‘n Nare glips

Hier woon ‘n vrou in een van die gegoede areas in die Helderberg. ‘n Mooierige vrou. Vrééslik netjies. Is getroud en het twee kindertjies. ‘n Dogtertjie en ‘n seuntjie.
Ek ken haar van hier gesels en daar sien.


Ons kinders is skoolmaatjies, maar my kinders het net een keer daar gaan speel. “Mamma, die tannie maak nie mooi nie. Ons moes in die koue buite speel en sy skel heeltyd … en sy was baie vies toe ons koekiekrummels oppie gras mors!” Hulle het volstrek geweier om weer te gaan.

Ek het gereken Sonja is maar net streng. Vreeslik netjies. Vir my kinders gesê hulle is welkom om enige tyd by ons huis te kom speel, want hulle is aangename, goedgemanierde kinders. Amper té soet. Half op hulle hoede. Ruim op soos hulle speel.

Met die tyd saam gesels ons meer dikwels wanneer ons die kinders by die skool optel of wanneer sy haar tweetjies by ons aflaai … dis opvallend hoe haar motor altyd blink. Vir haar kan jy deur ‘n ring trek.

Met al die geselsery, kom ek agter dat sy permanent aan die skoonmaak is. Ek tel ook op dat hulle nooit eintlik vriende oornooi of met familie kuier nie. Maar op die oog af? ‘n Doodnormale, gelukkige gesin.

Slegs wanneer ek dit waag om onverwags by haar huis aan te klop, besef ek daar is ‘n groot skroef los …

“More, trek net asseblief jou skoene uit voor jy inkom … Kannie eintlik nou gesels nie, is besig om gordyne te was. Het dit twee weke gelede gewas, maar die wind het gister so erg gewaai, alles het vanoggend na stof geruik. En ek is besig om die kombuis uit te verf. Die stoom van elke aand se gekosmakery los mos alles taai.”

Daarna leer ek, waar meeste van ons die mure dan en wan waar nodig was, verf sy haar mure elke tweede maand. Self, daar is nie ‘n lui haar op haar kop nie. Die huis ruik sterk na skoonmaakmiddels. En vars verf. Daar is nie ‘n hoekie wat nie daagliks vir stof gefynkam word nie. Alles wat kan blink, skitter. Gordyne hang meer op die wasgoedlyn as op die vensters. Haar man en kinders en enige moontlike gaste, moet hulle skoene by die voordeur uittrek voor hulle ingaan.

Dan loop sy agter jou aan en tel onsigbare donsies op …

Want Sonja is obsessief-kompulsief. Het ‘n gedwonge behoefte om aanhoudend skoon te maak. ‘n Onbeheerste drang om dit oor en oor te doen.

Enige gedrag is aanvaarbaar, totdat dit die mense of diere om jou negatief beïnvloed. Sý het hulp nodig en ek wens ek het die vrymoedigheid om iets sê, maar dis ‘n tinger toestand van sake.

Tuis veronderstel ek ons gesprek. Ek sal aan haar deur klop en groet. Sy sal my innooi. Natuurlik nadat ek my skoene uitgetrek het. Ons sal mekaar verseker dat dit goed gaan. Sy sal vir my tee aanbied. Ek sal aanvaar. Nadat die ketel gekook het, sal sy die stoom van die teëls afvee. Dit blink poets. Ons sal buite in die netjiese tuin kuier. Ek sal nie ‘n druppeltjie mors nie. Sy sal ontdooi en dan sal ons lekker gesels. Oor haar kinders en haar man en die té skoon huis … Ek het net nie die moed nie.

Later in die week vertel ‘n familielid dat sy glad nie meer kook nie. Die kombuis raak te vuil met al die olie- en vetspatsels. Haar man moet saans aandete buite op die vuur voorberei. Die braai staan op ‘n groot plastiek seil. Dit word dadelik na ete met seepwater gewas. Nadat sy die kinders in die bad geskrop het, word die badkamer van voor af opgeruim. Staan sy op ‘n leer om die wasem op die teёls droog te vryf. Die kinders moet reguit bed toe, voor hulle dalk iets vuilvat. Daar moet hulle stil lê. Sy hou van die beddens netjies …

Ek moet ten minste probeer om met haar te praat. Vir haar vertel daar is hulp beskikbaar. Ek glo sy is ‘n goeie mens met ‘n probleem buite haar beheer.

In my kop gaan ek weer deur ons gesprek. Ek sal by haar voordeur staan en die blink klokkie lui. Sy sal na ‘n rukkie die voordeur oopmaak. Ek groet eerste, “Hallo!” Sy antwoord, “Môre, trek net asseblief jou skoene uit voor jy inkom.” “Natuurlik, ek hou van kaalvoet loop in die middel van die winter.”

Nee, dit gaan nie werk nie.

Dis ‘n Dinsdag-middag toe my kinders ontsteld in die kar klim. “Tannie Sonja het hulle katjie weggegee, Mamma! Sommer net so! Sy sê sy kannie meer die hare in die huis vat nie … Tessa en Francois huil nog heeldag … Dis erg Mammie!”

Weer besef ek dat iemand moet ingryp. Beplan ek nogmaals hoe om die sensitiewe situasie te benader. Veronderstel ek vir die hoeveelste keer ons gesprek. Ek sal by haar voordeur staan. Sal die blink klokkie lui. Sy sal haar tyd vat om die voordeur oop te maak. Ek groet eerste, “Hallo!” Sy antwoord, “Môre, trek net asseblief jou skoene uit voor jy inkom.” “Natuurlik, sou nie daarvan droom om met my vuil skoene in jou skoon huis te kom nie.”

Nee, dit klink sarkasties.

Die volgende dag loop ek Sonja se man by die petrolstasie raak. Hy lyk moeg, moedeloos. Hy skep moed bymekaar en vertel my dat dit sleg gaan by die huis. Sê hy wil nie uit die huis praat nie, maar hy en die kinders loop deur. Vertel hy is nie eers lus om huis toe te gaan nie. “Hierdie netheid van haar word met die jare saam al erger. Kan jy nie met haar praat nie?”

Ek het nie langer ‘n keuse nie. Dink ek ernstig hoe om haar te nader. Sal eers my kar was. Dié moet blink. En ek sal wit aantrek. Sal silwerskoon lyk. Ek sal die blink klokkie lui en sy sal tydsaam oopmaak. Ek groet eerste, “Hallo!” Sy antwoord, “Môre, trek net asseblief jou skoene uit voor jy inkom.” Ek sê, “Natuurlik, die skoene druk juis vandag my tone.” Sy vra, “Sal ek vir ons tee maak?” Ek antwoord, “Nee, dissie nodig nie. Dit krap net onnodig jou kombuis deurmekaar. Kom ons sit sommer buite, dan bly jou huis skoon.”

Sy sal my van haar onmoontlike, vuil kinders vertel. Dit sal dan my beurt wees om in te gryp. “Ja, dis nie aldag maklik om kinders groot te maak nie, kinders bly maar kinders. Soms dink ek ons verwag te veel, is ons té streng? Skel ons maklik en heeldag. Wys ons teleurstelling as hulle stout is, eerder as om hulle te wys hoe gelukkig ons is as hulle soet is.” Ja, so sal ons gesels oor haar kinders en haar man en die te skoon huis. Dat dié almal swaarkry.

Dalk kan ek haar oortuig om hulp te kry. “Medikasie is beskikbaar?”

Dis ‘n Saterdagoggend wanneer ek my moed bymekaar skraap. Ek was my motor. Bad en trek wit klere aan. Gaan sorgvuldig deur ons voorgenome gesprek. Gaan eerder sê ek wil nie tee drink nie omdat ek so pas iets gedrink het. Klink beter. Ek moet sagkens wees.

Op pad, seker om die derde draai, ry ek deur ‘n modderpoel. Hoor ek hoe die kar vuil spat. My moed begewe my … sal eerder in die Mall gaan rondloop.

Later in die week verneem ek dat haar kinders op skool sukkel. Is blykbaar senuweewrakke. Haar man beplan om haar te skei.

Vandag is die dag. Ek kry myself in orde. Skitter in wit. Was sommer die motor by die karwas langs die petrolstasie. Gaan weer deur ons gesprek. Ek sal klop, sy gaan hoop dat ek omdraai, so dit sal ‘n tydjie neem voor sy oopmaak. Ek sê, “Hallo!” Sy antwoord, “môre, trek net asseblief jou skoene uit …”

Ek stop voor haar skoon huis. Klim uit en trap met die een voet in haar vars natgemaakte blombedding. Voel hoe my voet in die sagte sand wegsak. My wit jeans is versier met sandspatsels. Modder klou aan my skoen vas. Maak nie saak hoe hard ek my voet op die teer stamp nie.

Ek wil met alle mag omdraai, maar gewaar beweging by haar sitkamer ruit. Nuuskierig loer sy deur ‘n skrefie in die blindings.

Ek prewel my rympie. Stap na haar voordeur en soos my vinger die blink klokkie druk, gaan die deur oop. Sonder dat ek hoef te staan en wag.

My mond gaan oop om eerste te groet, maar sy spring my voor.

“Môre, trek tog net daai vuil skoene van jou uit voor jy inkom … en moenie dit hier op my netjiese stoep los nie. En jou langbroek? Ons beter sommer net hier voor innie tuin praat … Pas tog net op vir my blombeddings. Ek is eintlik besig om al die los matjies in die huis te was. Sal nou ongelukkig nie vir jou tee kan aanbied nie.”

En ek sê, “Sjoe, … jy’s ‘n nare vrou en ‘n horrible ma. Geen wonder jou man wil jou los nie.”

huisskoonmaak

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar