Stories van Malles: Uitheemse Sameswering, Deel 2

Die dokument
Nadat Malles twee uur by Rene dweurgebring het, is hy oppad kantoor toe. Hy moet amper vir X gaan haal. Rene was hartseer, maar tog voel dit vir Malles of daar iets afwesig was, daardie ietsie ekstra hartseer as iemand oorlede is wat deel was van jou lewe. Immers was Rene en Deon tog amper ‘n jaar saam gewees! Miskien is dit maar net soos sy dit hanteer en miskien is Malles se oordeel bietjie vervaag met die warboel gebeure. Hoe ookal, Malles moet nie nou kop verloor nie en maar sterk staan, vir hom en vir Rene.


By die lughawe aangekom is Malles bietjie vroeg en besluit om ‘n koffie te gaan drink, sommer by die Wimpy. Terwyl hy wag rook hy solank, want hy mag nie in die Benz rook nie, omdat X, ook ‘n roker, ook nie in die Benz rook nie. X sê hy hou nie van die stank wat agterbly nie. “Mal hond se gil”, dink Malles by homself, “’n roker wie sê die stank bly agter? Wat ookal jou hare terugblaas, né!” Soos die kelner aankom met die koffie merk Malles ‘n man op wat so vyf tafeltjies van hom af sit en kort-kort so ‘n loer gooi na Malles se kant toe. Dit sou Malles nie normaalweg gepla het nie, maar die ou lyk vir hom so bietjie verdag met die pikante Champs hoedjie uit die 50’s. Malles herken die hoedjie want sy oupa het altyd so een gedra, netso ‘n gryserige swart ene. Nadat Malles die eerste sluk van sy koffie gevat het, merk hy die ou is weg. Seker maar net ‘n ou, dink Malles.

Met ‘n beskeie “Middag X” neem Malles die tassie by X en hul stap in stilte na die Benz. X lyk maar bietjie moegerig, seker die vlug en alles. So halfpad oppad terug praat X uit die bloute,
Mnr X: “Hoe was jou Sondag?”
Malles: “Rustig dankie Meneer, en self?”
Mnr X: “Maar besig gewees. Niks snaaks gebeur nie?”
Malles skrik effens, wat bedoel hy nou darmee? Ek kan hom tog definitief nie vertel van Deon nie? Hy het mos niks daarmee te doen nie? En na ‘n snaakse kort pouse antwoord Malles so normaal as moontlik: “Nee Mnr, niks snaaks nie.”

By X se huis sê X vir Malles om teen vanaand 18H00 by die Kop te wees en ook dat vanaand daar oorgeslaap sal word. Malles het al geleer om nie vra te vra nie en beaam die opdrag terwyl hy in die Toyota klim en groet. So in die ry na Malles se blyplek dink hy diep oor alles. “En nou juis vanaand die Kop?”
Malles was eenkeer tevore daar vir ‘n funksie, maar ‘n oorslaap? Die plek is so ‘n ent buite die stad op ‘n koppie, vandaan die naam die Kop en dit word sovér Malles weet net deur die weermag gebruik, ook net die spesifieke afdeling.

So ‘n halfuur voor die tyd is Malles by die Kop en verneem by ontvangs dat hy in huis Bravo tuisgaan. Die huis het vier kamers, maar dit lyk vir Malles of hy alleen daar gaan wees, want net een kamer se deur staan oop, die ander is gesluit. “Wel” dink Malles, “dit pas my eintlik mooi.” Die kamer is baie netjies met nogals marmer in die badkamers en ook ‘n kleurtelevisie in die kamer.

Nadat Malles die kamer ingeneem het gaan stap hy buite en rook. Die plek is eintlik baie mooi met groot bome en netjiese tuine, eg militér. Terwyl hy oorstap na die hoof huis begin daar ander motors arriveer. Die eerste een herken Malles nie, die tweede een is X en dan nog ‘n paar vreemdes. Malles staan maar so eenkant en rook toe maar nog ene soos die mense uitklim en die hoof huis binnegaan. Na so 10 minute kom X uit en roep Malles nader.
Mnr X: “Malles, hier is ‘n paar rand. Gaan kry vir jou ‘n video of twee en iets om te eet, die kok kom eers later. Jy moet asseblief wakker bly vanaand want netso voor middernag moet jy vir my môre se koerante gaan kry.”
Malles: “Goed Meneer, ek maak so.”

Om 11H20 die aand stap Malles oor na die hoof huis om te hoor watter koerante X verlang en vind almal in die konferensiekamer. Seker so 15 mense om die tafel. X, Chappy, en nog so een of twee wat Malles herken, maar die res is vreemd.
Malles: “Verskoon my Mnr X, ek wil net hoor watter koerante soek Meneer?”
Mnr X: “Almal wat jy kan kry, dankie Malles.”
Malles groet en draai om.
Mnr X: “Hmm, o en Malles, vat advokaat J se motor. Hy het die bakkie gister gekry en is nog vreemd op straat.”
Advokaat J: “Ja, die sleutels is binne die bakkie.”
Malles: “Goed Meneer.”

Naby die plek in Sunnyside waar Malles môre se koerante kan kry, hou hy stil aan die oorkant van die pad. Hy kyk rond vir so paar minute en sien net ‘n paar jonges wat seker van ‘n jol af kom. Hy klim uit en steek ‘n Camel op en kyk nog so bietjie rond, want oppad hierheen het dit kwansuis gelyk of ‘n swart BMW hom volg. “Blikemmer!” dink Malles, “ek voel nie lekker oor als nie! Hoekom het X my nie eers voorgestel aan die mense nie? En hulle het opslag stil geraak toe ek binne stap! En vir wat is môre se koerant nou so belangrik, hé?”
Nog ‘n ding wat Malles pla is die gesprek wat hy vroeër vanaand gehoor het toe hy gaan koeldrank haal het in die hoof huis se kombuis. Om by die kombuis te kom, moes Malles verby so ‘n tipe studeerkamer loop en daar was twee ouens besig om te praat van S en F en ‘n Dokument. Malles het laas week in die koerant gelees van die twee polisielede, S en F, wat spoorloos verdwyn het. Hulle was glo besig met ‘n hoogs geheime ondersoek in verband met ‘n sameswering.

Soos Malles die straat oorstap, sien hy so op ‘n afstand ‘n man … “maar wag ‘n bietjie! Die man se hoedjie lyk baie na ‘n Champs hoedjie! Is dit die selfde man as by die lughawe?” wonder Malles terwyl hy nou so halwe drafstappie vat. Malles gryp een van elke koerant en gee sommer R20 vir die swartetjie wat langsaan sit en draf bakkie toe. Vinnig in en trek weg, amper met skreeuende bande! Die volgende oomblik staan die man reg in die pad! Malles blaas hoeter en swenk so regs verby, en die man skree iets van “Wag! Ek is Malles! Wag asseblief!”
Angs en koue sweet slaan Malles uit. “Het ek nou fokken reg gehoor? Of raak ek nou die klits kwyt?”

Die heel tyd word gekyk in die truspieëls terwyl Malles teen hoë spoed terugkeer Kop toe. Met die gee van die koerante wil X weet of Malles oraait is want hy lyk nie so goed nie en Malles sê dis seker iets wat hy geeet het. X sê toe hy kan maar gaan slaap want sy volgende opdrag is eers môre-oggend 10H00.

Teen 8 uur die oggend is Malles op na ‘n baie onrustige slaap van nagmerries en rondrol. Terwyl hy stort probeer hy sin maak van die laaste paar dae, maar die legkaartstukke kry net nie hul plek nie.
09H15 stap Malles oor na die hoof huis waar hy sien dat almal alreeds weer in die konferensiekamer vergader, en dinge lyk nog meer ernstiger as gister.
Mnr X: “Môre Malles. As jy klaar iets ge-ontbyt het, neem my Jaguar en dan gaan jy na advokaat C se huis. Sy vrou sal vir jou ‘n klankkasset gee. Neem dit na regter H, in die hooggeregshof. Hy gaan dan vir jou ‘n dokketnommer gee. Dit neem jy na adjunk-kommissaris W en hy sal vir jou ‘n geseelde dokument gee. Het jy dit so?”
Malles: “Reg so Meneer, wat maak ek met die dokument?”
Nadat almal in afwagting na X gestaar het,
Mnr X: “Wag, ek stap saam met jou,”
Oppad kombuis toe fluister X vir Malles dat hy die dokument kantoor toe moet neem, X sal daar vir hom wag.

Malles gooi die ontbyt sommer vinnig by sy keel af en rook sy eerste Camel oppad Jaguar toe. Met al die kranksinnige gebeure sien hy nogal uit om weer met die wa te ry, ‘n 1972 XJ6 model in uitmuntende kondisie.
By die advokaat se huis word Malles amper opgevreet deur die twee grootste rifrugte wat hy nog gesien het. Darem het die advokaat se vrou betyds uitgekom en die honne na agter beveel, seker dié opdrag wat ‘n hond die meeste hoor; “Agter-toe!” , dink Malles by homself. En die heeltyd voel dit vir Malles of hy agtervolg word, jy weet mos daardie snaakse nare gevoel dat jy dopgehou word.

dokumentDaarna is dit die uiters deeglike sekuriteit by die hooggeregshof! Mensig, Malles moes amper totaal ontklee om te sien of hy nie ‘iets’ by hom het nie, behalwe natuurlik die kasset. En die glure wat gegluur word! Gelukkig het Malles sy 9mm in die Jaguar onder die sitplek gelos! Die regter spreek ook nie eens ‘n woord nie en handig Malles net die stukkie papier met die nommer. Buitekant steek Malles nog ‘n Camel op en staar na die papiertjie, een kant die nommer en ander kant: “die Wimpy in Hatfield. Dit is seker waar ek die adjunk-kommissaris moet kry, want X het nie n plek genoem nie”, maar nou wonder Malles hoe weet hy dan alreeds wat is die dokketnommer?
“Doen dit net en hou op wonder” sê Malles vir homself.

By die Wimpy sit Malles sommer buite en bestel vinnig ‘n Coke en rook nog ‘n Camel, want sy senuwees is op, soos gister se brood!
Skaars het hy sy Coke klaar gedrink of ‘n ouerige man, netjies geklee, sit ‘n geseelde lêer op sy tafel in die verbyloop. “Als goed” dink Malles en sleep kantoor toe.
So in die ry dink Malles of hy nie moet loer nie? Hy kan tog weer die lêer seel by een van sy spesiale konneksies. “Nee Malles! Jy mag nie en dit is beter dat jy nie weet watse dokument dit is nie” praat Malles hard met homself.

By die kantoor wag X reeds in die privaat motorhuis.
Mnr X: “Baie dankie Malles. En goeie werk! Jy mag nou maar ‘n paar dae afvat. Jy kan maar die Jaguar by die Kop los as jy die Toyota gaan haal. Tot later.”
Malles: “Goed, dankie Meneer. Sien later.”

(word vervolg) -> Stories van Malles: Uitheemse Sameswering, Deel 3 (Slot)

Stories van Malles: Uitheemse Sameswering, Deel 1

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply