Vis en tjips word al meer as ’n eeu lank beskou as Britse stapelvoedsel. Selfs die voormalige kolonies soos Suid-Afrika het dit deel van hul koskultuur gemaak. Die oorsprong het egter min te doen met die eiland en sy mense.

Die storie begin honderde jare gelede toe Portugal nog onder Arabiese heerskappy was. Moslems, Jode en Christene het almal in vrede hier saamgeleef. Anders as in die buurland Spanje, waar Jode vervolg is tydens die Spaanse Inkwisisie en duisende na Portugal moes vlug.

Teen die einde van die Arabiese heerskappy in Portugal teen die einde van die 15de eeu trou koning Manuel met Isabella van Spanje. Godsdiensvryheid het egter nie die Katolieke Isabella aangestaan nie. Tydens die vervolging van die Jode wat gevolg het, het baie na Engeland gevlug.

Deel van die Joodse kookkuns was Peshkado frito, ’n wit vis gebraai met ’n dun lagie meel. Volgens oorlewering is die vis in meel gebraai om behoue te bly sodat dit later koud geëet kan word. Dié Joodse dis wat meesal op Vrydae gemaak is, was dadelik ’n treffer. Tjips kom egter eers by in die 19de eeu toe aartappels se gewildheid begin toeneem in Europa. Die eerste vis-en-tjips-winkels open hul deure in die omgewing van 1860. En dit was die begin van wat Winston Churchill “goeie pasmaats” genoem het.

Lewer kommentaar

Leave a Reply