Taai roete vir laaste ABSA-veldrenkampioenskapsbyeenkoms

Daar wag ‘n taai uitdaging vir deelnemers aan die finale byeenkoms van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 19 en 20 November aangebied word en die roete sal uit talle nuwe gedeeltes bestaan.

Die RFS Magalies 400 sal die gordyn op vanjaar se Absa-kampioenskap laat sak met die Spesiale Voertuigtitel wat nog nie gefinaliseer is nie. Die Produksievoertuigkampioenskap is reeds afgehandel en die privaatspan, Chris Visser en Japie Badenhorst (RFS Toyota Hilux) het die titel tydens die laaste ren, die Human Auto 400 wat in die Vrystaat plaasgevind het, opgeraap.

Adri Roets, die hoofroetebeampte, het gesê dat die nuwe gedeeltes op vanjaar se roete die byeenkoms interessanter en meer uitdagend sal maak. ‘n Nuwe terrein in die Blaauwbank-omgewing sal deelnemers van ‘n vars uitdaging voorsien.

“Die nuwe gedeeltes op die roete sal ‘n nuwe dimensie aan die ren verleen,” het Roets gesê. “Dit gaan deelnemers se seisoen van ‘n taai einde voorsien.”

Die Donaldson-voorren sal die wegspringposisies bepaal en sal Vrydag, 19 November om 12:00 begin. Die 60 kilometer-roete sal deelnemers langs die R24 Krugersdorp/Magalies-pad deur Maloney’s Eye na ‘n nuwe gedeelte in die Blaauwbank-area neem.

Die ren begin Saterdag, 20 November om 08:30 en die voorrenroete sal weer gebruik word. Die 180 kilometer-roete sal twee keer afgelê moet word en sal ook gebiede by Syferbult, Carletonville en Ventersdorp insluit voordat dit na Tarlton terugkeer.

Soos vorige jare sal die roete weer eens uiters toeskouervriendelik wees en daar sal uitstekende toeskouerpunte langs die R509 Magalies/Koster-pad wees. Daar sal ook goeie uitkykpunte wees waar die roete die R500 kruis.

Die hoofren begin om 08:30 met die renhoofkwartier, die begin- en eindpunte en die aangewese dienspunt wat by die Tarlton International Raceway-kompleks op die buitewyke van Krugersdorp sal wees. Publieke toegang tot Tarlton en die toeskouerpunte langs die roete is gratis.

“Tarlton en toegangspunte langs die roete is uiters toeganklik van Johannesburg, Pretoria, Krugersdorp, Rustenburg en omliggende areas en ons verwag ‘n groot hoeveelheid renentoesiaste,” het Roets gesê. “Daar is ook klein sakies soos nasionale kampioenskappe wat beslis moet word en dit verhoog die aantrekking.”

Toeskouergidse en kaarte sal by die renhoofkantoor beskikbaar wees.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply