Die Klas P-brigade het die stryd gewen, maar die Klas A-deelnemers, Kallie en Quintin Sullwald, het die Spesiale Voertuig-oorlog na ‘n dramatiese RFS Magalies 400, die laaste byeenkoms van die Absa-Veldrenkampioenskap wat by die Tarlton International Raceway aangebied is, gewen.
Geskiedenis is egter gemaak toe nie minder nie as drie Klas P-voertuie die eerste drie plekke ná die ren, wat met drama gevul was, ingepalm het. Archie Rutherford en Mike Lawrenson (Regent Racing Jimco) het ‘n perfekte naweek afgerond toe hulle voor Mark Corbett en Rudi Balzer (Century Racing CR2) en Johan van Staden en James Rossouw (Atlas Copco BAT) klaargemaak het met drie Klas P-voertuie wat vir die eerste keer in die geskiedenis van die Absa-reeks op die podium geëindig het.
Die Klas P-oorheersing het die aandag van die Sullwald-pa- en -seun-span afgelei wat die Spesiale Voertuig- en Klas A-kampioenskappe ingepalm het. Die Sullwalds het die naweek met ses punte agter die kampioenskapvoorlopers, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau, aangepak en ‘n sewende plek algeheel was genoeg om beide titels op te raap.
Die situasie voor in die veld en die kampioenskapstryd het ook die aandag afgelei van ‘n uitstekende vertoning wat deur die veterane, Keith du Toit en Ashley Thorn (White Star Racing BAT) gelewer is wat vierde algeheel geëindig het en Klas A gewen het. Die Lesotho-gebaseerde Thorn is ‘n voormalige nasionale kampioen, maar vir die Botswana-jaer (Du Toit) was dit ‘n eerste nasionale sege.
Guy Henley en Warwick Goosen (Century Racing BAT) en Hick Harper en Kevin Hume (Atlas Copco BAT) was onderskeidelik tweede en derde in Klas A.
Variawa en Rousseau moes die stryd tydens die eerste van die twee sirkelroetes waaruit die ren bestaan het, gewonne gee toe veringstelselskade hulle gekniehalter het. Die Sullwalds se interkom het tydens die tweede sirkelroete die gees gegee en hulle het ook tyd as gevolg van ‘n pap band verloor.
“Om nie verbaal te kan kommunikeer nie, het dit moeilik gemaak om op die pas te bly,” het Sullwald senior gesê. “Ons het boonop ook tyd met die pap band verloor en ons het toe besluit om dit rustig te vat en die kampioenskap te verseker.”
Die Sullwalds en Variawa/Rousseau se hoop op ‘n algehele rensege het tydens die Donaldson-voorren, wat die wegspringvolgorde bepaal, verdwyn. Dié twee spanne was deel van ‘n string spanne wat probleme op ‘n nat roete ondervind het en hulle het onderskeidelik 39ste en 37ste weggespring.
Rutherford en Lawrenson was die verrassende voorrenwenners en het dit opgevolg deur ‘n perfekte ren te voltooi. Dié paar het nie een keer uit hul voertuig geklim nie en dit was die wenresep vir ‘n ren van meer as 340 kilometer.
Corbett en Balzer se eerste lopie was probleemvry, maar ‘n skokbrekerprobleem het hulle tydens die tweede sirkelroete teruggehou en hulle het mettertyd verder agter die renvoorlopers geraak. Dit het ook beteken dat Van Staden en Rossouw, wat vroeër die seisoen geskiedenis gemaak het toe hulle die eerste Klas P-span geword het om ‘n Absa-nasionale byeenkoms algeheel te wen, hulle ingehaal het.
Die derde plek het die Klas P-algehele kampioenskap vir Van Staden en Rossouw verseker. Volgens voorlopige berekenings het die Pretoria-span ook derde in die algehele kampioenskap geëindig.
Die Klas B-loure het aan die veteraan, Coetzee Labuscagne en sy dogter, Sandra, in die Raysonics-Zarco gegaan. Hulle was bykans ‘n uur in dié familiestryd voor die jaerskampioen, Bes Bezuidenhout en sy seun Etienne, wat ‘n siekerige Adenco BAT versigtig by die einde uitgebring het.
Die eerste byeenkoms van volgende jaar se kampioenskap is die Adenco 400 wat einde Maart in die Wes-Kaap plaasvind.
bydrae: Charmaine Fortune
