Nog meer kinders gaan eersdaags in staat wees om hulle innerlike superheld te ontdek, want Zinhle T. Matthews se gewilde kinderboek is nou ook beskikbaar in Zoeloe.
My Family of Superheroes gebruik die krag van storievertelling en die tema van superhelde om kinders te inspireer, motiveer en waardes te leer, maar ook om hulle te help om hul eie innerlike held te ontdek deur gebruik te maak van positiewe bevestiging.
Dié boek, wat oorspronklik in Engels uitgegee is vir ouers, onderwysers of oppassers om vir kinders te lees, maak gebruik van illustrasies en emosiebelaaide taal om ’n aangrypende storie te vertel oor hoe struikelblokke oorkom kan word.
Om dit meer toeganklik te maak vir ’n wyer gehoor, sal die nuwe Zoeloe-weergawe ook beskikbaar wees in klank- en video-formaat.
“As ’n werkende ma, wou ek dit vir ouers en oppassers makliker maak om ’n leeskultuur tuis te skep deur ’n klank- en video-opsie beskikbaar te stel waarmee kinders die storie kan volg terwyl ek dit in Zoeloe voorlees. Ek verstaan ook dat daar baie kinders is wat niemand het wat vir hulle kan lees nie en daarom verseker hierdie opsie dan dat meer kleingoed daaruit kan voordeel trek,” verduidelik Zinhle.
Toe haar boek aanvanklik uitgereik is, het die skrywer gesê dat “die grootste geskenk wat jy vir jou kinders kan gee die vermoë is om hulle eie superheld te wees” en die doel was nog altyd om hierdie geskenk met soveel as moontlik kinders te deel. Daarom in die vrystelling van My Family of Superheroes in Zoeloe maar net die begin – die plan is om dit in alle Suid-Afrikaanse tale beskikbaar te stel en die konsep buite die grense van die land uit te brei.
Hierdie ma van twee se eie ouers het haar die waarde van ’n goeie opvoeding geleer. Hulle is albei afgetrede onderwysers en het reeds ongelooflike werk in hulle gemeenskap verrig, wat hulle na die volgende generasie wil oordra.
“Dit is bewys dat ’n kind se moedertaal die beste taal is om in te leer. Ek wil help om jong breine te ontwikkel en kognitiewe en kritiese denke bevorder deur lees in moedertaal aan te moedig en terselfdertyd ook ’n gesonde selfbeeld by kinders te kweek.”
Verder is hierdie talentvolle en dinamiese skrywer se visie om ’n “selfvertroue onder kinders te bevorder deur die krag van positiewe bevestiging”.
Die eerste vrystelling van die boek is gekomplementeer met ’n pragtige duet deur Mmatema en Katlego Ntsele. Ke Nale Matla, wat beteken ‘ek is sterk, of ek het die krag’. Die liedjie – wat geskryf is deur haar man, die liedjieskrywer Ntuthuko Matthews en gereeld op SABC te sien is – is ’n waardevolle toevoeging tot die storie, veral noudat dit ook in Zoeloe beskikbaar is.
Zinhle woon in Midrand, Gauteng, saam met haar man en twee kinders. Sy het in Bethal grootgeword en nadat sy haar honneursgraad in Rekeningkunde verwerf het, het sy ook ’n professionele kwalifikasie as geoktrooieerde rekenmeester behaal deur die Vereniging van Gesertifiseerde Geoktrooieerde Rekenmeesters in die Brittanje.
Buiten vir haar suksesvolle loopbaan as geoktrooieerde rekenmeester, is sy besig om aan haar tweede boek te werk en laerskoolkinders te bemagtig met haar inspirerende skoolbesoeke. Sy is ook een van die gesigte van Tapputi Egyptian Perfume Oils en is in November 2023 as tweede prinses gekroon tydens ‘Supreme Queen Global Earth Africa’ – ’n leierskap platform wat sosiale verandering bevorder en fokus op sake wat ’n invloed het op ons vasteland.
Vasberade om haar lewensdoel te verwesenlik, gebruik Zinhle al die platforms tot haar beskikking om te verseker dat kinders toegerus is met die nodige gereedskap om hulle eie superhelde te wees.
My Family of Superheroes is ’n inspirerende boek, met ’n kragtige boodskap wat by beide ouers en kinders sal aanklank vind.

