Hierdie boek deur Suid-Afrika se skinderkoningin en poniejoernalis Yolanda Barnard van Glitterati en Sondag-faam, is ’n binnevertelling van haar interaksie met meer as ‘n 100 sterre in die Suid-Afrikaanse vermaakbedryf. Dit is ook ’n outobiografie van haar lewe in die media oor ’n tydperk van langer as vier jaar. Haar eie hartseer en vreugdes. Die moord op haar suster se verloofde. Hoe sy in die middel van die nag op die snelweg deur rowers aangehou is.
Geen ster word gespaar nie en sy neem die leser na die ‘agterkamer’ met ’n paar nuwe en skokkende onthullings. In haar bekende ondersoekende styl delf die skrywer in egte ponietrant in die doen en late van die bekendes. Sy toon ook dat die sterre bloot ook maar mense is wat foute maak. Die boek bied verdermeer ’n interessante blik op die poniebladbedryf in Suid-Afrika, hoe dit in Suid-Afrika ontwikkel het en hoe dit figureer.
Wat weet die media? Berig hulle nie net oor die punt van die ysberg nie? Hoekom is die skades en skandes van bekendes nuus? Het die bekendes die media nodig of het die media die bekendes nodig? Wie vry na wie? Haar vertelling hoe Paul Kruger in die Ou Raadsaal, op Kerkplein, vir haar “loer”, laat mens lekker lag. Die andersheid van Loftus wanneer Angus Buchan daar optree, bring ’n eie rustigheid en vrede. Dit is ’n menslike boek met ’n lag en ’n traan.
Die boek is by Woordpoort 2009 bekendgestel.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
