Die Team Castrol Toyota-span, Anthony Taylor en Robin Houghton het die Produksievoertuigkategorie van die RFS Magalies 400, die laaste byeenkoms van vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap wat by Tarlton International Raceway aangebied is, wéér gewen.
Taylor en Houghton het dié byeenkoms laas jaar ook gewen en vanjaar se sege was die Team Castrol Toyota-groep se tweede oorwinning dié seisoen. Dit was ook ‘n goeie dag vir die Vrystaan-spanne met Louw de Bruin/Riaan Greyling (Ruwacon Ford Ranger) en George Barkhuizen/David van Wyck (AIM Toyota Hilux) wat die beste resultaat van hul loopbane aangeteken het deur onderskeidelik tweede en derde te eindig.
Enige hoop dat die algehele en Klas SP-kampioenskappe op ‘n uittelbasis kon eindig, is daarmee heen toe die kampioene, Chris Visser en Japie Badenhorst (RFS Toyota Hilux) en hul naaste mededingers, Hannes Grobler en Hennie ter Stege (RFS BMW X3) nie die ren kon voltooi nie.
Turbosensorprobleme het die veterane, Grobler en Ter Stege, tydens die eerste van die twee sirkelroetes waaruit die ren bestaan het, gekniehalter.
Visser/Badenhorst, wat by die halfpadmerk voorgeloop het, het tydens die tweede sirkelroete as toeskouers by hulle aangesluit as gevolg van ‘n stukkende verkoeler.
“Dit was teleurstellend om die seisoen só af te sluit, maar ons het ‘n wonderlike jaar gehad,” het Visser gesê. “Vir ‘n privaatspan om dié kampioenskap te wen, is ‘n veer in die hoed vir die hele span.”
Die wenners van die Donaldson-voorren wat die wegspringvolgorde vir die ren bepaal het, Duncan Vos en Rob Howie, was vroeg reeds in die moeilikheid en kragstuurprobleme tydens die eerste sirkelroete het hulle gekniehalter.
Dieselfde probleem het Taylor en Houghton laat in die ren getref. Hulle het ook ‘n ketsprobleem en ‘n pap band opgedoen en was uiteindelik net 44 sekondes voor De Bruin en Bezuidenhout.
De Bruin en Greyling het onderskeidelik derde en sesde in die klas weggespring en is vir hul bestendige vertoning vergoed. De Bruyn en Greyling was regdeur die ren in beheer van die derde plek terwyl Barkhuizen/Van Wyck voordeel getrek het deur die vertrek van Visser/Badenhorst en Grobler/Ter Stege wat voor hulle begin het.
Die voormalige SA-kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer het ‘n dapper vertoning gelewer deur vyfde met die Team Ford Ranger TDCi te eindig. Hulle het ‘n wiel tydens die voorren verloor en het heel agter weggespring. Boonop moes hulle ‘n gedetermineerde aanslag van die Klas D-wenners, Deon Venter en Ian Palmer in die RFS/4×4 Mega world Toyota Hilux afweer.
‘n Sege het ook die Klas D-kampioenskap vir Venter en Palmer verseker. Hulle was die enigste Klas D-span wat die ren kon voltooi met die uitgaande kampioene, Dewald van Breda en Johann du Toit (Northam Toyota Hilux) en Cliff Weichelt/Johan Smalberger (N1 4×4 Toyota Land Cruiser) wat as gevolg van meganiese probleme moes tou opgooi.
Die voormalige kampioene, Manfred Schröder en Ward Huxtable (Team Ford Ranger) het met die Klas E-louere weggestap met Schröder wat vir die beseerde tiener, Lance Woolridge, ingestaan het. Dié resultaat het aan Huxtable die navigatorstitel besorg met die Ford Ranger wat ná vyf nasionale titels nou aftree.
Die jaerstitel was buite Woolridge se bereik met Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus (RFS 4×4 Mega World Toyota Hilux) wat derde agter die Ruwacon Ford Ranger van Gerald le Roux en Willem Pretorius geëindig het. Volgens voorlopige berekeninge het Labuschagne die jaerstitel ingepalm met Erasmus wat wéér die kampioenskapsbus gemis het nadat die paar die kampioenskap laas jaar met ‘n enkele punt gemis het.
Volgende jaar se Absa-Veldrenkampioenskap skop met die Adenco 400 in die Wes-Kaap af wat einde Maart plaasvind.
bydrae: Charmaine Fortune
