Geelkrans se mense

Geelkrans se mense

Roekeloos

Vertellings uit die vervloë dae van Vioolsdrift

Geelkrans se mense is ‘n heerlike leeservaring wat uit die staanspoor boei! Elias (Boet) van Rooyen skryf met sintuiglike detail, humor, atmosfeer, deernis en eerlikheid. As jy die boek klaar gelees het, sit jy met ‘n groot stuk heimwee om daardie tyd, plek en sy mense.

Daar is ‘n stoere moeder (van die sterk Beetse) wat met moeite geboorte gee aan ‘n “yslike stuk baba, twee voet lank en ‘n hele dertien pond aan die haak”. Daar is die hardwerkende vader met sy onortodokse strafmetodes. Jy ys oor die muilwaongeluk, met die naaste dokter drie uur ver. Daar is die karkas van ‘n geliefde perd wat veld-in gesleep word: “Daardie nag het ons die veraf getjank van die jakkalse gehoor”. Daar is sy verlange toe hy, by die verre hoërskool, die geluid van die voco-Listerpompie hoor. Daar is die uitgerekte smoustrip met spanspekke en waatlemoene. Die rampspoedige “Lusernhel” van ‘n vrag bale wat twee keer binne een nag afgelaai en weer opgelaai moes word. Skreeusnaaks is die storie van die vrou wat met gesin en al ‘n lift op die oorvol lorrietjie bedel om by haar gewese man te gaan geld leen. Gesonde self-ironisering raak plek-plek skrynerig: “’n Kind moet soos ‘n donkie verjaar – niemand moet weet nie”. Omineus is die volgende: “Dis ‘n warm somersdag in Januarie 1943. Die stowwerige, warm suidwestewind huil weemoedig deur ons huisie se westekantse houtvenster met sy leerskarniere. Ma is hartseer, want haar vriendin se seun het die Blou Eed geteken om oorsee te gaan veg”. ‘n Ware juweel is die beelding van die nag by die drif waar ‘n klompie rytuie deur vloedwater voorgekeer word. Spoedig word daar vriende gemaak, padkos gedeel, gedans op die maat van Boet se trekklavier en onder die sterrehemel klink die Suidweslied op: “Hart wie Kameldornholz ist unsere Land…”

Geelkrans se menseGeelkrans se mense is ‘n waardige én vaardige vertelling in sappige streek-Afrikaans. Die tema kan gedateer word. Die idee is egter tydloos: die universele reis van die mens tussen wieg en graf. Maar koop liewer self die boek en lees dit. Spyt sal jy nie wees nie.

Bestel gerus hierdie Kontreiboek by Chrisna van Rensburg by 011-766 4015 / 083 234 0245 of by kakkerlak@mweb.co.za. Die boek kos R190 en posgeld beloop R25 met ‘n pakkienommer.

Skrywer: Elias van Rooyen
Prys: ongeveer R 190.00

Resensie deur Engela van Rooyen-Linde (bekende skrywer van Vuur op die horison)

(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Leave a Reply