Kinners ons gaan Kannaland toe

Ek rig my skrywe aan julle in die hoop dat iemand bereid sal wees om aan my verblyf en kos te verskaf omdat ek my werk verloor het. Ek eet of slaap nie regtig baie nie en aangesien ek reeds op die dopstelsel is by Roekeloos, is ek gewoond daaraan om te werk vir my wyn. Wag nou maar eers met die uitverf van die buitekamertjie. Ek gaan die CCMA kontak, want ek weet darem nie of ‘n mens ‘n persoon se algemene voorkoms na ‘n langnaweek in Eden en omliggende streke kan aanvoer as rede vir onmiddellike ontslag nie, selfs al kom hulle by die werk aan met droë modder en ander plantmateriaal in hul ongekamde hare.

Verlede jaar is my dogter Duitsland toe om 9 kg in drie maande op te tel terwyl sy geleer drink en vloek het in Duits. Hierdie jaar is dit ons beurt om ‘n uitruilstudent te huisves en omdat ek my land liefhet en daagliks verlang na die veld waar ek grootgeword het, besluit ek toe om haar Kannaland te gaan wys. So pak ek Saterdagoggend my kar vol kinders – my twee en dan ook die helfte van Wes-Berlyn, want die boetie van 16 beweer (hoorsê!) sy gasouers in Bloemfontein voer hom nie en hy vlug toe maar ook na Parow se vleispotte – en vat die pad na die see. Met dié dat ek die R300-afrit misry moes ek eintlik al omgedraai het, want ons het skaars gestop by die aarbeiplaas met die baie voëlverskrikkers of die spul is honger en al wat my meer irriteer as ‘n honger kind is ‘n kind wat die heeltyd honger is en een wat fluit. Later die naweek sou dit blyk dat ek eintlik ‘n winskopie gekry het, twee irritasies vir die prys van een, want Boeta vreet én fluit.

Alles was wel tot op Riversonderent toe my jongste ‘n sampioenfleddertjie in haar hoenderpastei vind. Soos ek oor vreterige kinders voel, so voel sy oor goeters wat sy nie eet nie (laaaaang lys wat na 17 jaar redelik uitgebreid en baie spesifiek is) in of naby haar kos. Net daar blaas sy haar wangetjies op en beslaan in die proses nog meer ruimte in ‘n reeds beknopte kar, wat weer op sy beurt die ander sigbaar geïrriteerd laat met die Franse horing-konsert in E-mol majeur wat toe al so hard as moontlik gedraai is in ‘n poging om dit bo die geknaag op die agtersitplek te hoor. Ek wou nog by mense wat ek ken op Riversdal aangaan vir koffie of sterk drank, maar teen daardie tyd het ek gejaag en geskel soos ‘n heks op ‘n vinnige besem, sonder ontsag vir boetes of wilde diere wat die pad probeer oorsteek. Ik had een doel voor oë: om so gou as moontlik Mosgas se vlamspuwende skoorstene voor my te sien sodat ek die spul iewers by die laagwatermerk in Danabaai kan aflaai soos mens met ‘n werpsel hondjies maak wat jy nie wil hê nie. Ek dink ek verstaan nou waarom my pa my en my broer by geleentheid langs die N1 net duskant Drie Susters gelos het en aangery het sonder om om te kyk.

Maandagoggend is ons deur die genade alleen veilig oor die Robinsonpas Kangogrotte toe, natuurlik met kosblikke vol padkos om aan die kommandowurm se onversadigbare behoeftes te probeer voldoen. Ten spyte van die sogenaamde uitstekende padhouvermoë van my motor is ek by meer as een geleentheid byna die afgrond af (net soos daardie man met die een arm wat onlangs by Chapmanspiek eers beheer oor sy luukse motor en toe sy lewe verloor het) van skrik wanneer my passasiers skielik gil omdat nog een van die goggas op die protea wat ons onwettig gepluk, op hulle klim.

Met ons aankoms by die grotte was ek gereed om my kar (volledige diensrekord, ABS-remme, slegs een besete vroulike eienaar) en kinders te ruil vir ‘n wit volkshuisie sonder krag of water. Die skrale kans dat party van hulle dalk in die grot kan verloor het my egter ‘n bietjie moed gegee en ons is die dieptes in saam met ‘n garde vreemdsprekendes. Omdat ek onder geen omstandighede bereid was om dieselfde vernedering te beleef as ‘n ene nooi Hlabelela wat ‘n paar jaar gelede op Nuwerjaarsdag vir nege ure in die liefdestonnel vasgesit het nie, het ek besluit om maar liefs by Cleopatra se naald te wag terwyl die res van die avontuurlustiges op hul mae rondseil. Ongelukkig was daar nog vet en bang mense in ons groep en vir byna ‘n uur is ek vasgevang saam met onder andere ‘n arrogante snotkop en sy nuwe Nikon XZLFD4000080 en nog meer letters en syfers, want dis hoe fancy sy kamera volgens hom is. As dit nie was vir die gebrek aan suurstof wat my uitasem en swak gelaat het nie, het ek hom wragtig met sy eie kameraband (Nikon — Nikon — Nikon, in rooi) verwurg en sy liggaam agter ‘n stalagmiet versteek vir antropoloë om oor 800 000 miljoen jaar (interessant) te vind. Toe die res van die groep weer by ons aansluit was ek teleurgesteld om te sien al vier myne het teruggekom, maar terselfdertyd verheug in die wete dat ons nou eindelik op pad is na waar ek regtig wil wees.

Calitzdorp (foto: Robert Wallace)
Calitzdorp (foto: Robert Wallace)

By Uhuru aangekom het ek my op die stellasie bokant die dam in die sonnetjie gaan sitmaak, sonder skoene en met ‘n bier in die een hand en ‘n glas pienkwyn in die ander, gerus in die wete dat al die geswets van die vorige paar dae my darem nie my saligheid gekos het nie, want hier is ek dan nou in die hemel. Alles om my was mooi en Isabella was tevrede. Ek het later geklouter tot op ‘n koppie in ‘n poging om die dag ‘n wyle langer te aanskou en gewonder of daar iewers ‘n bondeltjie selle ingebou is, ‘n breinstruktuur van een of ander aard, wat aan ons die kapasiteit gee om na stukke berg en klip te kyk en te voel soos ek gevoel het terwyl die son vir oulaas daardie dag probeer om die sneeu op die Swartberge te smelt.

Ons plan was om vroegoggend oor middelpad langs, verby ons ou busstop, tot op Gamkasberg te ry en dan deur die veld te stap om te gaan kyk of die treurmoerbei van ons kinderjare nog daar in Doringlaagte staan. Die veld was soos ek dit laas na die Laingsburg-vloed gesien het. Groen. Geel. Pers. Pragtig. Ek het my lyf botanis gehou en aan die uitlanders spekboom, oumansoutbos en olifantsvoet uitgewys. Hulle was aanvanklik vies om aan die bossies en bokmis te vat, maar het weldra besef ‘n mens raak maar vuil in die veld, veral as jou voertuig vasval. Met ‘n paar klippe voor die agterwiele en ‘n goeie hupstoot van die uwe en vyf jongelinge is ons relatief maklik uit die eerste modderlokval. Die res van Vrouedag 2011 het uit nog van dieselfde bestaan met die diepte van die modder waarin ons ons skoene verloor het as enigste variasie op die deuntjie wat teen 2 namiddag net so eentonig soos die musiek in ‘n pornofliek begin raak het. Hongerkind het reeds vroeg al ses die appels wat ek gelukkig agterop die bakkie gehad het heel verorber, maar het nie een maal gewaag om te sê hy soek nog nie. Ek vermoed my modderbesmeerde gesigsuitdrukking en eenwoordsinne het hom ontmoedig.

Hulle sê dis dieselfde met ophou drink. Jy probeer, byt vas, val terug en dan kom daar ‘n dag wat jy opgee omdat jy weet, uit hierdie gemors gaan jy nie sonder hulp kom nie. Toe die bakkie vir die vyfde keer die dag op sy chassis lê, het ons twee van die kinders gestuur om vir luiperdklong wat daar in Ou Tom se huis ingetrek het vanwaar hy navorsing doen, te loop vra of hy asseblief iemand met ‘n trekker kan bel van sy landlyn af. Dié het ook vasgeval en moes deur ‘n 4×4 trekker van ‘n tipe wat ek nog nooit gesien het nie – ek ken net John Deere (groen) en Massey Ferguson (rooi) – uitgesleep word.

Dinsdag toe ek vroegaand terugry Kaap toe (‘n hond keer mos maar altyd terug na sy braaksel), net ander kant Ronnie se winkeltjie, het dit in ‘n stadium vir my gevoel ek kan nie meer al die mooi in die oë kyk nie – soos as mens ‘n hele blikkie gekookte kondensmelk alleen opgeëet het en nooit weer ‘n soetding wil aanskou nie – en ek was bly toe dit eindelik so donker word dat ek net die pad voor my kan sien. Ek het weer my Mozart aangesit en hierdie keer kon ek sag daarna luister, want die kinders was moeg, die kar was stil en ek ook.

Isabella Caramella vat ‘n modderbad

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. uitstekend, die wonder van vrou wees, en die hulp van ‘n ou glasie wyn.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar