Die Corolla het ‘n sportiewe en dinamiese voorkoms wat verder opgehelder deur opvallende karakterlyne en komplekse oppervlakstrukture. Die Toyota het ‘n kragtige houding op die pad, selfs wanneer ‘n mens die motor van ‘n afstand af beskou.
Die Corolla is ontwerp om in die smaak van ‘n groot verskeidenheid van klante in Toyota se globale markte te val. Nogtans is die ontwerp van die motor in hoë mate beïnvloed deur die voorkeure in die uiters mededingende Europese mark, waar kopers aandring op die hoogste gehaltestandaarde en die allerbeste bestuursverrigting en voertuigdinamika. Wat genieuring betref, het die ontwerpspan van die standpunt af uitgegaan dat alle bestuurders, afgesien van ouderdom of geslag, waardering het vir dinamiese, hoëgehalte-stilering wat ‘n gevoel van luukse oordra.
In navolging van die Toyota-Motorkorporasie se Kaizen-filosofie van voortgesette verbetering word die jongste geslag van Toyota se Optimal Drive-enjin- en ratkaspakkette nou in die Corolla-modelreeks bekend gestel. Hierdie reeks gevorderde tegnologieë, wat daarop gemik is om enjinkrag en brandstofverbruik te verbeter en emissies te verminder, sal binne die volgende maande ook in ander enjingroottes bekend gestel word.
Die eerste modelle wat die voordeel van Optimal Drive trek, is die intreevlak-Corollas, waar die bestaande 1,4 liter-enjin vervang word deur ‘n algeheel nuwe 1,3 liter-eenheid wat spog met ‘n 4 persent-toename in enjinkrag en ‘n 12 persent-verbetering in brandstofverbruik. Die nuwe enjin is gekoppel aan ‘n splinternuwe, kompakte en liggewig-sesspoedhandratkas.
Die Professional- en Advanced-modelle van 1,6 liter kry ook die nuwe sesspoedhandratkas. Alle handratmodelle in die Corolla-reeks spog nou met doeltreffende sesspoedratkaste.
‘n Verdere verandering wat terselfdertyd aangebring word, is die bekendstelling van ‘n gevorderde, elektronies beheerde outomatiese vierspoedratkas, wat as ‘n opsie in die Corolla 1.6 Advanced verkrygbaar is. Hierdie nuwe ratkas vervang die M-MT-ratkas wat tot dusver in hierdie model gebruik is.
Die outomatiese vierspoedratkas het Opdraande/Afdraande-wisselbeheer om ratseleksie te optimaliseer en te voorkom dat die ratkas tussen ratte soek wanneer die motor teen ‘n opdraande/afdraande beweeg. Sensors verskaf insette aan die ratkas se beheereenheid om te verseker dat die optimum-ratverhouding gekies word vir die heersende toestande. Die ratkas verskaf ook enjinremming teen steil afdraandes af.
Die Corolla is ontwerp om al die sintuie en ‘n wye reeks klantvoorkeure aan te spreek. Die motor bied ‘n hoë vlak van praktiese nutswaarde tesame met bestuursgenot, uitstekende afwerking en ‘n voortreflike toerustingvlak.
Kopers het ‘n keuse tussen vier enjins, almal van hulle fyn aangepas by die jongste geslag van ratkaste vir die allerbeste doeltreffendheid. In die geval van die 1,6 en die 1,8 liter-modelle is daar ook die opsie van ‘n outomatiese vierspoedratkas.
Daar is drie spesifikasievlakke: Professional en Advanced vir die 1,3 en 1,6 liter-modelle en Avanced en Exclusive vir die 1,8 liter-petrol- en die 2 liter-dieselmodelle.
Kopers het gevolglik ‘n keuse tussen 10 verskillende modelle.
Die Corolla 1,3 liter- en 1,6 liter-Professional-modelle het onder meer die volgende eienskappe:
• 15 duim-staalwiele met 195/65 R15-bande
• Volgrootte noodwiel
• Kleurgepaste buffers, kantspieëls en deurhandvatsels
• Elektries verstelbare kantspieëls
• Ruitveërs met onderbroke aksie
• Ontwasemer vir die agterruit
• Lugreëling
• Snelheidsgevoelige elektriese kragstuur
• Hoogte- en teleskopiese verstelling van die stuurwiel
• Elektriese ruitverstelling voor
• Veelinligtingsvertoon
• Optitron-instrumentasie
• Sitplekgordelwaarskulig en -gonser
• RDS-radio/CD-kombinasie met ses luidsprekers en MP3-versoenbaarheid
• Middelkonsole met twee bekerhouers
• Bêresakke aan die agterkant van die twee voorste sitplekke
• ABS-remme met ERV en remhulp
• Lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier
• Kantlugsakke aan die voorste sitplekke
• Skakelaar om lugsak van voorste passasier te aktiveer/deaktiveer
• Driepuntsitplekgordels vir al die sitplekke. Voorste gordels met voorspanners en kragbeperkers.
• Whiplash Injury Lessening (WIL)-konsep vir twee voorste sitplekke
• ISOfix-hegpunte vir kinderstoeltjies
• Transpondersleutel-immobiliseerder
• Diefweeralarm
• Sentrale sluiting met dubbelsluitmeganisme
Die Advanced-spesifikasievlak, wat verkrygbaar is in die Corolla 1.3, 1.6, 1.8 en die 2.0D-4D-modelle het, afgesien van bogenoemde eienskappe, ook die volgende:
• 16 duim-allooiwiele met 205/55 R16-bande (volgrootte staalnoodwiel)
• Misligte voor
• Leeroortreksel vir die ratkierieknop en stuurwiel
• Satellietkontroles vir die klankstelsel aan die stuurwiel
• Elektriese ruitverstelling voor en agter
• RDS-radio/CD-kombinasie met ses-CD-wisselaar in die instrumentpaneel en MP3-versoenbaarheid
• Knielugsak vir die bestuurder
• Gordynlugsakke voor en agter
Die vlagskip-spesifikasie, Exclusive, is verkrygbaar in die Corolla 1.8- en 2.0D-4D-weergawes en spog met die volgende bykomende spesifikasies:
• Outomatiese lugreëling
• Snelheidsbeheer
• Slim toegangstelsel en drukknop-aanskakeling
• Reëngevoelige ruitveërs
• Hoë-intensiteitontladingshoofligte
• Hoofligwassers
• Outomatiese hooflignivellering
• Outomatiese hooflig aan/af-stelsel
• Armleuning agter met twee bekerhouers
• Leerbekleedsel
Die nuwe Corolla-reeks bestaan uit die volgende modelle:
• Corolla 1.3 Professional 6HR
• Corolla 1.3 Advanced 6HR
• Corolla 1.6 Professional 6HR
• Corolla 1.6 Advanced 6HR
• Corolla 1.6 Advanced 4/Outo
• Corolla 1.8 Advanced 6HR
• Corolla 1.8 Exclusive 6HR
• Corolla 1.8 Exclusive 4/Outo
• Corolla 2.0D-4D Advanced 6HR
• Corolla 2.0D-4D Exclusive 6HR
Diensafstande is 15 000 km. ‘n Diensplan van vyf jaar/90 000 km is by die prys ingesluit.
