wenner van dié klassieke woestynren en dit lyk of die jongeling bestem is om in sy voetspore te volg.
Die volgende byeenkoms op die kalender is die Human Auto 400 wat op 22 en 23 Oktober in die Vrystaat plaasvind. Die renhoofkantoor, begin- en eindpunt asook die aangewese dienspunt sal by die Windmill Casino wees.
bydrae: Charmaine Fortune
