Janie Bay en Danie Reënwolf span kragte saam in ’n nuwe enkelsnit- uitreiking, “Ek glo nog in jou.

Bay wou nog altyd saam met Danie Reënwolf werk en het die idee van die lied met hom bespreek.  Bay vertel: “Ons het aan die begin van die jaar by ’n braai gesels oor die moontlikheid om iets saam te doen, maar met ons besige skedules en lockdown was ons nie seker of dit hierdie jaar sou kon gebeur nie. Ek het dadelik geweet toe die idee van “Ek glo nog in jou” begin vorm het, dat dit die regte een is om saam met Danie aan te pak.  Ek het weer met Danie begin gesels en ons het hier en daar daar tyd gemaak om die liedjie te begin skryf. Ek het een dag op pad Paarl toe die koor sommer so spontaan in die kar aanmekaar gesit.  Soos ek en Danie toe aanhou skryf het, het dit alles saamgekom as ’n baie poëtiese, maar ook egte liefdeslied wat meestal daaroor gaan om regtig daar te wees vir iemand in ’n verhouding en om te kan staat maak op mekaar, no matter what.”

Danie Reënwolf se gevoel is wedersyds. “Dis vir my net so `n voorreg om saam met Janie te kon werk. Dit was ’n lekker song om te kon skryf. Janie het ’n ongelooflike talent om van ’n eenvoudige lied, iets baie besonders te maak. Dit was baie pret en ek dink ons het nogal iets spesiaal hiermee gedoen.”

Die video van “Ek glo nog in Jou” is by `n vriendin se huis in Stellenbosch verfilm. Bay het die treffende konsep uitgedink en het ook die regie behartig: “Ek geniet dit, ek is mal oor die filmwêreld. Ek het aanvanklik nie gedink dat ’n video betyds opgeneem sou kon word met ons tydlyn nie. Dit was voor die hand liggend dat ’n eenvoudige storielyn met `n gemaklike, rou emosionele konsep die beste sou kon werk. Vandaar kon ons vinnig reëlings tref en ek dink die video het wonderlik uitgedraai. Dit is presies wat ons wou hê met betrekking tot die gevoel van die liedjie.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply