Toyota Land Cruiser Prado word verfris

Toyota Suid-Afrika het aangekondig dat die gewilde Land Cruiser Prado-sportnutsvoertuig verfris is met bykomende spesifikasies in al drie modelle en ‘n paar kosmetiese veranderinge aan die buitevoorkoms.

Die 3.0 GX-turbodiesel-, die 3.0 VX-turbodiesel- en die 4.0 VX V6-petrolweergawe is nou almal toegerus met Toyota se stemgeleide AVN-DVD-satellietnavigasiestelsel met ‘n splitskermvertoon en omvattende Suid-Afrikaanse kaartstel. Ook standaard in al drie modelle is ‘n koelkassie met ‘n deksel in die middelkonsole.

Die AVN-stelsel is gekombineer met die ses-CD-wisselaarklankstelsel met ‘n RDS-radio en MP3/WMA-versoenbaarheid. Die Prado 4.0 V6-petrolmodel is nou standaard toegerus met satellietkontroles vir die klankstelsel aan die stuurwiel.

Die kosmetiese veranderinge is beperk tot die voorkant van die voertuig en bestaan uit ‘n hersiene sierrooster en hoofligontwerp.

Die Prado se gewildheid spruit in hoë mate uit sy besondere veldryvermoë plus uitstekende gerief in alle ry-omstandighede. ‘n Tweespoed-oordraratkas met ‘n Torsen-tipe vastrapmiddelewenaar met sluitgerief bied uitstekende traksie in die strafste veldrytoestande deur ‘n heeltydse vierwieldryfstelsel. Aktiewe Vastrap- en Voertuigstabiliteitbeheer help die bestuurder beheer behou in gladde padtoestande, op sowel as van die pad af. Die VX-modelle is ook toegerus met Afdraandsteunbeheer (Downhill Assist Control) en Heuwelwegtreksteunbeheer (Hill-start Assist Control) in eerste en trurat, wat die voertuig se vermoë verder verbeter in moeilike bestuursomstandighede.

Land Cruiser PradoDie groot 17 duim-allooiwiele maak voorsiening vir vierpot-remknypers en grootdeursnee-remskywe vir uitstekende remming. ABS-sluitweerremme met ERV (Elektroniese remkragverspsreiding) en Remhulp is standaard deur die hele modelreeks. Intelligente dubbelstadium-lugsakke voor word aangevul deur kantlugsakke vir die voorste sitplekke. Gordynlugsakke verleen beskerming vir die voorste en die middelste sitplekke.

Die drieliter-turbodiesel ontwikkel 96 kW @ 3 600 r/min en 343 Nm se wringkrag @ 2 000 r/min. Drywing is deur ‘n vyfspoedhandratkas in die GX-model en ‘n outomatiese vierspoedratkas in die VX. Die V6-petrolenjin het ‘n lewering van 179 kW @ 5 200 r/min en 376 Nm @ 3 800 r/min. Hierdie model is toegerus met ‘n outomatiese vyfspoedratkas.

Land Cruiser PradoPryse
Prado 3.0 Turbodiesel GX R438 400
Prado 3.0 Turbodiesel VX R488 900
Prado 4.0 Petrol VX R488 500

(foto’s © toyota@toyota-media)


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply