Dinge om te vra

Die mensdom darem.


Almal so haastig en vinnig met alles. Stop nie vir hallo of koebaai nie. Stel die saak, sit in die bestelling en gaan weer voort. Kyk nie eers een maal om nie. Wys net hakke.

Nou ja, so verkoop ek maar my produkkie. Aan al die mense. Tot die mense by wie ek my goedjies aflaai, tot hulle praat maar min. Of sommer niks. Skrywe neer wat hulle wil hê, en gaan aan met anner goette met ‘n kop knikkie. Dan weet ek nie of ek klaar is of nie. Hulle dankie en koebaai is sommer net “Nog iets?”. Dan moet jy weet jy is klaar en jy begin hulle nou pla.

Ek dink terug aan die dae toe mense mekaar en vir my nog geken het. Soos Oom Koos van Rietbokfontein – ’n plaas daar in die Weideveld distrik net hier anderkant Breebosfontein. Nie eers die stadsgedruis van Breebos het hom laat verander nie. Altyd mooi en vriendelik gegroet. En gevra hoe dit met die ander gaan. En hulle se name genoem, en sommer ‘n bestellingtjie vir hulle ook ingesit. Op sy boekie. Vandag is ek net ‘n nommer. Oom Koos is ook oorle. Seker een van die laaste van sy soort.

Die mensdom darem.

Vandag ‘n konsessie afgetel vir die nuwe produkkie van my.

Selfde mense. Nie eers opgekyk met my aflewerinkie nie. Net nommer gevra en gelaai. En die “nog iets” vragie. Shym, haar haartjies lyk so mooi vandag, maar ek wou haar nou nie pla om dit vir haar te sê nie. Toe gaan ek maar.

verkoopsmanDie mannetjie by deliweries het so lelike omloop op sy arm. As hy net wou stilstaan om te praat kon ek vir hom bietjie raad en merrisyne gee. Dit lê in my kabbiehol. Speensalf met bietjie kruie in, en ‘n spoegseltjie bloekom-olie. Sal seker maar regkom. So ‘n sterk en flukse jong man. Net jammer van al die gaatjies in die arm. Seker maar siek siende hy so baie inspuitings kry. Almal op een plek in die waai van die arm. Altwee arms. Shym. Ek kry seer vir sy part.

Op die pad huis toe stop die spietkop my. Wil my liksens sien en die stieker in die wiendskrien. Arme man het so baie laste. Kan op sy gesig sien die huis dinge krap hom bitterlik om. Vroumens goeters weet ek. Nie ‘n hallo of koebaai nie. Net gevra, gekyk en gery. Jammer. Ek kon hom baie goeie raad gegee het as hy nie net die volgende tieket gejaag het nie. Hy het daar wegge-hoeijoe-hoeijoe met die blou ligte en al. Geen rede.

Terug in die winkeltjie laai ek maar self alles af. Die hulp is op die sellelêre foontjie besig. Altyd besig. Om ander mense te help. Hier raad, daar advies, maar sy werk staan net so. Alles op sy plek en ek maak reg vir die volgende aflewerinkie. Dit het ook so sommer net met ‘n nommer gekom. Soek dit en dat so laat en daar. Sal seker maar dankie sê as ek dit aflaai.

Die pakkerasie is ‘n grote. Baie goeters ge-bestel. Sal alles gou-gou kan klaarkry en laai. Ek laai mos alleen. Die fountjie het mos weer gelui. Met die vraggie reg is ek daar vort. Geen sweet nie. Ek ken my joppie. En ek is baie lief daarvoor. Ek vat almal se bestellinkies met vreugde in my hart en hoop maar hulle waardeer dit. Ek het by my ou vader geleer om die jop te doen. Dit is ons besigheid. Het die besigheidjie seker al vir altyd. Miskien langer. Ek tel nie die dae nie. Net die seëninge.

Weereens klaar afgelaai. Selfde ou storie. Net nommers.

Maar wag. Dit is amper 7 uur. Dan kom daar ‘n baie lekker bestelling in. Die eenetjie kom partykeer tot so 10 keer op ‘n dag deur. Nie baie nie. Net raad vra en dankie sê. Dis al. So lekker een om af te laai. Altyd tyd vir ‘n geselsie. En, ‘n baie dankie. Lekker. Dit is nogal die grootbaas van die plek wat so gaaf is. Soos Oom Koos, selfde in soort. En as ons klaar gesels het, sê hy vir my, “Dankie, baie dankie Liewe Jesus, Amen”

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar