´n Professor aan ´n mediese fakulteit kan daarna uitsien om sowat R14000 op sy salarisstrokie te sien aan die einde van die maand. ´n Dokter met ´n privaat praktyk verdien nie veel meer nie, om die waarheid te sê jy moet pasiënte soos skape deurjaag indien jy R15000 wil maak. Dieselfde geld kan verdien word in die IT-omgewing met net ´n MCSD agter jou naam of as ´n kelner by ´n top hotel. Gaan ry eerder heeldag branderplank. Die topgekeurdes in Suid-Afrika verdien sowat R19000 per maand. Nog ´n gemaklike manier om geld te verdien is om ´n lid van die parlement te word. Jy kry sowat R22000 per maand vir heeldag se rondsit

Dan is dit miskien beter om dagga te gaan verkoop op ´n straathoek. Die spulletjie maak ten minste sowat R20000 per maand. ´n Ander bedryf wat ook op straathoeke beoefen word is egter baie meer winsgewend. Top prostitute kan sowat R140000 per maand verdien indien hulle bereid is om 5 dae per week te werk. Meer as die beste aandelemakelaars se R100000 per maand. Jou normale agentskap-meisie kry egter ´n skamele R140 per uur vir haar swoeg en sweet.

By Radio 702 kan jy tussen R5000 en R30000 per maand verdien, afhangende vir wie jy wil slegsê oor die lug. Groot Jeremy Mansfield by Hoëveld Stereo verdien egter sowat R80000 per maand. Dis meer as Thabo Mbeki se R58250 per maand en die rektor van die Potchefstroomse Universiteit, Prof. CJ Reinecke, se R40348 per maand.

Soli Philander vra jou R5000 vir ´n vertoning, baie meer bekostigbaar as Barry Hilton (The Cousin) se R10000 per 40 minute. Dan is daar Hansie Cronje vir wie jy deesdae kan kry teen sowat R25000 om ´n praatjie te lewer. Evita Bezuidenhout se tariewe begin eers hier en kan soveel as R100000 beloop.

Sportmanne is oor die algemeen die room van die wat maandeliks ´n salaris verdien. Bygesê, indien hulle borgskappe hierby ingereken word. Andre Venter sit omtrent R1.5 miljoen in sy sak elke jaar, kort op die hakke van Shaun Pollock se R1.8 miljoen. Jonty Rhodes skop egter stof in sy kaptein se oë met R3 miljoen ….. en dan is daar Bobby Skinstad se R6.8 miljoen. Wie het hom vanjaar op ´n rugbyveld gesien?

Konsultante in Inligtingstegnologie stap egter met die louere weg as die top verdiener as jy kyk na ´n doodgewone maandelikse salaris bereken teen 5 dae per week se werk. Die top konsultante verdien sowat R400000 per maand.

Lewer kommentaar

Leave a Reply