Roekeloos
Wat soek fiksie vir kinders op ‘n webblad vir volwassenes?
As jy reeds Philip de Vos lees sal jy nie die vraag vra nie. Belladonna, prima donna is sy jongste fiksie vir kinders – en sommige grootmense.
Daar was eenmaal so ’n operahuis met sy eie handjievol muise. Hulle het in hoekies en gaatjies weggekruip totdat die laaste noot gesing word en die handeklappery bedaar, dan het hulle kom snuffel vir ’n stukkie sjokolade of ’n paar neute wat iemand dalk laat val het.
Maar daar was een meisiemuisie wat ’n ander koers ingeslaan het: gereeld soos klokslag elke aand kruip Belladonna na die verhoog, en wanneer sy in die middel van die groot, donker verhoog staan, begin haar hart vinniger klop.
Ja, Belladonna Muis het ’n groot droom gehad: sy wou in ’n opera optree. Van al die operas wat al in daardie operahuis opgevoer is, het sy elke noot en elke woord geken, al was hulle in vreemde tale.

Die enigste probleem was: sy het van geen opera geweet waarin ’n muis ’n rol het nie.Skrywer: Philip de Vos
ISBN: 9780624025474
Prys: ongeveer R 115.00
Formaat: Hardeband, 32pp
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
