Corné Pretorius span kragte met Die Heuwels Fantasties en Ampie op “Biertjies.”
Hy vertel dat dit vir hom gepas was om ‘sommer net `n lekker ligte liedjie’ nou te kon maak. “Daar is tans baie stres in die wêreld; ons kan almal doen met `n bietjie pret en plesier. Al drie my enkelsnitte wat verlede die lig gesien het, was tydens verskillende fases van die grendeltydperk opgeneem en uitgereik. Ek is dankbaar dat dit so goed doen! Dit is nou vir my `n groot eer en next level om Biertjies saam met Die Heuwels en Ampie te kon doen. Ons het `n rukkie terug almal bymekaar gekom by Sunset Recording Studios in Stellenbosch om te ontspan en om die liedjie op te neem. Ons het ons families saamgebring en so tussendeur die opname van die liedjie gebraai en gekuier. Die video van “Biertjies” bestaan uit video opnames van hierdie onvergeetlike dag.”
Hunter Kennedy het die lirieke van hierdie lekker nuwe treffer geskryf. Kennedy sê dat dit moeilik is om in ons hedendaagse omstandighede positief te bly. “Ek dink wel, dit is van kardinale belang dat jy na jou siel probeer kyk. ‘n Goeie manier om dit te doen is om op positiewe ervarings en herinneringe te fokus. Met die skryf van “Biertjies” het ek deur al die donker dinge probeer dink aan ‘n algemene deler wat ‘n ligpunt verteenwoordig. En die ding wat by my gestick het was biertjies om ‘n vuurtjie. Kamp, jag, vakansie, naweke. Woensdae … Samesyn en biertjies en vuurtjies is ietsie wat ek dink ons almal behoort te mag deel.”

Pretorius sê dat hy soms nie kan glo hoe baie daar gebeur het vandat hy sy musiekloopbaan in die middel van die fase 5 grendeltyd in April 2020 afgeskop het nie. “Ek het dele my eerste liedjie “Vuur en Vlam” op my selfoon opgeneem. Toe was dit alles nog net `n droom. Nou minder as `n jaar later het ek reeds 4 liedjies suksesvol uitgereik, `n show saam met Francois van Coke gedoen en daar is ook nog vele ander liedjies waaraan ek werk met ander bekende kunstenaars. Dis ongelooflik! Ek werk met `n fantastiese span en is dankbaar aan die publiek dat hulle aanklank by my musiek vind. Ons gaan vanjaar sommer nog baie lekker musiek maak!”
Luister en laai die Biertjies EP hier af: https://distrokid.com/hyperfollow/cornepretorius/biertjies-ep