Die Spesiale Voertuig-kampioenskapvoorlopers, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau sal hul posisie tydens die 4×4 Mega World 400 wat op 27 en 28 Augustus by Carnival City plaasvind, wil konsolideer.
Van Staden en Rossouw het vroeër die seisoen geskiedenis gemaak toe hulle die eerste Klas P-span geword het om ‘n byeenkoms algeheel te wen. Onder die regte omstandighede kan dié Klas P-span weer wen, maar nie as die Klas A-brigade dit kan verhelp nie.
Dit gee aan Variawa/Rousseau meer skietgoed met die Sun City-wenners, Kallie en Quinton Sullwald (Elegant Fuel-BAT) wat hul naaste Klas A-opposisie is. Die Sullwalds is 25 punte agter, maar hul Sun City-vertoning het tekens getoon dat hulle vir die res van die seisoen sterk kampioenskapmededingers kan wees.
Ander moontlike wenners soos die huidige jaerskampioen, Evan Hutchison en Darryl Curtis (Motorite-BAT), Herman en Wichard Sullwald (Sullwald Racing-SVR) en Nick Harper en Kevin Hume (Atlas Copco-BAT) kan nie bekostig dat die kampioenskapvoorlopers die gaping verder vergroot nie. Alhoewel die 4×4 Mega World 400 deelnemers in die tweede helfte van die seisoen inlei, is daar min omdraaikans vir diégene wat kampioenskappe najaag.
Die KwaZulu-Natal-paar, Clint Gibson en Gary Campbell (Gibson Racing-SVR); Nardus en Louis Alberts (Wrapsa-BAT) en die Century Racing-BAT-paar van Colin Matthews en Alan Smith kan ook nie vir die Oos-Rand-byeenkoms uit die prentjie gelaat word nie. Matthews en Smith sal in die Century Racing-CR3 waarmee Mark Corbett en Rudi Balzer in Klas P deelgeneem het, te siene wees met dié voertuig wat na Klas A-spesifikasies omgebou is.
‘n Tweede Century Racing-inskrywing sal ook in Klas A te siene wees. Ernest Corbett het uitgetree en Warwick Goosen sal nou deur Guy Henley in ‘n Jimco bygestaan word.
Die kleurvolle Jimmy Zahos (Cobalt Racing-Porter) span weer kragte met Stefan Coetzee saam en is nóg ‘n jaer wat oor die potensiaal beskik om renne te wen terwyl die Polokwane-span van Naeem Moosajee en Rayhaan Bodhanya ‘n goeie terugkeer met die Maxxis TyreRack-Porter sal wil maak. Bevan Bertholdt en Danie Stassen (Lab88-BAT) sal ook ‘n goeie vertoning ná ‘n teleurstellende Sun City 400 wil lewer en het baie potensiaal getoon.
Behalwe vir die gunstelingspanne het ander spanne tydens die Sun City 400 tekens getoon dat hulle gereed is om goeie resultate te lewer. Die Parker-broers, Brett en Steve het ‘n goeie eerste vertoning in die eks-Moosajee-Jimco gelewer; die nuwelinge Neil Meyer en Leon Muller (Zarco Magnum) het ook indrukwekkend vertoon en Keith du Toit en Ashley Thorn (White Star Racing/Bokomo BAT) sal vir nóg ‘n top 10-posisie mik.
‘n Verrassende inskrywing – die KZN-ster, Lance Trethewey in die LT Earthmovers-BAT – kan ook probleme vir die gereelde nasionale spanne besorg. Trethewey het ‘n top vyf-posisie tydens die Atlas Copco Sugarbelt 400 behaal en sal deur die veldrenmotorfietsjaer, Spencer Kriel, bygestaan word.
‘n Sege tydens die Sun City 400 het die veteraan, Bes Bezuidenhout en sy skoondogter, Lindie, in die Adenco-BAT tot die gesamentlike voorloperposisie in Klas B geneem. Die voormalige Produksievoertuigstaatmaker, Coetzee Labuschagne en sy dogter, Sandra, sal ‘n tweede verskyning in die Raysonics-Zarco maak en sal tussen diégene wees wat sal hoop om hul betroubaarheidsrekord dié seisoen te verbeter.
Die Makenete-broers, Keith en Andrew, kon nog nie vanjaar ‘n byeenkoms voltooi nie terwyl Simon Beckett en Steve Harris in die Century Racing-BAT na drie agtereenvolgende renne die handdoek moes ingooi. Die kampioenskap is wawyd oop en geen span het tot dusver hul stempel op verrigtinge afgedruk nie.
Daar was ‘n skommeling in Klas P. Met Corbett senior se uittrede sal sy seun Mark en Rudi Balzer beheer van die futuristiese renwenner, die Century Racing-CR2, oorneem.
In nóg ‘n interessante ontwikkeling sal die voormalige tydrenjaer, Etienne Lourens, die leisels van die Atlas Copco-BAT by die veteraan, Bodo Bertholdt oorneem. Die Atlas Copco-span wil nuwe talent na die span bring en Lourens, wat kragte met Philip Herselman vir dié byeenkoms sal saamspan, kan dadelik ‘n impak maak.
Terwyl Van Staden en Rossouw as die Klas P-gunstelinge sal begin, is daar heelwat spanne wat sal sorg dat hul voete op die grond bly. Die broers, Johan en Deon Bezuidenhout (Adenco-BAT) is moontlike wenners met ‘n sterk Sun City-vertoning wat die Swaziland-paar, John Thompson en Clinton McNamara (Zarco) in die prentjie gebring het.
Bestendigheid het Archie Rutherford, wat vir die eerste keer saam met ‘n nuwe navigator, Jacques le Roux in die Regent Racing-Jimco sal wees, tot die tweede plek in die kampioenskap geneem en die veterane, Richard Schilling/Chris Davies (Aceco) het baie ondervinding tussen hulle. Die verskyning van Lourens verleen ‘n bykomende tikkie kleur tot dié kategorie.
Die Carnival City-kompleks sal as die renhoofkantore asook die begin- en eindpunt en die aangewese dienspunt dien. Publieke toegang tot dié gebiede is gratis met die Donaldson-voorren wat geskeduleer is om Vrydag, 27 Augustus om 11:30 te begin terwyl die hoofren Saterdag, 28 Augustus om 08:00 sal afskop.
Die renroete is toeskouervriendelik met verskeie uitkykareas wat binne 40 kilometer van Carnival City is. Die publiek kan dié areas gratis besoek met ‘n versoek van die organiseerders dat entoesiaste die omgewing respekteer.
bydrae: Charmaine Fortune