Dankie

Lastige trane loop verleë wanneer ‘n vreemdeling in my ou kar van 26 jaar klim. Die uitlaatpyp brul soos hy haar aanskakel en agteruit ry. Hulle talm vir ‘n oomblik by die stopstraat. Sy bewe, want haar enjin is moeg en die vonkproppe is vol olie-spatsels. Die briekligte gaan af. Stadig verdwyn sy om die hoek. In my kop groet ek, want sy kom nie weer terug nie. Sal nooit weer in die motorhuis slaap nie. Ek het haar verkoop …


Sy was mooi in haar jare. En ek en sy het ver gery. Gelykpaaie, opdraandes, afdraandes. Van Pretoria na Kaapstad. ‘n Paar keer. Sonder sweet, want die lugreëling het nog gewerk. Van Pretoria na Bloemfontein. ‘n Paar keer. Met musiek, want die radio het nog gewerk.

En ek dink terug aan die finale aftog van Pretoria na die Strand. Die domste besluit wat my lewe 360° sou omkeer. Ek en sy was swaar gelaai. Ek het so erg gehuil dat ek ingedagte die ruitveërs aangesit het om beter te kan sien. “Hoekom sit Mamma die wipers aan as dit nie reën nie?” Met ‘n gemaakte glimlag het ek gesê ek is sommer laf. Ek moes die hartseer bêre. Sterk bly vir die kinders. Die pad vorentoe was ver en gevaarlik. Gelukkig onbekend.

Vir jare het ek en sy die kinders en dikwels hulle maatjies by die skool opgetel. Hulle gekarwei na naskoolse aktiwiteite, partytjies. Sy is nog vol van die honde, die katte, die budgies en goue vissies wat almal lankal al dood is. Vir jare het ons werk toe gery. Vanoggend nog. Dit was warm, want die waaier werk lankal nie meer nie.

En voor my staan die hemelse geskenk van ‘n splinternuwe motor! Ek het hartkloppings van opgewondenheid en is so vreeslik dankbaar. Kan dit eintlik nog nie glo nie. Dit voel onwerklik. Maar hier staan sy. Blink en pragtig, met alles wat werk. Hoekom trek my hart ‘n punt na die kar wat so pas om die hoek verdwyn het? Waar slaap sy vanaand? Ek het vir so lank geglo dat ons twee saam sou doodgaan. Dat hulle haar parte sou verkoop wanneer my parte sou ingee.

Vir ‘n oomblik staan my kop by my oorlede ma stil. Mens hak mos maar altyd vas by jou ma as jy in die moeilikheid is. Ja, ek is seker. Sy sou verstaan het. Kan onthou as ‘n klein dogtertjie hoe sy gehuil het toe my pa die ou Ford Falcon verkoop het. Maar ek wonder wat sy nou sou kwytraak, want ons praat van mý ma. Liefdevol en dierbaar. Goed van haar toontjie tot haar kroontjie. ‘n Sterk Duitse vrou. Die beste ma ooit. Êrens in haar manier van lewe het sy dit aan my oorgedra om lewelose dinge ook te respekteer. Dat alles wat nie ‘n hartklop het nie tog op ‘n ander manier ‘n bestaan voer.

Dis nou dieselfde ma wat altyd ‘n ompad geloop het met alles wat sy vir ons kinders geleer het. “Jy moet mooi oor die telefoon praat. Moenie vloekwoorde gebruik of skinder nie. Die lyn is direk met die polisiestasie verbind. As jy lelike dinge sê flits daar rooi liggies by die stasie. Die polisie sal jou kom haal en toesluit.” Nodeloos om te sê ek is nog steeds nie ‘n telefoon persoon nie!

Vies sou sy by ons slaapkamer inloop. “Julle kinders moenie so op julle rug lê en lekkers eet nie. As ‘n mens lê en eet, kry jy horings. Hulle sal groei op jou voorkop,” skel sy. Ek was ook streng verbied om ‘n sambreel binne die huis oop te maak. Nie omdat ek dalk my suster se oog met die skerp punte kon uitsteek nie, maar omdat mense wat sambrele in die huis oopmaak nooit geluk sal vind nie.

As kind was daar nie ‘n haardroër in die huis nie. Het nie eintlik besef daar is so iets nie. Ons het ons hare in die dag gewas en dit op die groot rooi stoep gesit en droog borsel. Die Kaapse winter was ‘n probleem. Ook as jy jou hare skelm in die aand sou was. Ons was streng verbied om met nat hare te gaan slaap. My maatjie ook. Haar ma het gesê sy sal verkoue kry as sy met nat hare bed toe gaan. My ma het my vertel dat my neus sal muf. Dan sal dit sleg ruik. Moes ook al my pampoen opeet sodat my hare mooi kon krul.

Sy het nagelaat om my te vertel dat dit slegte maniere is om die laaste koekie op die bord te gryp. “Moet nooit die laaste koekie op die bord vat nie. Dan sal jy nooit ‘n man kry nie.”
As kind was ek mal oor daai groot gekleurde bolle kougom. In glashouers op die toonbanke van kafees. ‘n Hele bruin kardoesie vol vir ‘n pennie. “Mamma wil nie hê jy moet kougom eet nie,” sou sy my herinner. “As jy dit per ongeluk insluk , sal jou derms toeplak en aanmekaar vassit. Die dokter kan nie daar uitkom nie. Jy sal doodgaan!” Ek wens sy het my vertel dat as dit in jou hare vassit, jy daai stuk van jou hare moet uitknip. En as dit in die mat vassit my pa die stuipe kry.

‘n Ma se invloed is geweldig. Vir jare het ek nie pers klere gedra nie. “Dis die kleur van die dood. Dis net vir begrafnisse en doodskranse.” Ek was ook al diep in my twintigs toe ek vir die eerste keer koejawelsap geproe het. My ma het my verseker dat dit aaklig proe. Dat alle pienk drankies sleg is. Jammer ma, dis vandag my geliefkoosde sap …

Maar dis vandag. My ou kar is weg en ek mis my ma en voor my staan ‘n motor waaroor ek tot nou toe net kon droom. My ma sou breed geglimlag het. Haar oё sou emosioneel gevonkel het. Ek sou ‘n drukkie gekry het. Maar ek bly wonder wat sy nou sou kwytraak? Dink sy sou my vertel het dat sy dankbaar is. Bly is dat sy haar nie meer hoef te bekommer oor my wat in die ou krok rondry nie. Ek sou my effens gewip het, “sy is dalk ‘n krok, maar sy het my elke dag by die werk gekry …” Sy sou my verseker dat sy dit nie lelik bedoel het nie, “jy weet mos, ‘n ma hou nooit op worry nie. Selfs al is jou kinders oud en lelik genoeg om na hulleself te kyk. Jy is mos ook ‘n ma.”

Ek glimlag onderlangs. Dis tyd om aan te beweeg. Nuut te begin. Die volgende 26 jaar lê in die pyplyn.

Met mening skud ek my skoene af. Trek my klere reg. Eerste indrukke is blywend. Versigtig klim ek in. Sy ruik onbekend. Leeg. Ek en sy sal moet ry. Gelykpaaie, opdraandes, afdraandes. Saam sal ons weer vol raak.

Ek draai die sleutel en hoor net die doodse stilte. Sit maar die radio aan. Die weerberig sê dit gaan vanaand reën. Gelukkig slaap sy in die motorhuis. Dan ry ek ruk-ruk om die blok. Soos ‘n trapsuutjies. Dalk moet ek ‘n groot rooi “L” op die agterruit plak. Nog ‘n keer om die blok, stadig en dan soos my voet en haar pedaal mekaar vind, vinniger. Die ECO liggie skyn groen. Sy hou van my. Sit ook die lugreëling aan, sommer net om te onthou hoe dit nog voel! Dankbare trane loop skaamteloos. Ek sit die wipers aan, nie omdat ek ingedagte beter probeer sien nie, maar omdat die flikkerligte aan die verkeerde kant sit.

Dan duidelik hoor ek Mamma se liefdevolle stem. “Jy moenie so huil nie. As die klok slaan, gaan jou gesig so bly staan.”

jetta

Lewer kommentaar

Leave a Reply