Stroomversnelling

Jakes Gerwel en Linda Rode het dertig kortverhale deur bekende en nuwe Suid-Afrikaanse skrywers saamgestel in die bundel Stroomversnelling. Dit volg op die fenomenale sukses van Keerpunt, ´n soortgelyke versameling wat in 1995 verskyn het.

Hierdie nuwe bundel verskaf weer ´n priemende blik op die wêreld van jongmense in Suid-Afrika vandag. Uiteenlopende perspektiewe en ervarings is in een bundel saamgevoeg, en bydraes wat in Engels ontvang is, is vertaal.

So tree ´n wye verskeidenheid Suid-Afrikaanse stemme met mekaar in gesprek, en kry die leser ´n omvattende geheelbeeld van ons hedendaagse werklikheid.

Skrywers sluit in bekendes soos Marita van der Vyver, Melvin Whitebooi, Jeanne Goosen, Fatima Dike, Francois Bloemhof, Jenny Hobbs, Johnny Masilela en Rayda Jacobs, maar daar is ook opwindende nuwe stemme soos Rrekgetsi Chimeloane, SM Banda, K Sello Duiker, Felicity Wood en Arja Salafranca.

Die bundel is ook in Engels beskikbaar as In the Rapids.

Jakes Gerwel, voormalige rektor aan die Universiteit van Wes-Kaapland en voormalige direkteur in die kantoor van President Mandela, is ´n bekende in literêre kringe. Linda Rode is die samesteller van vele geliefde en bekroonde bundels vir kinders en jongmense. Soos Gerwel woon sy in Bellville buite Kaapstad.

Lewer kommentaar

Leave a Reply