Die sanger Corné Pretorius het die afgelope paar maande vele aanhangers gewerf met sy debuut-liedjies “Vuur en Vlam” en “Vergewe My” – dié twee radiotreffers speel tans op radiostasies landwyd.

Pretorius het pas `n video vir sy derde enkelsnit getiteld “Halfvol” uitgereik. Hy sê oor die skryf van die lied en maak van die video: “Dié song het ek, Francois van Coke en Richard Onraet in Van Coke Studios gesit en skryf.  Ons wou graag iets skep wat ons opgewonde maak oor die somer wat voorlê. Ons wou sommer lekker losmaak na ’n baie moeilike jaar vir ons almal. Ek hoop dit gaan mense excited maak om hulle visplakkies uit te haal, die drankies yskoud te kry en lekker saam te kuier!”

Corné Pretorius het reeds op 7-jarige ouderdom begin kitaar speel. Sy pa het vir hom ’n verhoog in die motorhuis gebou en hy het baie van sy kinderjare daar spandeer om musiek te maak. Corné vertel dat alhoewel hy `n groot belangstelling in kitare ontwikkel het, en heelwat indrukwekkende kitare besit, het sy fokus later na sang geskuif. “Na skool het ek egter op besigheid begin konsentreer. Die lewe het sy gang gegaan en ek is in 2007 getroud en is die pa van drie pragtige dogters. Ek het musiek vir jare heeltemal opsygeskuif, maar die liefde daarvoor het my onlangs ingehaal. Ek het aan die begin van die jaar met Van Coke Studios kontak gemaak en skryf en neem tans al my liedjies daar op.  Francois van Coke en Hunter Kennedy skryf meeste van die onderskeidelike liedjies se lirieke en Richard Onraet, die musiek.  Pretorius sê: “Daar is vir my `n lekker sinergie met Francois, Hunter en Richard. Hulle is ongelooflike talentvolle mense. Ek is baie gelukkig om saam met hulle te kan werk.”

Pretorius het met Johan Nel, wat destyds heelwat van Fokofpolisiekar se videos vervaardig het, kontak gemaak om videos vir al drie die liedjies wat to dusvêr uitgereik is te maak. Hy sê: “Johan weet hoe om `n storie met video te vertel. Hy is so in tune met wat die waaroor die liedjies gaan.”

Corné Pretorius

Lewer kommentaar

Leave a Reply