Kat in kou

“Kwê! Kwê! Kwê!”


Die katte kyk nuuskierig op. Oortjies aandagtig gespits in die rigting van die balkon. Lui kom hulle strek-strek orent. Spring half deur die wind van die bank af.

Versigtig sluip hulle soos ‘n streep miere balkon toe … die braafste een sluip voor. Grootoog kyk hulle hemelwaarts. Al drie se bekkies maak onwillekeurig oop en toe … katatoniese pienk gape. Hulle sing in ‘n koor … ‘n bewerige, af van die noot, gemiaaury.

Hulle sien die yslike, vet eend bo-op die smal skoorsteen-muurtjie op die bure se dak. Op die derde verdieping. Die katkinders dink aan aandete. Vir my is dit weereens verstommend hoe so ‘n groot, swaar voël so hoog kan vlieg …

Ritmies klap hy lawaaierig sy vlerke. Sy lang snawel slaan oop en toe. Die deurdringende gekwaak weergalm ver. Sy maat antwoord hom. Kom met haar logge lyf oor die gholfbaan aangevlieg en land perfek langs hom. Saam balanseer hulle met gemak op die nou muurtjie. Tevrede sit en staar hulle uit oor die see.

Oupa en ouma sit op die stoep en al die res.

Laer af op die dak sit ‘n duif noodgedwonge skuins. Sy koppie draai in die rondte. Hy voel ongemaklik, bedreig. Vlieg met klappende vlerke weg na ‘n veilige hoë boom laer af in die straat.

Links op die tweede vloer, merk ek ‘n massiewe pou wat rustig op ‘n tuintafel op die balkon slaap …

Dan verstaan ek ook nie regtig hoekom vliegtuie in die lug bly nie. Maar vliegtuie én voëls het vlerke en vlerke is gemaak om mee te vlieg. Oral rond in die lug, soos vlinders en vlieë en muskiete en insekte … nes feetjies.

My hart lei my na die kombuisvenster. Kyk ek vir die hoeveelste keer na die mense hier onder se papegaai. ‘n Groot voël in ‘n klein koutjie wat permanent buite voor hulle plek staan.

Dis ‘n morsige koutjie met ‘n bietjie vuil water en saaddoppe.

Op mooi dae trippel hy links en regs in sy beperkte spasie. Meestal sit hy bewend en opgepof om direkte son te vermy, stormsterk wind te trotseer, reën en koue af te weer. Sy oë is dof. Dood.

In die oggende wanneer ek verbyloop om die vullis weg te gooi, beweeg hy op en af vir aandag. Draai hy sy koppie skuins vir sy wolwefluit.

Die eienaars argumenteer dat voëls in die natuur alle weersomstandighede oorleef. Die papegaai hoort buite, in ‘n kou, sy vlerke is mos geknip.

Fly me to the moon, Jinterwas
Fly me to the moon, Jinterwas
Ek verduidelik dat voëls in die natuur kan vlieg om warm te bly. Dat hulle tussen bossies en onder blare skuiling vind. Party vlieg na ander lande. Smeek ek dat alles wat kan vlieg, vry moet wees. Hulle moenie ingehok wees nie. Voëls hoort nie in koue nie … en as hulle hom nou regtig in ‘n kou wil hê, sit die kou op ‘n beskutte plek.

Laat my dink aan navorsing in Amerika. Van die jonger geslag weet nie waar sekere kossoorte vandaan kom nie. Hulle leer dit nie op skool nie en hulle ken nie plase nie. Hulle sien geen verbintenis tussen ‘n eier en ‘n hen nie. Glo eiers is gekoppel aan koring? Weet nie dat koeie melk gee nie. Dat vleis geslagte diere is nie. Hulle dink spek word in fabrieke vervaardig en in verseëlde pakkies verkoop. Glo melk kom in houers wat jy in die winkel koop …

Net so kom voëls vir baie mense in koue. Mens knip net hulle vlerke. Dan is almal doodgelukkig.

Dieselfde mense het ook ‘n swart katjie wat heeldag buite ronddrentel. ‘n Vriendelike diertjie, altyd reg vir koppie-krap.

Sy en die papegaai is duidelik boesemvriende. Die kat is kort-kort daar. Klim met ‘n ernstige gepur teen die kou op. Kyk ek hoe die skerp snawel van die papegaai en die sagte katsnoet mekaar kus.

Die papegaai fluit en die kat miaau …

Maar van die os op die jas. Daar is ‘n paar mense wat frons oor al die katte in my woonstel. Sê dis onnatuurlik vir diere om in ‘n klein area, sonder ‘n tuin met bome en gras te woon …

Ek stem.

Dis net dat ek nie een van hulle gekies of gekoop het nie. Het hulle nie eens by die dierebeskermingsvereniging gaan haal nie.

Het vir Nellie bebloed met die lang punt van haar stert morsaf in ‘n residensiële straat opgetel. Niemand in die omgewing het kennis van haar gedra nie. Dit was in Mandela-straat, toe noem ek haar Nelson. Toe die veearts my verseker dis ‘n vroutjie, word sy Nellie.

Simba is deur gesiene mense wat hier in my kompleks gewoon het, aan sy eie genade agtergelaat toe hulle trek. Uitgeteer het hy onder geparkeerde motors geskuil. Hy was oortrek van die vlooie en ronde, wit wurms het by sy agterbene afgerol.

Slegs ‘n paar weke oue Dusty was deur kinders soos ‘n rugbybal rondgeskop. In die teenwoordigheid van volwassenes. Hy het nog nooit oor sy vrees vir mense gekom nie.

Hulle het maar net hulp nodig gehad, want nie een van hulle sou dit op hulle eie kon maak nie. Nie omdat hulle swak is nie, maar omdat sommige mense net plain sleg is.

Onthou ek nou. So ‘n paar maande gelede het ek heel onverantwoordelik my voordeur gesluit voordat dit op grendel was. Êrens in die dag het die wind erg opgekom en die deur oopgewaai. Met die balkondeur altyd oop vir die katte, het die verwoestende wind dwarsdeur die plek gewaai. Toe ek tuiskom hang die gordyne buite die venster. Vang my oë skilderye op die vloer, omgevalde kerse en die tafeldoek op ‘n bondel in ‘n hoek.

En my katkinders. By die wawyd oop voordeur. Hare penorent van die wind. Hulle het die hele dag gehad om die hasepad te kies.

In daai wind sou hulle kon wegvlieg sonder vlerke.

I rest my case …

Dit was verlede Saterdagaand toe die kinders hier kom eet. My skoonseun vertel my van die oulike swart katjie hier onder. “Soos ek uit die kar klim, gooi sy haarself voor my en krul al in die rondte.” “Ja, dis ‘n vreeslike liefdevolle kat,” beaam ek.

My skoonseun smul verder. Blink mond suig hy die laaste stukkie vleis af van die lamsnek-been. “Ja, toe voel ek half sleg oor die papegaai wat so op en af in sy koutjie trippel.” Met my mond vol kos, knik ek begrypend.

“Ek stap toe maar fluit-fluit oor. Maak voël-geluide, Ma weet, kiep-kiep, piep-piep?”

Heel verward sit hy sy mes en vurk neer.

“Maar Ma, toe miaau die voël?”

Ek lag lekker. “Papegaaie is slim. Hy na-aap die kat. Dink dalk as hy jou kan flous om te glo dat hy ‘n kat is, dat hy soos sy katmaatjie vrylik buite kan rondloop.”

Ek sug. “Ai, en dit sal nie sommer gou gebeur nie. Jy weet mos, meeste mense het nie ‘n probleem met fluitende diere in koue nie.”

“Maar jy laat my nou dink …”

“Miskien moet ek my katte in ‘n kou sit en hulle leer fluit?”

“Hoe bedoel Ma dan nou?”

Sluit aan by die Gesprek

3 Kommentare

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar