Spesiale voertuigkategorie wawyd oop

 

Ná ‘n droomsege tydens die debuutren van die Motorite Revo1 4×4-voertuig in die Spesiale Voertuigkategorie, keer die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann, terug tot die regte wêreld vir die Oos-Kaap 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 17 en 18 April plaasvind.

Dit is nogal ironies dat die twee spanne wat uiters teleurstellende 2008-seisoene beleef het, naamlik Hutchison/Bergmann en Naeem Moosajee en Mohammad Moultson (TyreRack-Jimco) hul siesoen vanjaar op ‘n hoogtepunt afgeskop het. Die twee spanne het eerste en tweede tydens die Adenco 400 geëindig en dié resultaat het gehelp om van laas jaar se letsels te genees.

Dit is ook ironies dat die huidige kampioene, Kallie en Quintin Sullwald (Sullwald Racing-BAT), wat laas seisoen oor ‘n 100 %-klaarmaakrekord beskik het, nie die openingsren kon voltooi nie. ‘n Stukkende halfas 10 kilometer voor die einde van die ren was die Sullwalds se ondergang en het die oorwinning op ‘n goue skinkbord aan Hutchison en Bergmann gegee.

Die realiteit in die Spesiale Voertuigkategorie is egter dat daar ‘n halfdosyn of meer spanne is wat kan wen. Hutchison/Bergmann, Moosajee/Moultson en die Sullwalds val in dié kategorie vir ‘n ren wat moontlik oor moeilike roetes kan beskik en waarvan die hoofkantoor in Jeffriesbaai is.

Colin Matthews en Alan Smith sal vir ‘n langverwagte oorwinning in die Century Racing-BAT mik terwyl die voormalige kampioen, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau (Total-Porter) en Nick en Ryan Harper (Atlas Copco-BAT) ook na oorwinnaars lyk. Mike Whitehouse en Mathew Carlson (Regent Racing-BAT) het ‘n stewige fondament vir hul seisoen in die Wes-Kaap gelê en so ook het Gary Gillingham en Danie Stassen in die Atlas Copco-BAT.

Die nuwelinge, Jimmy Zahous en Stefan Coetzee (Atlas Copco-Porter) het belowend tydens hul debuutren gelyk en spanne soos Herman en Wichard Sullwald (Sullwald Racing-Zarco); die voormalige kampioen, Atang Makgekgenene (Porter); Clint Gibson/Gary Campbell (Gibson Plant Hire-BAT) en John Moore/Leander Pienaar (Groovebar-Chev) kan almal die kaarte goed deurmekaar krap. Soliede vertonings kan ook van Keith du Toit/Ashley Thorn (Babcock-Raceco) en Nardus Alberts/Geoff Minnitt (Wrapsa-BAT) verwag word met Mark Corbett en Rudi Balzer (CR1) wat sal hoop om uiteindelik ‘n goeie resultaat in hul 4×4-voertuig aan te teken.

Die Adenco 400-wenners, Bes en Deon Bezuidenhout (Adenco-BAT) sal die vroeë Klas B-gunstelinge wees. Hulle het hul probleme in die Wes-Kaap vroeg reeds uitgesorteer en was vinniger as die res van die opposisie.

Hul grootste uitdaging sal moontlik van die Century Racing-BAT-paar, Simon Beckett en Steve Harris kom wat ook na ‘n soliede span lyk. Daar het ‘n taai stryd tussen dié twee spanne in die Wes-Kaap geheers en dit kan in die Oos-Kaap herhaal word.

Die Adenco- en Century Racing-spanne sal deur spanne soos die Makenete-broers (Zarco), wat heelwat karakter tydens die Adenco 400 getoon het, gepla word asook deur Derick du Toit en Ian Pienaar in die Orange Tree-BAT en John Telford en Christo Volschenk in ‘n Zarco.

Die Klas P-stryd het nóg ‘n dimensie bygekry deurdat die voormalige Klas B-kampioene, Jan en Hendrik Kraaij in die Keymax-BAT en Ernest Corbett en Warwick Goosen in ‘n CR2 V6 weer tot die stryd terugkeer. Hulle dra tot ‘n veld by wat reeds van kwaliteit oorloop.

Die huidige kampioene, Johan en Etienne Bezuidenhout in die Adenco-BAT, was egter die enigste span wat die Adenco 400 kon voltooi. Hulle het ‘n uitstekende poging aangewend om uiteindelik vyfde algeheel te eindig, maar dit sal moontlik nie weer só maklik wees nie.

Die Kraaijs en Corbett/Goosen mag dalk ‘n bietjie verroes wees, maar sal ‘n groot bedreiging wees en so ook sal David en Gary White (Ruwacon-BAT), die KwaZulu-Natal-blitse, Don Thompson en Don Blakey (Zarco), die veterane, Richard Schilling en Chris Davies (Cultura-Aceco RS) en John Weir-Smtih en Richard Carolin in die Men’s Health International-Zarco.

Die veld word deur die veteraan, Bodo Bertholdt en Philip Herselman in die Atlas Copco-BAT afgerond. Die kombinasie van jong energie en die uderdom en ervaring sal nóg ‘n bestanddeel tot ‘n Klas P-resep voeg wat reeds smaaklik behoort te wees.

Die renhoofkantoor sal by die Mentorskraal Country Estate by Jeffriesbaai wees en spanne kan hulself vir nóg ‘n taai byeenkoms voorberei. Dokumentasie sal op 17 April om 10:00 begin met die voorren wat geskeduleer is om teen 13h00 af te skop terwyl die hoofren op 18 April om 08:30 sal begin.

bydrae: Charmaine Fortune

Lewer kommentaar

Leave a Reply