Taai roete vir nuwe byeenkoms

Daar wag ‘n verrassing vir deelnemers aan die Human Auto 400, die sewende ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 22 en 23 Oktober plaasvind.

Die byeenkoms is nuut op die Absa-kalender en beteken dat ‘n belangrike nasionale motorsportkampioenskap na die Vrystaat terugkeer. Die renhoofkantoor, die begin- en eindpunt as ook die aangewese dienspunt sal by die Windmill Casino-kompleks aan die buitewyke van Bloemfontein wees.

“Daar wag ‘n paar verrassings op die deelnemers,” het die rendirekteur, Adri Roets, gesê. “Die gewilde persepsie is dat die Vrystaat plat en vervelig is en dat die roete vir ‘n veldren wat in dié provinsie aangebied word, ook plat en vervelig sal wees.

“Die persepsie gaan vinnig verander sodra die spanne ‘n roete gaan aanpak wat interessant en veeleisend gaan wees.”

Roets het bygevoeg dat deelnemers ‘n paar uitdagende koppies op die roete sal teëkom asook verskillende tipes en golwende terrein. Daar sal ook klipperige en sanderige gedeeltes wees en spanne sal hard vir hul resultate moet werk.

Roets het die plaaslike span wat die roete uitgelê het – André Botha, David White en Robbie Theuns – vir hul harde werk geloof. White was tydens onlangse seisoene een van die Absa-Veldrenkampioenskap se voorste Klas P-deelnemers.

“Ons het ook uitstekende samewerking van die plaaslike regering ontvang asook van boere en grondeienaars,” het Roets gesê. “Daar is ‘n gees van afwagting voor die ren en waar mens in die Vrystaat beweeg, is dit ‘n besprekingspunt.”

Die Donaldson-voorren wat op 22 Oktober plaasvind, sal om 12:00 by die Windmill Casino afskop en sal noord van die ou Brandkop-renbaan na die gewilde Stuck in the Mud-oord en die De Brug-weermagbasis beweeg. Die totale afstand vir die voorren is 60 kilometer.

Die renroete sal ongeveer 190 kilometer lank wees met deelnemers wat twee sirkelroetes moet voltooi waarvan die eerste 60 kilometer die voorrenroete sal volg met gedeeltes in en om De Brug. Die roete sal dan langs die N8 in die rigting van Kimberley beweeg voordat dit in die rigting van Petrusburg en Jagersfontein draai.

Op die laaste gedeelte kruis die roete die R706 en beweeg dit terug in die rigting van die Windmill Casino-kompleks. Daar sal ook goed na entoesiaste gekyk word en die roete sal toeskouervriendelik wees met verskeie uitkykpunte.

Die ren sal op 23 Oktober om 08:30 begin en die publiek sal gratis toegangtot die begin- en eindpunt, die aangewese dienspunt en die toeskoueruitkykpunte geniet.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply