Toyota stel volle hibriedkrag in C-segment bekend

Die Auris HSD (Hybrid Synergy Drive) is eksklusief vir die Europese mark ontwerp en stel volle hibriedtegnologie in ‘n kernmodel in Toyota se produkreeks bekend. Dit is ook die eerste stap in die aanbieding van Toyota se HSD-tegnologie in die maatskappy se hele produkreeks van vroeg in die volgende dekade in Europa.

Een vername oogmerk met die nuwe Auris, wat in TMM (Toyota Motor Manufacturing) se Britse aanleg in Burnaston vervaardig word, is om motorryers se beskouing en opvatting van volle hibriedaandrywing te verander.

Afgesien van die uitsonderlike brandstofdoeltreffendheid en lae CO2-emissies wat inherent deel is van Hybrid Synergy Drive, bied die nuwe Auris HSD uitstekende daaglikse bruikbaarheid en rygerief, en ‘n merkwaardig stille verrigting, wat ‘n gladde en gesofistikeerde ry-ondervinding verseker – iets heel ongewoon in die C-segment.

Die Auris HSD sal in twee uitlaatvlakke verkrygbaar wees: 89g/km en 92g/km – die laagste CO2-uitlate en beste petrolverbruik in hul klas. HSD sal gevolglik ‘n betekenisvolle rol speel om die gemiddelde CO2-emissies van Toyota se hele modelvloot wat vir Europa bestem is, nog verder te verlaag. Dit het tussen 2008 en 2009 reeds met 14g/km tot 132g/km gedaal danksy die bekendstelling van Toyota se Optimal Drive-tegnologie. Optimal Drive is reeds in Suid-Afrika beskikbaar in modelle soos die Toyota Corolla 1.3.

Buite-ontwerp
Die Auris HSD het dieselfde buite-ontwerp as die nuwe Auris-modelreeks vir 2010, wat ‘n algeheel herontwerpte voorkant insluit. Hierdie ontwerpveranderinge geld ook die Suid-Afrikaanse Auris-modelle, wat in Maart 2010 bekend gestel word. Die Auris HSD spog ook met ‘n aantal modelspesifieke eienskappe wat help om die motor se lugdinamiese verrigting te verbeter.

Die opening aan die bokant van die sierrooster is geoptimaliseer om gladde lugvloei oor die boonste deel van die bak te verseker, terwyl die onderste deel van die sierrooster vergroot is om lugweerstand te verminder en die enjinverkoeling te verbeter. Die buite-ontwerp word verder beklemtoon deur die Hybrid-benaming en die blou kleurglimmer op die Toyota-logo, ‘n kenmerk van alle Toyota-hibriedmodelle.

Auris HSD
Auris HSD

Danksy die hersiene groepering van die misligte vergemaklik die plat, vertikale oppervlak van die voorbufferhoeke die lugvloei oor die voorwiele, wat help om werweling in die wielboë te verminder.

Verdere verbeterings in lugdinamiese doeltreffendheid word verkry deurdat die ryhoogte met 5 mm verminder is; die doelontwerpte allooiwiele met geïntegreerde, lugdinamiese doppe (soos op die nuwe Toyota Prius); laerolweerstandbande; en ‘n groot lugvlerk aan die agterkant van die dak. Hierdie ontwerpwysigings, wat uniek is aan die Auris HSD, werk saam om die lugvloei oor die motor te beheer en gladder te maak, en dit verminder die lugsleursyfer van 0,290 tot 0,283. Dit dra by om brandstofverbruik en CO2-uitlaatvlakke te verminder.

Binne-ontwerp
Verskeie wysigings is aan die kajuit van die Auris HSD aangebring, insluitende ‘n hersiene instrumentnis, waarin die toereteller vervang is deur ‘n Eco Drive Assist Monitor. Die middelste wysergroep-inligtingspaneel sluit bykomende HSD-spesifieke inligting in soos monitors vir Energy Flow en Eco Drive Result.

‘n Hibriedblou slim aansitknop is langsaan die instrumentnis en ‘n middelkonsole huisves skakelaars vir Parkeerbeheer en EV- (Electric Vehicle), ECO- en POWER-bestuursmodusse en ‘n skakellose ratkierie.

Die beligting is verander. Op die instrumentwyserplate, die kontroles vir die klankstelsel en die verwarmer, en die skakelaars vir Smart Start, Drive Mode en Parking Control word groen-wit nommers/letters op ‘n hibriedblou agtergrond vertoon.

Auris HSD
Auris HSD

‘n Keuse van materiale en beslag spesifiek vir die HSD-modelle is ook beskikbaar: blou gespikkelde materiaal of Alcantara-panele met omringende leerstroke.

Hybrid Synergy Drive
Die Auris HSD is toegerus met ‘n volle hibriedstelsel wat in petrol- of elektriese werkgang of ‘n kombinasie van die twee bedryf kan word. Die Hybrid Synergy Drive het die energiebesparende eienskappe van ‘n serie-hibried (waarin die twee werkgange afsonderlik in volgorde gebruik word) plus die verrigtingsvoordele van ‘n parallelle hibried (waarin die gesamentlike krag van die petrolenjin en die elektriese motor gekombineer word).

Die tegnologie verseker indrukwekkende, gladde versnelling en merkwaardig stille verrigting met klasleier-brandstofverbruik (van 3,16 liter/100 km) en -koolstofdioksiedemissies (van 89 g/km).

Die jongste geslag van Toyota se Hybrid Synergy Drive gebruik ‘n 1,8 liter-petrolenjin met VVT-i, ‘n kragtige elektriese motor, generator, hoëverrigtingsbattery en ‘n kragbeheereenheid. ‘n Kragverdelingstoestel met ‘n planeetratstelsel kombineer en herallokeer krag van die enjin, elektriese motor en die generator op grond van die motor se bedryfsvereistes.

Die sleutel tot die geslaagde installasie van die stelsel in die Auris se platform met die enjin voor is die feit dat die elektriese motor, generator en die kragverspreidingstoestel in ‘n enkele transmissiehulsel – die grootte van ‘n konvensionele ratkas – gehuisves is. Die E-CVT-palwisseltransmissie word beheer deur ‘n skakellose elektriese rathefboom.

Die ligte en kompakte Atkinsonsiklus-viersilinderenjin van 1 798 cm3 met VVT-i ontwikkel 59 kW by 5 200 r/min en 142 Nm se wringkrag by 4 000 r/min. Die sinchrone elektriese motor van 60 kW-motor met ‘n permanente magneet ontwikkel ‘n maksimum-wringkrag van 207 Nm tussen 0 en 13 000 r/min.

Die elektriese motor, aangedryf deur die hibriedbattery, werk saam met die petrolenjin om versnelling aan te help in normale bestuurstoestande. In die EV-modus loop die petrolenjin nie en word net die battery gebruik om die voorwiele aan te dryf.

Gedurende spoedvermindering of wanneer gerem word, funksioneer die elektriese motor as ‘n hoëleweringsgenerator en herwin kinetiese energie, wat normaalweg as hitte verlore sou gaan, as elektriese energie vir opberging in die battery – sogenaamde regenererende remming.

Die petrolenjin en die elektriese motor het ‘n gesamentlike kraglewering van 100 kW, wat aan die Auris HSD die verrigting van ‘n konvensionele tweeliter-petrol- of -diesel-luikrug gee.

Wat egter in die Auris se guns tel, is die feit dat dit die CO2- en NOx-uitlaatgasse aansienlik laer is as ‘n dieselmotor met vergelykbare verrigting.

Voorts, wanneer net die elektriese motor gebruik word, is daar geen CO2- of NOx-uitlaatgasse hoegenaamd nie. In die EV-modus kan jy vir tot 2 km met snelhede van tot 50 km/h ry, afhangende van die batterylading en die verkeerstoestande.

‘n Ekobestuursondervinding
Die Auris HSD het vier bestuursmodusse, waarvan die bestuurder self drie kan skakel om die HSD-kragoorbringstelsel se vermoë ten beste te benut. Die motor bied ook omvattende ekobestuursteun vir diegene wat ‘n meer omgewingsvriendelike bestuurstyl wil handhaaf.

In die EV-modus loop die Auris net op batterykrag. Dit gebruik dan geen petrol nie en daar is ook geen uitlaatgasse nie. Die ECO-modus skerp doeltreffendheid en brandstofekonomie op en die Power-modus gee die stelselverrigting ‘n hupstoot. Afgesien hiervan help die Eco Drive Monitor die bestuurder om die HSD-stelsel ten beste te benut.

Die bestuurder kan die energievloei deur die HSD-stelsel in elke modus via ‘n veelinligtingvertoon op die instrumentpaneel monitor. Daar is ook ‘n duidelike en eenvoudige kragverbruikmeter wat toon hoeveel krag op enige gegewe tydstip verbruik of opgewek word.

Afgesien van die inherent stille werking van die Hybrid Synergy Drive het Toyota ekstra aandag bestee om geraas, hardheid en vibrasie by alle snelhede in die kajuit verder te bekamp. Pad- en enjingeraas word tot die minimum beperk danksy die omvattende gebruik van klankdempmateriaal. Voldikte-ruitglas en ‘n akoestiese veellaag-voorruit verminder geraas verder by kruissnelhede.

Die Auris HSD sal laat in die tweede kwartaal in Europa te koop aangebied word. Hoewel Toyota voortdurend die geskiktheid van toekomstige hibriedmodelle vir Suid-Afrika ondersoek, is daar nog geen besluit geneem oor die moontlike plaaslike bekendstelling van die Auris HSD nie.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar