Te oordeel aan mense se gesigsuitdrukkings wanneer ek vertel dat ek nog nooit op Tafelberg of op Robbeneiland was nie, sou jy sweer ek het sopas erken dat ék die eintlike Stasiemoordenaar is en dat arme Norman Simons die laaste 16 jaar onskuldig in die tronk sit.

Dít en pragtige lenteweer laat my toe vroeg Sondagoggend twee kaartjies bespreek vir ‘n eilandtoer met die Sikhululekile. Gelukkig tap ek my eie motor se olie af en omdat ek weet dat ‘n stukkende ratkas – glo ‘n kroniese kwaal van dié 26 miljoen rand se ou bootjie – ons nie sommer sal laat sink nie, gaan ek met groot opgewondenheid aan boord.

Ons moes ongelukkig op die onderste vlak sit want net die vroegvoëltjies mag bo sit en dis maar baie soos vliegtuigry in donderweer. Daar is byna dieselfde demonstrasie van wat om te doen in geval van nood, maar in plaas van ‘n suurstofmasker het ‘n man sonder voortande vir ons die oulike speelgoed gewys: ‘n fluitjie en ‘n flitsie. Ek het egter my bedenkinge oor of ek veel gaan lol met ‘n liggie sou die ergste gebeur en ek het solank rondgekyk vir weerlose uitlanderkindertjies wie se reddingsbaadjies ek kan konfiskeer. Twee is altyd beter as een.

So paar jaar gelede dryf ek in ‘n uitgeholde boomstomp op die ewenaar en wonder oor die kriteria waaraan ‘n stuk drywende land moet voldoen om as eiland te kwalifiseer. Blykbaar moet dit nie alleen ‘n aansienlike ent kuslyn hê nie, maar daar moet ook genoeg plante op groei om ‘n bok vir een jaar aan die lewe te hou. Volgens hierdie definisie kan ek met oortuiging sê dat Robbeneiland loshande kwalifiseer, veral nadat die bus my vergeet het by die skatlike, wit kerkie waar enige lid van die publiek op Valentynsdag hom/haarself vir R50 tot lewenslange gevangenisstraf kan laat vonnis. Gelukkig is ek aandagafleibaar en dit was nie lank nie of ek het heeltemal vergeet dat die noodlot my tot eensame afsondering verban het na ‘n eiland waar melaatses, malles en ander gevaarlike mense vir eeue aangehou is. Nadat ek na hartelus deur die stukkende vensters van die toevlugsoord vir gek, voormalige vrouens geloer het, pak ek en my Duitser die lang pad na vryheid te voet aan.

Caramella sit voet neer
Caramella sit voet neer

Twee ure later, met weinig meer as panty, bra en boots aan ons natgeswete lywe, het ons steeds geen bus ingehaal nie. Ons het wel drie skilpaaie, sewe dooie hase, ‘n baie groot kanon uit die Tweede Wêreldoorlog en ‘n bok van een of ander aard te siene gekry. Die hase, wat destyds na die eiland uitgevoer is as kos vir die melaatse kolonie, het intussen so ‘n gesinsbeplannigsnagmerrie vir die owerhede geword dat die DBV se pogings om aanneemouers vir hulle te vind later met meer drastiese maatreëls aangevul moes word. En terwyl ons nou oor kos praat, julle moet net Woolies se heerlike haaspastei probeer!

Lank nadat die Sikhululekile gegaan het en weer gekom het, het ons die eerste mens (as jy daarop aandring om hom so te noem net omdat hy min of meer regop loop) raakgeloop. Eintlik was dit eerder ‘n geval van hy sou ons graag wou platloop as hy kon, maar omdat ek uit sy heftige reaksie op my onskuldige poging om die Duitser te wys hoe jaag ‘n mens pikkewyne in die see kon aflei dat hy ‘n groot natuurliefhebber is, het ek my oë soos daardie bokkie op die veldbrandkennisgewings gemaak en hom stil aangekyk terwyl hy vir lank hard en onophoudelik op ons skree. In Engels.

Pikkewynkyker: “Can’t you read! It is clearly written here: ‘Do NOT leave the boardwalk’”.
Isabella: [Stilte]
Duitser: [Lyk bang]
Pikkewynkyker: “Those penguins … endangered species …”
Isabella: [Regtig? Ek het dit nooit geweet nie. Die prentjies wys dan altyd so baie van hulle. Seker maar Photoshop of Samesweringsteorie. Ah, daar is ‘n seemeeu. Ek moet tog daardie fliek van die seemeeu uitneem. Ek wonder hoe laat maak die videowinkel toe op ‘n Sondag. Die wasgoed is seker nog nie droog nie. Ek hou van rooi. Eendag wil ek nog leer tango.]
Duitser: [Lyk nog banger.]
Pikkewynkyker: “… spent the whole day observing … until you …”
Isabella: [Maak Bambie-oë en lyk ook nou bang.]
Pikkewynkyker: “What language do you people speak?”
Isabella: [Probeer Bambie-traan produseer. Stilte.]
Duitser: Deutsch.
Pikkewynkyker: [Gooi arms in lug en storm terug na uitkykpos in bosse].
Isabella aan Duitser: Moet jou nie aan hom steur nie. Ek dink hy is ‘n afstammeling van een van die inwoners van die toevlugsoord vir voormalige vroulike kranksinniges. Dit wys jou net wat gebeur as mens met die natuur inmeng!

Laatmiddag toe ek arms omhoog op die boonste dek van die Sikhululekile staan en my verwonder aan die nuwe perspektief van Tafelberg en die sokkerstadium, het ek voëlvry gevoel.

Isabella Caramella is nou voëlvry.

die wit kerkie
die wit kerkie
die bordjie-dingetjie op die kerkie
die bordjie-dingetjie op die kerkie
die toevlugsoord vir gek, voormalige vrouens / pikkewynkykers
die toevlugsoord vir gek, voormalige vrouens / pikkewynkykers

(oorspronklik verskyn 9 September 2011)

Lewer kommentaar

Leave a Reply