deur Gideon C. du toit
Transformasie het ’n woord geword wat toenemend op die lippe van Suid-Afrikaners speel. In bykans elke privaat en staatsonderneming word teikens koorsagtig nagejaag ten einde hulself in lyn te stel met nasionale voorgestelde riglyne, en alhoewel meeste Suid-Afrikaners ten gunste van transformasie in beide sosiale en ekonomiese konteks is, is daar ’n gedeelte van die bevolking wat hierdie idealisme moet najaag met ’n aangeplakte glimlag op hul gesigte. ’n Klein deel van ons reënboog nasie wat nooit die geleentheid gegun was om oor die gedwonge dood van hul kultuur te rou nie.
Ek het soos meeste ander kinders van die sewentiger- en tagtigerjare grootgeword met ’n ingebore trots vir die Republiek van Suid-Afrika. Ek onthou hoe ons in skole Republiek-dag gevier het met die hys van die Oranje, Blanje, Blou en ons “Die Vlaglied” en “Die lied van jong Suid-Afrika” uit volle bors gesing het. Daar was gewoonlik ’n koeldrank lorrie en dan het ons het ons droog gesingde kele gelaaf met ’n gratis 300 milliliter Coke, in daardie dik glasbotteltjies. Ons was vermaak met toneelstukkies van Majuba en heldedade uit ons ryk geskiedenis. Ek was trots op my land, my vlag en my erfenis as Boere Afrikaner. Ek was bewus van ander rassegroepe, maar ek was ’n kind, te jonk om te stem en met geen blootstelling aan buitelandse opinie nie. Daar was nie ’n verwysingsraamwerk wat my op daardie stadium van my lewe kon laat verstaan dat daar mense is wat verontreg was nie. En toe sterf die ou Republiek.
Alhoewel die meeste wit Suid-Afrikaners dit eens is dat die vorige stelsel gegrond was op ekonomiese onreg, gru menseregteskendings en dat die afskaffing van die Apartheidsbeleid ’n absolute noodsaaklikheid was, ervaar hul tog ’n gevoel van diep verlies. Ons het grootgeword met die idee dat ons ’n volk is met ons eie grond, betaal in bloed, ’n pragtige land waar ons “Die Stem” kon sing in ’n taal wat ons eie is en ons trots was op ons helde en erfenis.
Bykans oornag het hierdie geliefde erfenis in ’n euwel verander. Alles waarop ek trots was, was nou gebrandmerk as verkeerd. Die vlag waarop ek so trots was, is afgeskaf, die volkslied vervang en die geskiedenis herskryf. Nie net moes ons moes die Afrikaner kultuur en volkserfenis agterlaat nie, maar ons moes fisies ons rug daarop draai en terwille van aanvaarding wys dat ons nou haat, waarvoor ons eens so lief was. Afrikaners moes instem om deel te wees van ’n nuwe volk, ’n reënboognasie waar elke ander kultuur aanvaar word en almal dit eens is dat die Afrikaner kultuur ’n Apartheidseuwel is wat uitgeroei en vergeet moet word.
Om te erken dat jy ’n Afrikaner is, is om te erken dat jy ’n melaatse is, ’n uitgeworpene wat met ’n gebuigde hoof in skaamte moet jammer sê dat ons gebore was in ’n stelsel van onreg wat ons self nie gekies het nie. Ons moet jammer sê dat die argitekte van hierdie die stelsel behoort aan dieselfde kulturele groep as ons. Apartheid het aan mense van kleur onmeetlike onreg gedoen, maar in ’n meerdere mate is die leiding daarvan vir hulle verby. Vir die Afrikaner het die effek van Apartheid net begin, en ons betaal vandag vir die verkeerde keuses van geslagte wat nou salig in hul grafte lê.
Straatname, stadsname en historiese landmerke is hernoem en daarmee saam ons identiteit as ’n eie en selfstandige kultuur in hierdie reënboognasie. Dit het tot gevolg dat daar verdeeldheid onder die wit Afrikaners ontstaan het. Die land en kultuur waarmee ons geïdentifiseer het was weg, en selfs om te erken dat ons somtyds diep binne ons daarna verlang, kan tot gevolg hê dat jy as rassis uitgekryt word. Hierdie mense kan nie verstaan dat dit nie Apartheid is waarna ons verlang nie, maar na die eenheid en erfenis van ons eie kultuur. Ek wonder soms in die hedendaagse atmosfeer van onverdraagsaamheid of ander kulture hul erfenis en identiteit so gemoedig sou laat vaar ter wille van ’n ander. Ek is nie ’n kundige nie maar ek is oortuig dat die verlies van ‘n kulturele identiteit vêrreikende gevolge in die psige van so ’n groep moet hê. Daarbenewens word ons forseer om ander kulture as ons eie aan te neem terwyl die rou seer van ons verlies nog vars in ons gemoedere is.
Ek is absoluut ten gunste van transformasie in die lig gelyke regte, maar dan moet daardie regte gelyk wees deur alle fasette van ons samelewing. Soveel as die herinnering aan Apartheid ’n dolk in die hart van ‘n groot deel van ons bevolking is, soveel is die gevoel van verlies in die harte van ’n ander groep.
Ek glo dat die tyd ryp geword het dat ons die misverstande wat veroorsaak is deur, en steeds deur Apartheid oorskadu word finaal uitstryk. Afrikaner kultuur het ’n regmatige plek in die hedendaagse Suid-Afrika soveel as die Zulu, Xhosa, Sotho en ander kulture het. Afrikaner kultuur is nie ’n euwel nie en dit is nie gegrond in Apartheid nie. Afrikaner kultuur is my kultuur, my identiteit en wie ek is in die reënboog-nasie. Ons kultuur is nie iets om oor skaam te voel nie, maar ’’n erfenis om op trots te wees.