Kampioenskapleiers onder druk

Druk sal hoogty vier terwyl die drama in die Spesiale Voertuigkategorie van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap tydens die laaste twee byeenkomste ontvou.

‘n Derde Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren-oorwinning het die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau in die Span Total-Porter se voorsprong in die algehele kampioenskap bo die 2007-kampioene, Kallie en Quinton Sullwald in die Elegant Fuel-BAT vergroot. Net 12 punte skei dié twee spanne egter en Variawa/Rousseau is steeds in ‘n delikate posisie en die laaste twee byeenkomste – die Human Auto 400 in die Vrystaat en die RFS Magalies 400 in Mogale City – sal vir drukkokersituasies sorg.

Net om sake selfs interessanter te maak, kan twee ander spanne nie uit die algehele prentjie gelaat word nie. Die Klas P-voorlopers, Johan van Staden en James Rossouw (Atlas Copco-BAT) en ‘n tweede Sullwald-pa- en seun-span, Herman en Wichard (Sullwald Racing-SVR) beskik albei oor ‘n buitekans om met die algehele titel weg te stap.

Soos sake nou staan dek 24 punte dié vier spanne. Met 50 punte wat tydens die laaste twee renne ingepalm kan word, is enige iets moontlik.

Variawa/Rousseau (94 punte) is tans voor Kallie en Quintin Sullwald (82) met Van Staden/Rossouw (71) in die derde plek. Herman en Wichard Sullwald is ‘n verdere punt agter en die eerste Vrystaat-ren, wat vir spanne onbekend sal wees, kan ‘n sleutelrol in die finale resultaat speel.

Die situasie in Klas A sien egter effens anders daarna uit. As gevolg van ‘n verskil in puntetoekenning beskik Herman en Wichard Sullwald hier oor ‘n drie punte-voorsprong bo Variawa en Rousseau. Kallie en Quintin Wullwald is derde en die situasie is weer eens gelaai met moontlikhede.

Die huidige stand van sake in Klas P is minder ingewikkeld. Hier het Van Staden en Rossouw ‘n handige voorsprong in die jaers- en navigatorskampioenskappe.
Van Staden is 21 punte voor Archie Rutherford (Regent Racing-Jimco) wat die jaers betref met die Swaziland-gebaseerde John Thompson derde. Rossouw is 44 punte voor Thompson se gereelde navigator, Clinton McNamara, wat die Toyota-Woestynren gemis het, en is veilig.

Die situasie in Klas B is onveranderd na die Botswana-ren. Alhoewel hulle nie die ren kon voltooi nie, beskik Bes Bezuidenhout en sy skoondogter, Lindie (Adenco-BAT) steeds oor ‘n gerieflike voorsprong wat beide die jaers en navigators betref.

Die veterane Coetzee Labuscagne (Raysonics-Zarco) en Giel Nel (Zarco Truggy) was eerste en tweede tydens die Toyota Kalahari Botswana 1000-Woestynren en is tussen ‘n handvol spanne wat deur ‘n enkele punt geskei word – die kampioenskap is egter buite hul bereik. Labuscagne is deur sy dogter, Sandra, in Botswana bygestaan terwyl Jaco Jonck langs Nel gesit het.

Die Human Auto 400 vind op 22 en 23 Oktober plaas en sal vanaf die Windmill Casino aan die buitewyke van Bloemfontein plaasvind.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply