Dusty

Jy weet mos. Soms besef ons nie die waarde van spesiale oomblikke nie … totdat dit net ‘n herinnering is. Nou sit ek hier en glimlag. Onthou ek toe die kinders nog klein was. Aan hulle verskoning as hulle nie lus was om hulle skoolwerk te doen nie. “Mamma, ons kán nie ons huiswerk doen nie. Die katte slaap op ons boeke.”


Maar ek wíl jou van Dusty vertel. Terwyl hy nog hier by my op die bank lê. Bo-op die boek waarin ek skryf.

Dusty was aan ons geskenk. Tesame met sy naam. Eintlik aan my jongste dogter gegee as ‘n vroeë verjaarsdagpresent deur ‘n besorgde vriendin.

Hy was net ‘n paar weke oue verskrikte bondeltjie grys dons. ‘n Bitterklein bewende katjie. “Tannie, die kinders oppie straat was besig om hom soos ‘n bal rond te skop.”

Natuurlik het ons hom versorg, gevoer en ‘n slaapplek gegee. So die kinders se oë was leep en agterdogtig toe ek aan hulle verduidelik dat ons die volgende dag vir hom ‘n goeie huis moet kry. “Mamma kan eenvoudig nie nog ‘n diertjie finansieel bekostig nie. Met julle op hoërskool en die huis en die rekeninge en pappa weg …”

Die meisies was met rede agterdogtig, want hulle ken hulle ma. Enige diertjie wat by ons voordeur inkom en die nag deurbring, word deel van die gesin. Die volgende oggend toe ek wakker word, het ‘n Dusty wors styf teen my gelê. Nog half deur die slaap het ons vir ‘n paar sekondes mekaar stip in die oë gekyk. Toe knip hy sy ogies en begin pur … Ja, Dusty sou bly.

Hy was net onhebbelik. Amper rebels. Het met mening probeer om die banke en gordyne te verwoes. Geweier om die sandboks of die tuin te gebruik. Die huis het sy toilet geword. Met my hande in my hare was ek raadop. Het nog nooit voorheen so ‘n probleem met enige dier gehad nie. Toe ek uiteindelik genoeg geld bymekaar skraap vir sy inspuitings en om hom reg te maak, het die probleem net so opgehou.

Hy was maar net ‘n dominerende mannetjieskat wat sy gebied wou afbaken. En hy het. Gou was dit vir my helder dat die ander diere hom respekteer. Nie dat hy hulle afgeknou het nie. Inteendeel, hy sou saam met die hond in sy bed slaap. Die lui katte skoon lek. Enige verlore dier verwelkom … hy gee nie om as die duiwe op die balkon kuier nie … hy was maar net die baas van die plaas. Is vandag op sy oudag nog steeds. Hulle soek nie met hom skoor nie … as Dusty op jou stoel sit, kies jy ‘n ander stoel.

Vinnig het die bondeltjie dons in ‘n pragtige, groot, grys kat ontpop. Met perfek gelynde wit pootjies en ‘n spierwit borsie. Maar Dusty was meer as dit … wanneer hy ‘n vertrek inkom, kan jy sy teenwoordigheid voel.

Tog het ek hartseer besef dat die sielkundige letsels wat hy in die eerste paar weke van sy lewe opgedoen het, blywend is. Dusty is ‘n versigtige, bang kat. Hy is dalk die koning onder ons diere maar hy vertrou geen mense buiten ons intieme kring nie. Hy waag dit nie buite sonder ons nie. Wanneer ek kuiergaste kry, kruip hy in ‘n laai of onder die bed weg. Hy is bang vir die wind, die reën, die donder. Is vreesbevange wanneer ek nies. En ek nies baie … glo een of ander allergie vir katte … dan kruip hy op sy maag rond en probeer so gou as moontlik in ‘n laai kom. Ek stoot heeldag laaie in die huis toe.

Met sy stoute manewales in die verlede, het hy amper kompulsief netjies geword. Hy lek sy sussies en boeties se gesiggies en lyfies skoon. Die sandboks moet ver van enige gordyn of lap wees, want hy vee sy voete af wanneer hy uitklim. Daar is altyd ‘n bietjie skoon, koue water in die bad. Van die katte drink daar. Dusty gebruik dit om sy gesig en pootjies te was. Hy maak sy pootjies nat om sy gesig te was. Dan word die voetjies oor en oor in die water gesteek en gelek. As die water nie aan sy vereistes voldoen nie, beland die bottels op die bad se rand in die water. Soms skep hy sy kos met sy pootjie op en bring dit soos ‘n lepel na sy mond om te eet. Daarna was hy sy voet in die waterbak.

Hy kan nie miaau nie. Het vir Dusty in meer as veertien jaar nog nooit hoor miaau nie. Hy maak wel ‘n onaardse skreeu geluid wanneer hy bang raak of aandag soek. Dusty praat met sy oë. Het elke emosie wat hy voel met sy oë en gesigsuitdrukkings vervolmaak. Hy hoef nie te miaau nie. Ek verstaan hom.

Dusty is inherent lui. Hy ooreis hom nooit. Muisspeel-aande wanneer die ander katte spring, hardloop en oor die teëls rondgly, sal hy dalk stadig opstaan om ‘n muis versigtig met sy pootjie te kap. Sy idee van oefening is wanneer ek ‘n muis voor hom hou, sodat hy dit lêend met sy voet kan piets. Ook net vir ‘n tydjie. Dan kyk hy verveeld, met afgryse, hoe die ander katte laf rondskarrel.

As ek met etenstyd dalk vyf minute laat is, maak hy self die koskas oop. Staan hy daar met sy Sorry Suzie gesig. As ek nie dadelik reageer nie gaan lê hy op sy rug met sy voetjies opgetrek. As ek nog steeds nie luister nie begin hy my bene byt. Hy hou van sy water vars. Met vars bedoel ek nou net uit die kraan water. Sal vir lank voor ‘n skoon waterbak met ‘n gesig van totale ongeloof sit.

Vlamme hipnotiseer hom. Sal op die tafeltjie langs die braaivleisvuur sit en net tevrede staar. Soos ‘n mot na ‘n lig word hy magneties na kersvlamme aangetrek. Dit help nie ek skel nie … jy ruik sy skroeiende snorbaarde.

Dusty
Dusty
Enige swak eienskappe? As hy kon praat sou hy jou vertel het, “ek is ‘n Jik verslaafde. Maak nie saak waar ek myself bevind nie. Wanneer hulle die teëls begin mop, arriveer ek sonder om eens te weet hoe ek daar gekom het. My neusgate bewe en my stert swaai links en regs en ek rol angstig op die vloer rond en lek myself. Die ander katte loer bang van ‘n afstand, want ek raak aggressief. Gaan ek daaraan werk? Nee, ek hou van Jik.”

Tot onlangs kon ek niks op enige hoë blad los nie. ‘n Glas, ‘n selfoon, naelpolitoer, sleutels. Alles word in die verbyloop met die poot grond toe gegooi. Maar deesdae ploeter hy net op die vloer rond …

Want die laaste klompie maande sien ek hoe Dusty fisies verswak. Daar is geen teken van pyn nie en sy koppie is helder. Maar sy kragte verminder. Hy loop hink-‘n-pink. Soms al eenkant toe. Hy sukkel ook om te spring. En alhoewel hy steeds goed eet, verloor hy gewig. Die groot swaar kat is so lig soos ‘n veertjie. En hy word grys. Ligter bondeltjies grys hare op sy donkergrys jas. Party oggende bly die kat wat gewoontelik eerste op was, lê. En hy wil toegedek wees, selfs op warm dae. Wanneer ek van die werk kom, staan hy nie meer saam met die ander katte by die voordeur en wag om teen my bene te skuur en te bokspring nie. Soms kry ek hom nog net soos ek hom toegedek die oggend gelos het. Bly om my te sien, knip hy sy ogies en pur.

Êrens in my kop verstaan ek dat hy oud word. Weet ek met ‘n beklemming dat sy tydjie korter raak. Besef ek dat daai godverlate oomblik wanneer hy sy ogies vir die laaste keer gaan knip onvermydelik is.

Maar ek kan my nie indink hoe hierdie woonplekkie sonder my braai maatjie gaan wees nie. Wie gaan in die waai van my bene slaap … my kuite byt as ek laat met aandete is … soos ’n maer vark skree wanneer ek die vermetelheid het om te nies. En wanneer ek van die werk kom, sal al die laaie toe wees.

En al hierdie mense van wie Dusty niks hou nie gaan sê, “siestog, ons hoor daai grys kat van jou is dood. Shame, dis seker swaar. Jy moet maar vir jou ‘n ander een kry.”

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply