EET KREEF! HERLEEF! is ’n produksie wat nuwe lewe gee aan die ikoniese album wat in 1989 uitgereik is deur Johannes Kerkorrel en Die Gereformeerde Blues Band. In die hedendaagse weergawe laat die musiek die kranse antwoord gee in ’n moderne herinterpretasie van hierdie satiriese, dog salwende musikale meesterstuk.
Frank Freeman verduidelik hoe die idee van EET KREEF HERLEEF! onstaan het: “Ek het verlede jaar Johannes Kerkorrel se musiek herontdek en het gedink oor hoe relevant dit nou nog klink. Ek wou die geskiedenis van alternatiewe Afrikaanse musiek en kultuur in ’n nuwe produksie sit en in ’n manier die verlede en die hede bymekaar bring.”
Voorsanger Laudo Liebenberg, oor hoe hy voel om in iemand soos Kerkorrel se skoene te staan: “Ek dink dit is ’n groot uitdaging om ’n projek soos dié aan te pak omdat dit so uniek is en baie na aan mense se harte lê. Ons het van die begin af gesê dat dit ’n verwerking moet wees en nie ’n tribute show nie. Sit jou eie stempel op, wees eerlik en respekvol teenoor die songs is my mantra vir hierdie album en vertonings.”
Freeman sê dat dit vir hom voel asof van die beste musikale oomblikke tussen band-lede gebeur wanneer hulle saam vir ’n optrede repeteer. Hy vertel: “Dis wat die EET KREEF! KKNK Mothership-sessie vir my spesiaal gemaak het. Dit was ’n lekker ontspanne atmosfeer, amper soos om net saam met mekaar te wees, net met uitstekende technici. Almal staan in ’n sirkel naby aan mekaar en speel hierdie musiek wat nou al deel geword het van ons as ’n groep. Ons het dit ook opgeneem met die onsekerheid of ons dit weer iewers gaan uitvoer. Dit het so bietjie van ’n ekstra element van emosie gegee. Dis spesiale musiek gespeel deur ’n spesiale groep musikante. Ons saal dalk moontlik vir ’n laaste keer hierdie Rock `n Roll-ossewa op. Dit kan nie meer intiem wees nie.”
Jannie Hanepoot van Tonder, van die Gereformeerde Blues Band het na die album-weergawe van EET KREEF HERLEEF! geluister en laat weet: “Dis uitstekende renditions, almal top musikante wat great performances lewer. Ek hou meeste van die songs wat julle jul eie gemaak het, bv. Ry is baie cool, dalk beter as die original.”
EET KREEF HERLEEF! het vroeg in 2020 ’n Fiësta-toekenning verower vir die Beste musiekgedrewe produksie – podium. Moenie hierdie uitstekende konsert misloop nie!
Kry jou kaartjie by WEBTICKETS. Dié musieksessie sal vanaf Donderdag 24 September om 20:00 beskikbaar wees om te kyk tot Sondag 4 Oktober.
HOE OM DIE VERTONING TE KYK: (Twee maklike stappe!)
Jy koop ’n kaartjie presies soos wat mens ’n kaartjie vir ’n gewone konsert sou koop by WEBTICKETS. *Jy moet ’n profiel skep, en jou kontakbesonderhede invul. Op die aand van die vertoning, skakel jy weer in op WEBTICKETS, gaan na My Account, en kliek dan op My Tickets. Hier sal ’n skakel wees wat 20:00 live gaan. Kliek dan op die skakel – die player sal outomaties oopmaak en jy kan die vertoning kyk.