Corné Pretorius het reeds op 7-jarige ouderdom begin kitaar speel. Sy pa het vir hom `n verhoog in die motorhuis gebou en hy het baie van sy kinderjare daar spandeer om musiek te maak. Corné vertel dat alhoewel hy `n groot belangstelling in kitare ontwikkel het, en heelwat indrukwekkende kitare besit, het sy fokus later na sang geskuif. “Na skool het ek egter op besigheid begin konsentreer. Die lewe het sy gang gegaan en ek is in 2007 getroud en is die pa van drie pragtige dogters. Ek het musiek vir jare heeltemal opsygeskuif, maar die liefde daarvoor het my onlangs ingehaal. Ek was saam met vriende op wildsplaas in Namibië en ons het saans langs die vuur sit en musiek maak. Gevolglik het ek en een van my maats `n liedjie “Kalahari sonsak” vir die boer van die plaas geskryf om dankie te sê vir sy gasvryheid. Terug by die huis het ek gevoel ek is gereed om weer hierdie passie meer gereeld uit te leef. En as ek `n ding aanpak wil ek met net die beste werk. Na `n paar gesprekke het dinge lekker gevloei en alles het vinnig in plek geval vir die skryf en opneem van my eerste offisiële single by Van Coke Studios in Kaapstad.”

Die liedjie “Vuur En Vlam” is geskryf deur Francois van Coke en vervaardig deur Richard Onraet. Ten tyde van die skryf en die opneem van die liedjie vroeër vanjaar, was die nuus al vol stories oor die Covid19 pandemie. Lockdown in Suid-Afrika het al hoe meer na `n moontlikheid begin lyk. Corné noem dat hy nie eintlik `n ‘covid liedjie’ wou maak nie, maar sê hy, dit is al wat hulle daardie dag in die studio aan kon dink. “Francois het dit toe perfek vasgepen. Dis `n covid storie wat ook nie `n covid storie is nie. Richard het net daar gesit en die liedjie se musiek geskryf en teen die einde van die dag het ek die vocals opgeneem. Dit was ongelooflik om met sulke merkwaardige talent saam te werk.”

Corné het met Johan Nel, wat destyds heelwat van Fokofpolisiekar se indrukwekkende videos vervaardig het, kontak gemaak om `n video vir “Vuur en Vlam” te skep. “Ek hou baie van die beelde wat hy in die video gebruik het. Hy het die gevoel van die liedjie perfek vasgevat.”

Die video van “Vuur en Vlam” het op Vrydag 17 April op Burre Burger se Lockdown Liedjies op Facebook gespeel en die video klieks vat nou al behoorlik vlam met reeds `n paar duisend views na die naweek.

Corné het ook onlangs `n liedjie saam met Hunter Kennedy opgeneem. “Ek sal dit oor `n maand of twee as die volgende single uitreik”. “Ek hoop om vorentoe sommer nog baie lekker musiek te maak!” “Vuur en Vlam” is beskikbaar op alle gewilde digitale platforms. https://music.apple.com/za/album/vuur-en-vlam-single/1509619968

Sluit aan by die Gesprek

4 Kommentare

  1. Terug pieng: Halfvol – Roekeloos

Lewer kommentaar

Leave a Reply