Die Breytenbach Sentrum bied, in samewerking met Tafelberg-Uitgewers en Sanlam, op 17 en 18 April ‘n roman-slypskool aan, ter voorbereiding vir die Groot Romanwedstryd wat op 31 Desember 2009 sluit.
Hierdie slypskool sal deur Francois Smith, Steward van Wyk, Riana Barnard en Erika Murray-Theron aangebied word. Smith is ‘n ervare boeke-redakteur en sal tydens sy sessies veral aandag skenk aan die vertellerstem, en baie spesifiek die gebruik van die vrye indirekte rede om verteller en karakter saam te laat praat. Verder sal hy fokus op die gebruik van detail om ’n verhaalwêreld te skep, asook praat oor die belang van dialoog. Tydens hierdie bespreking sal hy veral kyk hoe ‘n skrywer sorg dat sy/ haar karakters se woorde soveel as moontlik betekenis het.
Riana Barnard, senior uitgewer by Tafelberg (NB-uitgewers) bring ’n uitgewersperspektief: Waarna kyk uitgewers as hulle manuskripte lees en wat is die moontlikheid van publikasie?, is van die vrae wat aangeraak sal word. Tydens hierdie sessie kry deelnemers die geleentheid om al daardie vrae aan ‘n uitgewer te stel wat hulle nog altyd wou weet.
Steward van Wyk, dosent in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Wes-Kaapland, sal inleidend gesels oor die roman as genre.
Die gewilde skrywer, Erika Murray-Theron, kom deel haar ervaringe en wenke met voornemende skrywers. Theron het in 2007 die Groot Romanwedstryd gewen met haar roman, ’n Tapisserie met klein diere.
Die koste beloop R750 en sluit kursusmateriaal, ‘n boekgeskenk van Tafelberg-Uitgewers en ligte etes in. Belangstellendes kan die Breytenbach Sentrum skakel by 021 8732786 of ‘n e-pos stuur na theokemp@breytenbachsentrum.co.za Daar is geen keuringsproses nie en deelnemers hoef ook nie enige kreatiewe werke voor te lê nie.
