Nuwe SA brandstofrekord

Dit het selfs vir die Prius na ’n onmoontlike prestasie gelyk, maar ’n Australiese egpaar wat in Suid-Afrika kom vakansie hou het, het met net 140 liter se brandstof reg rondom Suid-Afrika gery.

Helen en John Taylor van die land Doer Onder, is welbekend vir verskeie internasionale brandstofbesparingsrekords, het hul onlangse Suid-Afrikaanse vakansie gebruik om ’n nuwe rekord te probeer opstel. Hul keuse het op die uiters ekovriendelike Toyota Prius geval, en hulle het die onafhanklike tegniese ingenieursmaatskappy Aswan Consulting aangestel om hulle dwarsoor die land te volg en hul rekordpoging as onafhanklike waarnemers te sertifiseer.

Die Taylors se roete het hulle oor ’n afstand van 4 431,6 km van Johannesburg se vroegoggend-spitsverkeer deur dorpe en stede soos Springbok, Kaapstad, Port Elizabeth, Durban, Piet Retief en uiteindelik terug tot in Johannesburg geneem.
“Suid-Afrika is ’n ongelooflike mooi land, en as ’n mens so deur die platteland ry, voel dit asof jy deur die VSA, Australië, Skotland en Nieu-Seeland ry – alles op een dag,” het die deurwinterde reisigers gesê.

Die Taylors se eerste hervulpunt was in Pofadder in die Noord-Kaap nadat hulle die eerste 1 100,2 km van hul avontuur met net 34,368 liter petrol afgelê het. Die egpaar is vir die rekord-doeleindes net toegelaat om by voorafbepaalde Shell-vulstasies aan te doen, waar dit die vulstasiebestuurder se taak was om die hoeveelheid brandstof aan te teken, die tenk se seël te breek en dit weer te verseël, en pynlik gedetailleerde fotobewyse van die proses te neem.

“Ons beste verbruiksyfer in die Prius was 2,4 liter/100 km oor ’n sekere 50km-gedeelte. Ons het teen gewone snelhgede gery, maar die padverleggings en gedurige gestop en ry het ons gemiddelde spoed vir dié gedeelte tot 53 km/h laat daal,” het die Taylors gesê.

Die 2,4ℓ-rekord kom neer op ’n gemiddelde verbruiksyfer van 41,66 km per liter brandstof, wat enige ander bestaande brandstofverbruikrekord verpletter. Dieselfde geld die algehele rekord-verbruiksyfer wat op 3,148ℓ/100km te staan gekom het en deur die onafhanklike tegniese ouditeur bevestig is. Die Taylors het net 139,488 liter petrol oor ’n afstand van 4 431,6 km op alle soorte padoppervlakke en in uiteenlopende omgewingstoestande gebruik om dié rekord-verbruiklsyfer op te stel.

2011 Prius
2011 Prius

Die gesertifiseerde rekord is baie indrukwekkend aangesien dit die amptelike verbruiksyfer vir die Prius, wat as 4,1ℓ/100 km aangegee word, met ’n stewige 23% oortref. Die prestasie is selfs meer indrukwekkend indien ’n mens in ag neem dat ’n gemiddelde 2 liter petrolgedrewe familievoertuig in die omgewing van 7 liter per 100 km verbruik.

Lewer kommentaar

Leave a Reply