Naboomspruit word boereworshoofstad

Naboomspruit gaan sy status as die boereworshoofstad van Suid-Afrika vestig tydens vanjaar se Windpompfees. Tydens dié fees gaan Potgietersrus DLU kragte saamsnoer met AfriForum Jeug en ʼn wêreldrekord boerewors van 236 m braai.

Tydens die geleentheid gaan daar ook gepoog word om groter bewustheid te skep vir ʼn “Stop Misdaad”-veldtog wat tydens die fees afskop. Deur die aksie word daar beoog om bewustheid te skep rondom plaasaanvalle en geweldsmisdade op die platteland. As deel van die “Stop Misdaad”-veldtog gaan daar ook op 5 Junie nuwe wit kruise op die gedenkterrein langs die N1-snelweg naby Polokwane geplant word. Die kruise verteenwoordig slagoffers van plaasmoorde.

Die rekordpoging word gesamentlik aangepak deur Potgietersrus Distrikslandbou-unie, Wysa Engineering (wat die braaier bou), JT Omheinings (wat die wors geskenk het) en AfriForum Jeug.

Naboomspruit vier ook vanjaar sy 100ste bestaansjaar. Die Naboom-Windpompfees is vir die eerste keer in 2008 aangebied en is nou ʼn jaarlikse instelling op die Suid-Afrikaanse feeskalender.

Potgietersrus DLU rig ook ʼn uitdaging aan ander organisasies om die rekordpoging te ondersteun en daarop te verbeter.

Die 2010 Naboom-Windpompfees vind vanaf 10 tot 12 Junie plaas en tussen 10 000 en 12 000 besoekers word vanjaar verwag.

Lewer kommentaar

Leave a Reply