Die dinamiese, nuwe Suzuki Alto is ’n doeltreffende, ekonomiese stadspendelaar met al die verwagte sleutelkenmerke: suinige brandstofverbruik, lae loopkoste, en indrukwekkend lae CO2-uitlaatgasvlakke.
Ondanks sy kleinmotorstatus, en die sterk klem op omgewingsvriendelikheid, bied die Alto egter steeds ’n bevredigende bestuurservaring, en sorg daarmee dat hy Suzuki se ‘Way of Life!’-leuse behoortlik gestand doen.
Suzuki se kleinste modelreeks word aangedryf deur ’n indrukwekkende driesilinder-kragbon van 1,0 liter wat geheel van aluminium vervaardig word. Die enjin is met meerpunt-brandstofinspuiting en ’n twaalfklep-silinderkop toegerus.
Dit sorg dat die nuweling ook met opgewekte werkverrigting spog, wat deur die kenmerkende diep, gretige brul van die driesilinder-kragbron benadruk word – en dit terwyl brandstofverbruik laag genoeg bly om steeds die begroting te laat klop.
Hoewel die Europese Alto se enjin aan die jongste Euro 5-uitlaatgasvereistes voldoen, is daar spesifiek besluit om ’n Euro 3-weergawe van die kragbron vir Suid-Afrikaanse gebruik aan te vra, omdat dit meer geskik is vir plaaslike rytoestande.
Onder die sleutelfaktore wat dié besluit beïnvloed het, was die relatief laer gehalte van die plaaslike loodvrye brandstof, asook die unieke bedryfs-omstandighede wat as gevolg van die hoë hoogtes bo seespieël aan die Rand ervaar word – waar die meerderheid motors in SA benut word.
Dus plaas die Alto in SA die klem op bestuurbaarheid en langpadvermoë. Die eindaandrywing is daarom ook met ’n korter ratverhouding toegerus om verrigting en ratsheid in alle ry-omstandighede te bevorder.
Die lewendige enjin se maksimum-kraglewering beloop 50 kW by 6 000 r/min, terwyl die wringkragpiek van 87 Nm by 4 500 r/min bereik word. Die kragbron word aan ’n vyfgang-handratkas gekoppel, wat sorg dat die klein Alto in 16,0 sekondes van rus tot 100 km/h versnel, en ’n topsnelheid van 145 km/h behaal.
Een van die Alto se verrigtingshoogtepunte is egter sy uitstekende brandstofverbruik. Met ’n massa van net 895 kg is dit glad nie verbasend dat die Alto besonder suinig met brandstof omgaan nie.
Die verbruiksyfer vir die gekombineerde siklus kom op 5,7 liter/100 km te staan. In stadsverkeer kan Alto-eienaars ’n syfer van 6,9 liter/100 km verwag, maar op die oop pad daal die verbruik tot ’n indrukwekkende 5,0 liter/100 km.
Dit beteken dat die Alto se brandstoftenk van 35 liter vir ’n reikafstand van tot
700 km kan sorg. Boonop behaal die Alto ’n omgewingsvriendelike CO2-uitlaatgassyfer van net 133 g/km.
Veringstelsel
Soos ’n mens van ’n dinamiese fabrikaat soos Suzuki sou verwag, bied die Alto ’n ongewoon bevredigende bestuurservaring, veral vir ’n motor in die intreevlakklas.
Die veringstelsel is op Europese paaie ontwikkel en getoets, wat sorg dat die motor lekker bestuur. Dit gaan gepaard met liniêre reaksies, geleidelike bakrolbewegings, ’n ligte stuurgevoel danksy die kraghulp, en ’n vermoë om stampe en vibrasies doeltreffend te demp.
Die voorste vering benut MacPherson-veerstutte met gasgevulde dempers, terwyl die groot, sterk veringraam aangevul word deur versterkte stutmonteerpunte om die hantering verder te verbeter.
Die voorste teenkantelstaaf is ter wille van optimale werking regstreeks aan die stutbene gekoppel, wat ook goeie hantering en ritgerief in die hand werk. Die stelsel is besonder stram, wat sorg dat vibrasie en geraasvlakke in die kajuit doeltreffend aangespreek word.
Die Alto is agter met Suzuki se eie drieskakel-as toegerus, wat met verskeie kenmerke spog om beter beheer, vinniger reaksies en stabiliteit by hoë snelhede te behaal. Daaronder tel versterkte monteerpunte vir die sleeparms en systawe, wat met ’n optimale aanvalshoek gepaard gaan.
Ratse padgedrag is nog ’n kenmerk van die Alto, veral omdat die motor se kompakte afmetings die draaisirkel tot net 9,0 meter beperk. Saam met die ligte stuuraksie beteken dit dat die klein Suzuki stadsverkeer en parkering maklik baasraak.
