Corné Pretorius het die afgelope jaar groot sukses behaal met sy debuut-liedjies “Vuur en Vlam”, “Vergewe My”, “Halfvol” en “Biertjies.” Die liedjie “Halfvol” het, volgens RadioMonitor.com tans `n 60 miljoen luisteraars-telling en die videos van hierdie liedjies het gesamentlik reeds meer as 200 000 klieks op YouTube.
Aanhangers sal bly wees om te hoor dat Pretorius se nuutste enkelsnit “Liefde is `n Werkwoord” op 27 Augustus uitgereik is en dat `n vollengte album op 24 September bekend gestel word. Voorafbestellings vir die album, getiteld, “Halfvol,” kan nou geplaas word.
Pretorius sê dat hy soms nie kan glo hoe baie daar gebeur het vandat hy sy musiekloopbaan in die middel van die fase 5 grendeltyd in April 2020 afgeskop het nie. “Ek moet myself soms knyp om te besef hoe opwindend hierdie eerste jaar in die musiekbedryf vir my was. Ek het liedjies opgeneem met Die Heuwels Fantasties, Hunter Kennedy, Loki Rothman en Margot Rothman en die verhoog gedeel met Francois van Coke, Early B en Jack Parow. Ek werk met `n fantastiese span en is dankbaar aan die publiek dat hulle aanklank by my musiek vind.”
Pretorius het “Liefde is `n Werkwoord” in studio geskryf en opgeneem saam met Hunter Kennedy en Fred den Hartog. Hy vertel: “Ons kom gewoonlik saam en begin dan riffs uitwerk en dan kom die lirieke. Daar is vir my niks wat naby die gevoel van studio-tyd kom nie. Die wêreld staan stil en alles draai om die maak van songs.”
Die video vir “Liefde is `n Werkwoord” is deur Damiane van Reenen in die Kaap in ‘Katinka die Kat’ se woonstel verfilm. Die vervaardiger was Marguerite van Eeden, met die akteurs Jane de Wet en Andhar Cotton.
Hunter Kennedy het agt van die tien liedjies op “Halfvol” geskryf. Kennedy vertel: “Ek is voorgestel aan Corné by Van Coke Studios. Ek het in 2020 baie tyd op my hande gehad en dit was “goeie timing” toe Corné my vra om vir hom liedjies te skryf. Ek moet sê, ek het nie verwag om boonop vriende te raak met Corné en ook nog in sy band te speel nie! Maar dit is presies wat gebeur het. Ons het maar net geclick. Hy het groot geword in dieselfde woonbuurt as ek, so ek dink daar was ’n mikrokultuur as anker vir ons om oor die weg te kom.”
Daar was vier musiek-vervaardigers wat aan liedjies op die album gewerk het: Fred den Hartog, Johnny de Ridder, Richard Onraet en Loki Rothman. Kennedy sê: “Ek dink ons het ’n album gemaak waarop Corné kan trots wees. Hierdie album is nie net ’n kwaliteit debuut nie, maar ek moet byvoeg vir my ’n bewys van die veelsydigheid van ons vriendekring waarvan Corné nou deel is. Almal wat aan die album gewerk het, het `n belangrike bydrae gelewer. Aan die begin het ek gedink ons moet dit cool genoeg maak vir Pierre Greeff om as produksie-bestuurder aan boord te klim en hy het! Dis nie maklik om ’n musiek loopbaan te loods in ’n grendel- tydperk nie. Ek dink Corné is nogal lucky om so `n formidabele span agter hom te hê. Dit is nie sommer vir enige iemand bestem nie, maar hy het self ook hard gewerk om dit te kan laat gebeur. Die resultaat is een amazing album.”
Snitte op die album:
1. Halfvol
2. Liefde is `n Werkwoord – met Hunter Kennedy
3. Werk toe en Terug – met Loki Rothman
4. Vergewe My
5. Vuur en Vlam
6. Skree
7. Ek wil Glo
8. Tyd hardloop uit – met Hunter Kennedy
9. Biertjies – met Die Heuwels Fantasties en Ampie
10. Sal dit jou gelukkig maak – met Margot Rothman