Metro Treindienste noem hulle hulself. Treinnagmerrie is dalk nader aan die waarheid na een van Spoornet se drieweeklikse klopjagte op hul treine.
Die vraag ontstaan natuurlik dadelik hoekom hulle op so ´n gereelde basis so iets moet doen. Sou dit nie goedkoper gewees het om maatreëls daar te stel om roofryery te beperk nie. Dit is egter hul werkswyse wat ons hier van nader bekyk en nie die beleid nie.
Eerstens val dit jou op dat almal voor die voet van die trein verwyder word sonder enige begrip vir die feit dat die klein stasie waar jy opgeklim het se kaartjieskantoor se tye so wisselvallig is soos Monica Lewinsky se getuienis en bo en behalwe dat dit nie eers daardie dag oop is nie. Aan die buitekant word die handjievol eersteklas passasiers met koerante in hul hand en slaap in hul oë gekonfronteer deur ´n menslike ketting van gekontrakteerde Sechaba Sekuriteit wat duidelik te veel polisievideo’s uit die apartheidsera gekyk het. Daar is geen kans om jou motorbestuurder te bel om jou te kom oppik om maar die verkeer aan te durf nie, want jy is op ´n stasie sonder naam buite loopafstand van enige bekende paaie. Die beste vergelyking sou seker wees van ´n klompie Jode wat wag vir hul vervoer na Nürenberg.
Die trein vertrek sonder jou en jy word gedwing om ´n boete te betaal. Die Metrorail-beampte in beheer, Michael (wil nie sy van bekend gemaak hê nie), sê jou kaartjieskantoor was oop en stel nie belang in enige ander verduideliking nie. Later raak hy in ´n stryery betrokke met een van sy eie kollegas wat met hom verskil oor die dae waarop jou stasie nou eintlik oop is. Dis eers ´n halfuur later dat die paar van julle ´n derdeklastrein (hoekom moes ons betaal vir eersteklas) geprop word en na jul bestemming vervoer word.
Afgesien van die boete wat jy betaal het en jou diens wat jy betaal het, wat nie volledig gelewer is nie, wie betaal vir jou tyd wat gemors is? Wat my prikkel is wat het geword van die wat nie hul boetes kon betaal nie. Gaskamers dalk? By Metro se kantore was die eerste reaksie die van skouers wat opgetrek word en niemand by Sechaba was beskikbaar vir kommentaar nie.
