Na net een byeenkoms bevind die Nissan-fabriekspan hulself reeds weer in ‘n bekende omgewing wanneer hulle die Oos-Kaap 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 17 en 18 April plaasvind, aanpak.
Die Donaldson-Nissan Navara-spanne van Duncan Vos/Ralph Pitchford en Hannes Grobler/Juan Möhr was onderskeidelik eerste en tweede tydens die Adenco 400 in die Wes-Kaap om Nissan se seisoen op ‘n hoogtepunt in die algehele Produksievoertuig- en Klas SP-titelgevegte af te skop. Die opposisie is reeds gewoond dat Nissan vinnig begin en hulle kon skoonskip op die podium gemaak het as Ivar Tollefsen en Quin Evans nie ‘n pap band 30 kilometer voor die einde opgedoen het nie.
Dit het die Noorweër en sy Britse navigator tot die vierde posisie agter die RFS-Toyota Hilux van Chris Visser en Japie Badenhorst teruggesit, maar het ‘n duidelike boodskap aan die Ford- en Toyota-fabrieks- en -privaatspanne gestuur. Die Donaldson-Nissans se vroeë vertonings sal die ander bekommerd hê en hulle sal die vroeë gunstelinge wees vir ‘n byeenkoms wat na die Jeffriesbaai-omgewing geskuif het.
Die fabriekspan se ondersteuning sal van Terence Marsh en Pieter Groenewald in die Regent Racing-Nissan Navara, wat laas jaar aan Vos behoort het, kom. Marsh is ‘n voormalige SA-kampioen in die Spesiale Voertuigkategorie en dié paar het ‘n bemoedigende begin in Klas SP tydens die Adenco 400 gemaak.
Die Ford-fabriekspan het die Adenco 400 gemis, maar die voormalige kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer sal by Jeffriesbaai wees tesame met Thomas Rundle en Hennie ter Stege in die tweede fabrieks-turbodiesel-Ford Ranger. Rundle, wat van Klas E opskuif, staar ‘n groot leerkurwe in die gesig, maar die Ford-pakket lyk sterk met Woolridge en Skjöldhammer wat baie ervaring na die span bring.
In die afwesigheid van die Ford-fabriekspanne in die Wes-Kaap, het die soliede paar, Kobus van Tonder en Riaan Guelpa, hulself goed van hul taak in die Uni Freight-Ford Ranger gekwyt. Hulle sal dié keer in die eks-Ferguson-fabrieks-Ford Ranger wees met die span wat deur Graham Leith en Mike Lawrenson in Transcor-kleure aangevul sal word en deur Pieter Ruthven en De Waal Boshoff in die Ruwacon-Ranger.
Die Castrol-Toyota Hilux-fabrieksuitdaging sal van Anthony Taylor/Robin Houghton en Hein Lategan/Chris Birkin kom met beide jaers wat vir die eerste keer in die Oos-Kaap sal deelneem. Taylor het eers ná dié ren laas jaar by die span aangesluit terwyl Lategan die plaasvervanger van Mark Cronje is wat ‘n ruskansie neem en dit sal sy tweede veldrenpoging wees.
Cronje en Birkin het dié ren laas jaar gewen en Toyota sal desperaat hoop op ‘n herhaling van dié vertoning. Dit is dalk baie om te verwag, maar dit sal veral Taylor en Houghton wees wat daarvoor sal mik.
Visser en Badenhorst het ‘n soliede fondasie vir hul aanslag gelê en Hugo en Jaap de Bruyn (Micaren Exel-Toyota Hilux) is tot ‘n top vyf-resultaat in staat.
Rugbeserings sal Chris du Plooy en Ewald van Rensburg (RFS-Toyota Hilux) voorlopige buite aksie laat, maar Christiaan du Plooy en Henk Jansen van Vuuren in ‘n tweede RFS-Toyota Hilux sal deur hul Klas SP-debuut in die Wes-Kaap bemoedig wees.
Die Toyota-aanslag sal verder deur ‘n eerste vertoning van ‘n Hilux in die hande van Gary Bertholdt en André Vermeulen in Atlas Copco-kleure aangevul word asook deur die IDM Cement-inskrywing in die hande van Jaco Swanepoel en Keith Solomon en George en Sharon Barkhuizen in die Aim-Toyota Hilux. Bertholdt was baie vinnig in die Spesiale Voertuigkategorie, maar sal ook ‘n leerkurwe ondergaan.
Die Adenco 400-wenners, Cliff en Louis Weichelt (N1 4×4-Toyota Hilux D4D) lei ‘n kragtige Toyota-aanslag in Klas D. Die ervare Weichelts sal deur die 2008-Beginners van die Jaar, Dewald van Breda en Johan du Toit, in die Northam-Toyota Hilux D4D bygestaan word asook deur die Bezuidenhout-egpaar, Ramon en Maret in die Botes Transport-Toyota Hilux.
Die Bezuidenhouts is terug in Klas D ná ‘n kort besoek aan die Spesiale Voertuigkategorie en sal gretig wees om ‘n paar punte op die telbord te kry. Dieselfde geld vir die veterane, Coetzee Labuscagne en Johan Gerber in die Raysonics-Nissan Hardbody wat terminale enjinskade tydens die Adenco 400 se voorren opgedoen het.
Ná ‘n dapper poging in die Wes-Kaap was Johan Fouche en Wentzel Pretorius met die enigste Klas D-Mitsubishi Colt, op die Klas D-podium. Hul deursettingsvermoë kan weer die deurslag gee.
Verder in Klas E sal die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux-paar, Deon Venter en Ian Palmer, op hul Adenco 400-sege wil voortbou. Hulle het ‘n string probleme oorkom om ‘n welverdiende oorwinning in ‘n klas wat lyk of dit uiters mededingend kan word, in te palm.
Louw de Bruin en Riaan Greyling (Ruwacon-Ford Ranger) het ‘n bemoedigende Klas E-debuut in die eks-Peckham-Ford Ranger gemaak terwyl die huidige kampioene, Jannie Visser en Joks le Roux, ‘n gedetermineerde vertoning in die RFS-Toyota Hilux gelewer het. Na probleme tydens die voorren, het Visser/Le Roux ‘n derde plek aangeteken wat teen die einde van die jaar in hul guns kan tel.
Alhoewel hulle tussen diégene was wat nie die Wes-Kaap-ren kon voltooi nie, het die baan- en renstelster, Leeroy Poulter, wat saam met Rob Howie in ‘n fabrieks-Ferodo-Nissan Hardbody deelneem, genoeg tydens sy debuutren gedoen om te wys dat hy binnekort vir ‘n oorwinning kan mik. Baphumze Rubuluza en Khuliele Vakalisa in die fabrieks-Ford Ranger, sal vir ‘n goeie resultaat mik en so ook sal die nuwelinge, Heinie Strumpher (Micaren Exel-Toyota Hilux) en Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus in ‘n tweede 4×4 Megaworld-Toyota Hilux.
Die renhoofkwartier sal by die Mentorskraal Country Estate by Jeffriesbaai wees. Dokumentasie sal op 17 April om 10:00 begin met die voorren wat geskeduleer is om 13:00 af te skop en die hoofren op 18 April om 08:30.
bydrae: Charmaine Fortune
