Die Ierse dramaturg George Bernard Shaw het dit gestel dat die enigste verstandige man wat hy ooit ontmoet het sy kleremaker was. Die snyer het sy mates geneem elke keer as hy hom sien. In teenstelling verwag die res van die mensdom dat jy altyd aan hul verwagtinge van jou moet voldoen, sonder dat hulle jou ooit van nader leer ken.
Die storie van Roekeloos.co.za is ook een van verwagtinge. Sedert die ontstaan van die webwerf in 1997 het dit van krag tot krag gegaan juis omdat dit aan die publiek se verwagtinge voldoen het. In die jaar 2000 het die webwerf ‘n kommersiële instelling geword en is elke maand se gebruikerstatistieke noukeurig ontleed en die inhoud hiervolgens aangepas. Gevolglik het die werf een van die gunsteling plekke van Afrikaanssprekendes geword. Op sy toppunt het Roekeloos amper een miljoen blaaie per maand bedien.
In 2006 het dit begin duidelik word dat dit nie moontlik gaan wees om vir altyd aan almal se verwagtinge te voldoen nie. Ons het na al ons lesers se behoeftes gekyk en afdelings op Roekeloos identifiseer wat vir julle belangrik is. Toe verwyder ons hierdie afdelings.
Oplettende lesers sou reeds in 2007 agterkom dat sekere afdelings begin verdwyn het. Die inhoud van hierdie afdelings is nie weg nie, dit is oorgedra na ander webwerwe. Webwerwe wat baie meer inligting oor die onderskeie onderwerpe bevat en meer geskik is om antwoorde op julle vrae te verskaf.
Die laaste van hierdie afdelings is in Desember 2008 verwyder. Die proses om al die inligting na die ander webwerwe oor te dra is nog nie voltooi nie. Al die inligting is egter nog op Roekeloos beskikbaar via ‘n soekenjin. Skakels na meeste van die webwerwe wat inhoud oorgeneem het sal op Roekeloos beskikbaar gestel word. Die oordrag van inhoud behoort later vanjaar voltooi te wees.
Vir Roekeloos.co.za beteken dit dat ons kan terugkeer na die oorspronklike formaat. Weer kan fokus op die veelvlakkigheid van ons bestaan, meer spesifiek ons aardige maniertjies. Nie die plek waar dieselfde ou afgeleefde argumente oor en oor gevoer word nie. Daar is genoeg Naspers publikasies indien ons wéér wil argumenteer oor die bestaan van God. Roekeloos fokus op meer ernstige kwessies. Byvoorbeeld. Hoekom is die pluisie in jou naeltjie altyd blou? Wie koop Jurie Els se musiek? Hoekom braai mense binnenshuis in ‘n sonskynland? Vrae wat saak maak vir diegene wat hul tong nog in die kies kan kry.
Afrikaans is vir ons ook belangrik. Dit is egter die fyner nuanses wat ons aangryp. Dit wat die taal plasties, suggestief, subtiel en soms reguit maak. En woordspeling is altyd belangriker as woordspelling.
Die nuwe Roekeloos sal elke dag opdateer word met die nuusbrief, Roekeloos op ‘n Maandag, wat oudergewoonte elke Maandag verskyn. Daar sal ook binnekort nuwe funksionaliteit bekendgestel word.
Vir almal wat Roekeloos verlaat vir die nuwe webwerwe wens ons voorspoed toe en hoop dit voldoen aan julle verwagtinge.
Vir diegene wat hier tuis voel: Welkom. Die plek is nie vir almal nie, net ‘n paar uitverkorenes.
🙂
Die Uitgewer

Nuut,oud,nuwe-oud of oud-nuwe, bly Roekeloos nog altyd een van my gunstelinge. Doe so voort!