Die streng inperkings-reëls in 2020 het vir Corné Pretorius, `n bedrywige besigheidsman, skielik die kans gegee om sy droom om `n sanger te wees, te begin uitleef. Binne `n jaar het hy reeds groot sukses behaal met sy debuut-liedjies “Vuur en Vlam”, “Vergewe My”, “Halfvol” en “Biertjies.” Die nuutste enkelsnit “Liefde is `n Werkwoord” is verlede maand uitgereik.

Pretorius sê dat hy mense wil aanmoedig om, ten spyte van die probleme wat die wêreld tans in die gesig staar, hul drome na te volg. “Enigeiets is moontlik!” sê hy. “Ek kan nie glo dat dinge binne `n jaar so lekker vir my musiek-loopbaan uitgerol het nie. My songs doen baie goed op radio en ek het liedjies opgeneem met Die Heuwels Fantasties, Hunter Kennedy, Loki Rothman en Margot Rothman en die verhoog gedeel met Francois van Coke, Early B en Jack Parow.  En nou het ek `n album om bekend te stel!”

Richard Onraet wat meeste van die musiek-verwerking op Pretorius se liedjies doen sê dat dit vir hom opvallend is, dat alhoewel verskeie kunstenaars aan liedjies vir sy album geskryf het, Pretorius se eie klank en gevoel tydens opnames sterk deurgekom het. “Dit wissel tussen pop, elektroniese en selfs country, maar op die album as geheel, word mens weggeblaas deur Corné se unieke, sielvolle stem.”

Hunter Kennedy is een van die mees belangrike rolspelers in Pretorius se musiek-loopbaan. Kennedy het ses van die tien liedjies op “Halfvol” geskryf. Kennedy vertel: “Ons het maar net geclick. Hy het groot geword in dieselfde woonbuurt as ek, so ek dink daar was ’n mikrokultuur as anker vir ons om oor die weg te kom.”

Die res van die liedjies is deur Francois van Coke (Vuur en Vlam en Halfvol), Loki Rothman (Werk toe en Terug) en Jani Greeff (Sal dit jou gelukkig maak) geskryf. Margot Rothman, wat saam met Pretorius laasgenoemde sing, sê: “Toe ek dit die eerste keer hoor het ek onmiddellik geweet dat ek baie graag deel wil wees van die opname van hierdie besonderse lied. Ek dink Corné het ‘n wonderlike nuwe klank wat die industrie nou nodig het en dis so lekker om deel te kan wees van `n projek wat `n bietjie vars lug bring.”

“Die inperkingstyd en hoe almal skielik vasgevang voel in hul eie huise het my laat dink oor die emosionele mure en heinings wat ons almal in ons verhoudings met ander bou, en hoe ons almal grense het,” vertel Jani Greeff oor die skryf van “Sal dit jou gelukkig maak.” – “Ek dink Corné en Margot se dialoog is iets wat almal kan verstaan.”

Die album in geheel is `n samewerking deur `n gedugte span musikante: die skryf en collabs en dan was daar ook vier gewilde musiek-vervaardigers wat aan liedjies op die album gewerk het: Fred den Hartog, Johnny de Ridder, Richard Onraet en Loki Rothman. Pretorius sê dat dit ook nog vir hom die kersie op die ‘plate-koek’ was toe Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties ingestem het om die uitreiking van die album te bestuur. “Ek het `n wonderlike span agter my en ons sien uit dat mense die album hopelik net so geniet om te luister, as wat ons dit geniet het om dit te maak!”

Vergewe my

Snitte op die album:

1. Halfvol

2. Liefde is `n Werkwoord – met Hunter Kennedy

3. Werk toe en Terug – met Loki Rothman

4. Vergewe My

5. Vuur en Vlam

6. Skree

7. Ek wil Glo

8. Tyd hardloop uit – met Hunter Kennedy

9. Biertjies – met Die Heuwels Fantasties en Ampie

10. Sal dit jou gelukkig maak – met Margot Rothman

Halfvol Corne Pretorius 2021
Halfvol Corne Pretorius 2021

Lewer kommentaar

Leave a Reply