Skaars 12 maande nadat Suzuki Auto SA plaaslik begin sake doen het, het die maatskappy reeds ’n sterk naam vir uitsonderlike waarde opgebou. Die aankoms van die nuwe Suzuki Alto skep ’n nuwe maatstaf vir klein motors in die A-segment.
Hoewel die Alto duidelik op die sakpassektor van die mark gemik is, bied die nuweling steeds ’n indrukwekkende vlak van standaardtoerusting. Dié kenmerke dra nie net tot gemak en gerief by nie, maar verhoog ook die veiligheid van die insittendes.
Die reeks van twee modelle het afsonderlike teikenmarkte. Die GL is volmaak geplaas om te voldoen aan die behoeftes van diegene wat ’n stadsmotor met hedendaagse, hoë vlakke van veiligheid, brandstofdoeltreffendheid en beweegbaarheid benodig, maar ook uitsonderlike algehele waarde bied.
Die meer volledig toegeruste GLS-weergawe volg ’n soortgelyke resep, maar word onderskei deur ’n rits bykomende kenmerke wat die vlakke van weelde, gerief en estetiese ontwerp aansienlik verhoog, en daarmee die Alto as ’n gesofistikeerde pasangee-stadsmotor bevestig.
Die GLS is dus die volmaakte keuse vir kieskeurige kopers wat aandring op ’n volledig toegeruste motor wat ook lekker is om te bestuur. Daarby voldoen die motor aan die hoogste verwagtinge wat suinige brandstofverbruik en omgewingsbewustheid betref, en bied boonop uitstekende waarde.
Alto GL
Ondanks die Alto GL se intreevlakstatus, bied dié kleinding ’n indrukwekkende vlak van standaardtoerusting. Wat veiligheid betref, is die teenwoordigheid van twee lugsakke voor boonop ’n waardevolle bykomstigheid wat lewens kan red.
Die lugsakke word aangevul deur sy-impakwerende balke in die deure, asook voorste sitplekgordels met voorspanners en lasbeperkers. Twee ISOFIX-ankerpunte met boonste hegpunte vir kinderstoele word agter voorsien.
Ter wille van beter voertuigsekerheid kry die Alto ’n fabrieksgepaste immobiliseerder, terwyl die VIN-nommer vir maklike uitkenning duidelik
sigbaar is.
Elektriese kragstuur is standaard, wat saam met die motor se kort draaisirkel van net 9,0 meter vir uitstekende beweegbaarheid en ratsheid sorg.
Lugreëling met ’n ingeboude stuifmeelfilter is ’n welkome bykomstigheid, veral aangesien dit in hierdie pryssensitiewe marksegment eerder die uitsondering as die reël is.
Daarbenewens word die GL met ’n vooraf geïnstalleerde, dakgemonteerde lugdraad voorsien, wat die naverkope-installering van ’n CD-instemmer makliker maak.
Tweespoed-ruitveërs met ’n intervalfunksie is standaard, asook ’n ruitveestelsel met was- en ontwasemfunksies vir die agterruit. ’n Syferhorlosie, kantspieëls wat van binne verstel kan word, en ’n afstandbeheerde brandstof-hervulluik is ook by die pakket ingesluit.
Die staalwiele van 14 duim (en die volgrootte noodwiel) is met 155/65 R14-bande geskoei en met volledige wieldoppe toegerus. Getinte ruite en halogeen-kopligte is standaardtoerusting.
Wat praktiese kenmerke betref, spog die Alto GL met ’n 12V-hulpkragpunt, ’n eenstuk-agtersitplek met ’n rugleuning wat platgevou kan word, ’n groot aantal bergruimtes, en bekerhouers voor en agter.
Alto GLS
Die Alto GLS onderstreep sy deftiger status met ’n rits bykomende, aantreklike buitekenmerke. Daaronder tel allooiwiele van 14 duim, misligte voor, en kleurbypassende deurhandvatsels en kantspieëls.
Gerieflike toegang tot die motor word deur die afstandbeheerde sentrale sluitstelsel bewerkstellig, terwyl die lys binnekenmerke ook uitgebrei word. Dit sluit ’n kantelverstelbare stuurwiel, elektriese beheer van die kantruite voor, en ’n toereteller in, asook ’n agtersitplek met rugleuning wat 50:50 verdeel is en afsonderlik platgevou kan word.
’n Volledig toegeruste klankstelsel is standaard, en bied onder meer ’n CD-instemmer wat MP3-musieklêers kan speel, en ook FM- en AM-radiosenders ontvang. Die stelsel spog met ses luidsprekers wat in die voorste en agterste deurpanele, en in die instrumentepaneel, gemonteer is.
Ter wille van gerief kan die brandstof-hervulluik en die luikrugdeur van binne oopgemaak word.
Die Alto se lys aktiewe veiligheidskenmerke word verder aangevul met die pas van ABS-sluitweerremme as standaardtoerusting. Dié remstelsel bied boonop elektroniese remkragverspreiding en noodrembystand.
Die Alto GL en GLS-modelle kos R104 900 en R119 900 onderskeidelik, en word deur ’n waarborg van drie jaar/100 000 km ondersteun.
