Die immergewilde Janie Bay het pas `n video vir die tweede enkelsnit vanaf haar album Prisma uitgereik. Die liedjie ‘Kalmeer’ gaan oor die onvoorspelbare wêreld waarin ons tans leef. Bay vertel: “Ek voel dat ons almal bietjie kalmer waters nodig het. Dinge beweeg vreeslik vinnig deesdae en dit voel asof daar tans so baie onverwagte dinge oor ons almal se pad kom. Dit is tans moeilik vir die mensdom om psigologies en emosioneel sin te kan maak van wat alles gebeur.”
Re die konsep vir die video vir ‘Kalmeer’, verduidelik Bay: “Niemand is altyd op hul beste nie. Met die maak van die video wou sy en regisseur Damiane van Reenen werk met beelde wat die psige van `n diep onrustigheid voorstel. Depressie, angs, moedeloosheid, vrees ensovoorts. Dit gee die gevoel van daardie moeilike tye uit wanneer ons in onvaste oomblikke nie die antwoorde het hoe om dinge beter te kan maak nie. Bay sê dat sy dit geniet om met Van Reenen te werk. “Hy het `n skerp, innoverende oog.” Die res van die span op stel, Marguerite van Eeden (produksie-assistent) en Ibby Bukuru en Deon Dee (Beligting) het dit alles `n baie goeie ervaring gemaak. Ek hoop dat mense van die video sal hou!”
Janie Bay se Afrikaanse album, Prisma, waarop Kalmeer verskyn, is in Junie vanjaar uitgereik. Die eerste enkelsnit vanaf die album ‘My Lief‘ wat Bay saam met Majozi en Early B opgeneem het het groot sukses op radio behaal, onder andere die nommer 1 posisies of Jacarandafm se SA Top 20 en dié stasie internasionale CTM Top 20. My Lief was ook nommer 1 op Radio Helderberg se SA Top 10 en het verskeie ander Top 20 posisies landwyd gehaal.
Die album is ‘n samevloei van liedjies wat geskryf is tussen 2019 en vroeg-2021. Met persoonlike temas soos familie, die liefde, passie, verlies en aanmoediging as hoeksteen, is dit ‘n meesterlike smeltkroes van uiteenlopende musikale teksture wat wye draaie gooi tussen lieflike ballades en ligte pop-musiek, asook ‘n goeie dosis elektroniese adrenalien.
Janie Bay het in 2017 as SAMA-genomineerde kunstenaar en internasionale pryswenner aangesluit by Warner Music South Africa. Haar musiek is al meer as 6 miljoen keer gestroom en volgens RadioMonitor.com het haar Afrikaanse enkelsnitte die afgelope twee jaar meer as 100 miljoen luister-trefslae gehaal.
Prisma is beskikbaar op alle gewilde digitale platforms: https://WarnerMusicSA.lnk.to/Prisma
Snitte op die album
1. My Lief (saam met Majozi & Early B)
2. Babylon
3. Kalmeer
4. Tevrede? (Fokofpolisiekar eie-weergawe)
5. Ek Glo Nog In Jou (saam met Danie Reënwolf)
6. Lewens 7. Sweef
