Suzuki Alto – Veilig en seker, selfs op intreevlak

Kopers aan die bekostigbare punt van die mark moet gewoonlik sonder die meeste moderne veiligheidskenmerke klaarkom – maar dit is beslis nie die geval wat Suzuki se vernuftige nuwe Alto betref nie.

Indien ’n ongeluk sou plaasvind, maak die Alto staat op Suzuki se sogenaamde Algeheel Effektiewe Beheer-Tegnologie. Dié konsep bestaan uit frommelbare strukture wat die botsingsenergie absorbeer, raambene wat die energie van die insittendes wegvoer, en ’n sterk kajuitstruktuur.

Ondanks sy bekostigbaarheid bied die intreevlak-Alto steeds die belangrikste veiligheidskenmerke.

Selfs die Alto GL bied twee lugsakke voor as standaardtoerusting, wat in hierdie pryskategorie as uitsonderlik beskou kan word. Die lugsakke word voor deur driepunt-sitplekgordels met voorspanners en lasbeperkers bygestaan.

Die voorspanners sorg dat die sitplekgordels omtrent onmiddellik vastrek wanneer ’n botsing van voor plaasvind, om sodoende die insittendes so doeltreffend moontlik vas te gord.

Die lasbeperkers ontspan daarna die gordels geleidelik om die drukking op die borskaste van die insittendes te beperk.

Omdat die Alto spesifiek ook op gesinne gemik is, bied die Alto twee ISOFIX-monteerpunte vir kindersitplekke agter, wat met boonste hegpunte toegerus is. Kinderslotte vir die deure is ook standaard.

Sy-impakwerende balke is in die voor- en agterdeure ingebou, en werk saam met energie-absorberende afwerkings op die pilare om verdere beskerming teen kopbeserings te bied.

Wat aktiewe veiligheid betref, maak die junior-Suzuki op groot, geventileerde skyfremme voor, en remtrommels agter staat.

Die GLS-weergawe spog bykomend met vierkanaal-ABS-sluitweerremme, wat met elektroniese remkragverspreiding en noodrembystand toegerus is, en dus betroubare noodremverrigting waarborg.

As een van net ’n handvol motors wat reeds aan die jongste 2009 Euro NCAP-veiligheidstoetse onderwerp is, het die Alto ’n algehele telling van drie sterre behaal.

Dit is egter belangrik om kennis te neem dat die nuwe toetsprosedure aansienlik strenger is as die stelsel wat voorheen toegepas is, en dat die Alto dus betreklik goed gevaar het, veral as sy intreevlakstatus in ag geneem word.

Die meeste van die Alto se regstreekse mededingers is onder die vorige Euro NCAP-toetsstelsel geevalueer, wat direkte vergelykings moeilik maak.

Om die Alto teen diefstal te beskerm, sluit die Alto se lys kenmerke ’n geïntegreerde, fabrieksgemonteerde immobiliseerder in, terwyl die voertuig se VIN-nommer ook duidelik sigbaar is om uitkenning te vergemaklik.

Die Alto GLS is ook ter wille van maksimum sekerheid en gerief met ’n afstandbeheerde sentrale sluitstelsel toegerus.

Lewer kommentaar

Leave a Reply