Vreemd verby
Malles is ontsettend verlig en baie bly oor die aftyd en hy ry dadelik terug Kop toe om die Toyota te gaan haal. Hy kry sy goed en voel vir ‘n slag rustig terwyl hy na Renè toe ry.
Renè: “Hello baby! Ek het gewonder waar jy is? Seker weer werksdinge, nè?”
Malles: “Yes sexy, maar ek is nou bietjie af vir ‘n wyle. Wat sê jy van ‘n lekker koue ene?”
Renè: “Sekerlik my skat, ek dink jy verdien dit. Gaan sit solank.”
Na die 4de groot sluk van die yskoue biertjie begin Malles half slaperig voel en dink by homself hy is moeg, maar hene, die slaap het hom nog nooit so vinnig oorval nie. Terwyl hy voel hoe die vertrek effens begin draai hoor hy vaagweg iets in die agtergrond.
Renè: “Dis reg X, hy is hier. Julle kan hom maar kom haal.”
Malles word stadig wakker en besef dat hy vasgemaak op ‘n stoel is. Die vertrek is half verlig, maar totaal vreemd. Die deur gaan oop en ‘n baie lang figuur kom binne. Malles kan nie lekker uitmaak nie, maar dit lyk nie soos ‘n mens nie! “Hond se aftjank, watse bier was daai gewees?”
Mnr X: “Hoe voel jy Malles?”
Malles: “Meneer … Meneer X … wat de hel het met jou gebeur? Voel jy oraait? Want jy lyk nie 10/4 nie!”
Mnr X: “Bedaar Malles, jy’s nie mal nie! Jy sien reg. Ek, en ‘n hele klomp ander wat jy mee te doen gehad het die afgelope paar dae, is nie van hier af nie. Ek meen, nie van jou wêreld nie.”
Malles: “Wat? Wat bedoel Meneer? Ek verstaan nie!”
Mnr X: “En ek neem jou nie kwalik nie, daar is baie wat jy nie sal verstaan of selfs nie eers weet nie. Ons kom van Eris, dit is buite julle sonnestelsel, in die Kuiper belt.”
Malles: “Stop! Stop! Jy maak my kop nog meer deurmekaar!”
Mnr X: “Toemaar Malles, môre sal jy niks onthou nie.”
Malles: “Maar waarom nou juis ek?”
Mnr X: “Jy was op die regte plek, op die regte tyd. En dit was die vinnigste pad na die dokument. Baie belangrike inligting vir die mensdom se toekoms. Ons is al eeuein julle midde, om te kyk dat julle mekaar nie in geheel uitwis nie!”
Malles: “Jy maak nie sin nie! Ek droom seker?”
Mnr X: “Nog iets Malles, jammer om jou te vertel, maar Renè is ook een van ons.”
Malles: “Nee! Ek glo jou nie!”
Met dié druk X die inspuiting in Malles se nek en verval Malles in ‘n diepe slaap.
Die derde skril gelui van die telefoon laat Malles met ‘n ruk, regop wakker skrik! “Wie kan dit wees so vroeg op ‘n Sondag-oggend”, wonder Malles nog lekker deur die mis en met ‘n enorme hoofpyn.
Malles: “Hallo … yes, Malles hier.”
Champs hoedjie man: “Malles … dis ek Malles, ek wil net seker maak jy’s oraait …”
“Peep, peep, peep, peep …”
Stories van Malles: Uitheemse Sameswering, Deel 2
(Malles se eienaardige storie vervolg in In ‘n ander tyd.)

Lewer kommentaar