“Ek is die sondebok. Ek het dit gedoen.”
Só begin Schalk Schoombie se Rooi Haring, ‘n skreeusnaakse speurverhaal wat afspeel in die plaaslike restaurantbedryf.
Die vooraanstaande celebrity-sjef Hartman Swiegers word vermoor tydens die openingsaand van Tydloos, sy nuwe, eksklusiewe restaurant in Pretoria. Wat volg is ‘n dolle vaart op soek na die moordenaar.
Is die sondebok dalk Darius Swiegers, Hartman se skugter, jaloerse broer? Of een van die uitsoek-gaste? Of dalk een van die restaurantpersoneel, een van die staatmakers in die kombuis wat jaar ná jaar sorg vir Hartman se suksesse?
Greta Burger – ‘n selfaangestelde speurder wat haar laat lei deur haar intuïsie, oftewel “gevoelentes” – stel ondersoek in. Verskeie ompaaie lei uitendelik tot ‘n groot, klimaktiese onthulling.
‘n Vlymskerp roman met verskeie kinkels deur ‘n bekroonde dramaturg.

Rooi Haring, / Schalk Schoombie — Human & Rousseau, 15 Junie 2017; sagteband. — ISBN 9780798175654
Bettie Blom,
30 Julie 2017.
