Die gier wat soos ‘n onaardige swaminfeksie vanaf Noord-Oos Engeland oor die wêreld versprei het, het ook nou sy hoogsaansteeklike kop uitgesteek in (die) Parow (in).
En dit onder ‘n groep opgevoede, relatief ordentlike, Afrikaanssprekende veertigjariges met tuine en SAB-aandele!
‘n Vinnige Google-soektog het geen Afrikaanse vertalings vir hierdie bizarre aktiwiteit, in Engels bekend as “planking”, opgelewer nie. Ons vertrou egter dat verveelde Giepie van Grootbrak en bemoeisieke Rita van Riviersonderend binnekort sal inbel na Radio Sonder Mense met voorstelle in die hoop om beroemdheid te verwerf as die persoon wat vorendag gekom het met ‘n Afrikaanse woord vir dié verskynsel wat reeds ‘n lewe in Brisbane en ‘n paar reputasies in die noordelike voorstede van Kaapstad geëis het.
Planklê is ‘n aktiwiteit – verkieslik maar onwaarskynlik beoefen in ‘n sober toestand – waar mens horisontaal, met hande styf langs die sye en gesig afwaarts op ongewone en onmoontlike plekke lê terwyl ‘n foto van die pellawa geneem en later die kuberruim ingestuur word. Bogenoemde eenvoudige beskrywing mag die indruk skep dat planklê maklik, veilig en skadeloos is.
Ek voel dus genoop om ‘n ernstige waarskuwing te rig aan diegene wat onder hierdie wanindruk verkeer. Die aktiwiteit per se is seker niks meer gevaarlik as om ‘n Komodo-draak te borsvoed of seks sonder ‘n kondoom op ‘n sypaadjie in Langstraat nie. Premies verhoog egter wanneer lede van die produksiespan se grootheidswaan hulle laat glo dat natuurwette soos “materie beslaan ruimte” en “voorwerpe val” versinsels van fisici met Asperger se Sindroom is wat bloot daarop uit is om andere goedaangepaste individue se pret te bederf en dus geïgnoreer kan word gedurende die beplanningsfase van die planklêformasies.
Indien die aktiwiteit egter met die nodige omsigtigheid en respek aangepak word, is dit ‘n bevrydende belewenis waar uitdrukking gegee kan word aan onderdrukte kreatiwiteit en ekshibisionisme. Dit skep ‘n gevoel van samehorigheid onder deelnemers en is ‘n uitstekende alternatief vir ‘n sleutelpartytjie op Senekal.

Volgens Wikipedia is die publikasie van die foto’s ‘n integrale deel van die aktiwiteit en sonder verdere versuim heg ek dus die eerste beeldmateriaal van Planklê in die Parow aan.









