Die vuur brand al hoog en gepas kom die biltong en aarbeie op die koffietafel.
Onwillekeurig onthou ek jare vervloë. Toe die huis met groot rugby-wedstryde nog vol was … maar vanaand is dit net ek en my driejarige kleindogter.
Met ‘n glimlag dink ek nog verder terug. Aan die tyd toe TV net-net in Suid-Afrika bekendgestel is. Almal van ons op die bank voor die skerm om ‘n rugbywedstryd te kyk. Onthou ek hoe my ouma Muti, sonder haar bril, die skares op die pawiljoen met blomme verwar. “Helga?” kry sy my ma se aandag. “Sehen sie die schönen blumen?”
Hoe lyk die skares vir my vanaand dan ook soos blombeddings?
Ek voel sleg om Mia se Heidi DVD af te sit. “Ons gaan die rugby kyk, liefie. Die Bokke speel teen Wallis,” verduidelik ek.
Die manne staan op aandag. Nkosi sikelel’ Afrika weergalm oor die veld. Ek wil half orent kom, my hand op my bors sit. Dit kom van skooldae, waar die vlag soggens gehys was en ons op aandag Die Stem uit volle bors sou sing. Ek onthou die trots, hoe die fyn haartjies op my arms soos hoendervel regop staan …
Mia begin dans.
Sy draai in sirkels en gooi haar heupies. Ek vat gees en vat haar handjie. As president Zuma op die volkslied mag dans, kan ons ook.
Hulle skop af. Die Bokke vertoon sleg. “Kom Bokke!” “Nee Bokkies?” “Ai Bokke,” lewer ek kritiek. “Kom Bokke!” na-aap Mia.
“Bokke?” vra sy skielik verward. “Ja, ons span met die groen toppies is Bokke. Springbokke omdat hulle so rats en vinnig is,” vertel ek.
Sy vat ‘n lang sluk van haar koeldrank. “Hulle is stoute boude, Ouma. Hulle wil nie die bal deel nie,” sê sy kwaai.
“Dis ‘n speletjie Mia. Hulle moenie die bal deel nie. Die groen span moet die bal aan daai kant van die veld druk en die rooi span moet die bal aan daai kant van die veld druk,” wys ek vir haar op die TV skerm. “Hulle moet drieë druk.”
“Wat is rooi mense naam?” “Hulle speel vir Wallis.” “Mia dink hulle se name is 1, 2, 3,” wys sy my die nommers agter-op hulle hemde.
“Mia hoop ons Bokkies druk nie ‘n drie nie,” sê sy hoopvol. Kry sy dit verkeerd. “Nee my kind, hulle móét ‘n drie druk. Dan kry ons punte sodat ons kan wen!”
“Mooi Handré Pollard!” “Mooi Handie Polla!”
Hier net voor halftyd is ek maar mismoedig. “Lyk nie vir my as of die Bokke kan wen nie,” praat ek hardop met myself.

Bejammerend kom Mia voor my staan. Sy vat albei haar handjies en sit hulle aan weerskante van my gesig.
“Ouma … hulle is nie bokkies nie … hulle is omies,” help sy my reg. Wonder wat ons manne hieroor te sê sal hê.
Dis halftyd. Ons draai die patat in die kole en kry die vleis op die vuur. Mielies aan die kant. Ek skink vir myself ‘n glas rooiwyn. Om een of ander rede smeek sy my nie vir ‘n baba slukkie nie.
Vol nuwe lewe kom die spanne terug. ‘n Rowwe skrum speel af. “Hulle baklei weer! Hulle lelik!” skel sy. “Hulle baklei nie, hulle speel net rof.”
Sy voel ontevrede. Projekteer haar emosies. Haar speelkat, Miaau-Miaau, loop deur. “Jy stout, hou op baklei!” skel sy met die wysvinger. “Stopit! Stopit! Gaan sit in hoek!”
Nou heeltemal verveeld gryp sy haar speel mikrofoon. Kliphard sing sy, heel van pas, die Amazing Grace. “Bietjie sagter my kind, Ouma kan nie lekker hoor nie.”
Daar is ‘n besering. “Wie lê, Ouma?” “Weet nie, ken nie almal se name nie.” “Mia dink sy naam is oom Bok.”
Ek gee gou weer die vleis ‘n draai. Sien in die hoek van my oog hoe Mia haar vinger diep in my glas wyn afsteek en haar vinger deeglik afsuig. So dit was vanaand haar plan. Ek raas nie, sit net die glas hoër op die boekrak.
Dan Bigger doen sy nou beroemde dans. Mia giggel en na-aap hom.
Handré skop mis. “Kan hy nou skielik nie meer skop nie?” vra ek. “Kannie kop nie!” “Skop Mia, ssssslangetjie … skop.”
“Hulle gaan sowaar nie wen nie,” praat ek weer hardop met myself. “Hulle gaan wen, Ouma. Mia hulle wys waar bal te sit.” Sy staan op en vryf met haar aarbei handjies oor die skerm. “Híér! Híér!” beveel sy.
En net op daai kritieke oomblik, luister Fourie du Preez. Druk hy ‘n drie presies waar sy met haar vingertjie op die skerm druk.
“Yeahhh! Ons wen! Suid-Afrika wen!”
Mia is in haar noppies. Miaau-Miaau mag uit die hoek kom.
Sam Warburton lewer komentaar. “Sy neusie eina, Ouma. Isit bloed?”
Dis gelukkig ‘n retoriese vraag. Sy is te besig om botter op haar mielie te plak.
“Kan Mia nou maar na Heidi kyk, Ouma?”

Pragtig!
🙂