Praat jy ook partykeer sommer net? Sonder te veel denke … maar met goeie bedoelinge. Dalk om ‘n ongemaklike stilte te verbreek. Net om vriendelik te wees. Dalk omdat jy verveeld is of onkant gevang word.
Dan gewens dat jou mond gesnoer was. Toe lippe met perfekte pêreltjies vir tande. Dat die aarde jou sal insluk. Bonatuurlike kragte jou sal laat verdwyn.
Ja ek ook. Nou net. Met ‘n onbekende vrou in die beknopte gemeenskaplike kombuisie by die werk. Het heel onskuldig, half ingedagte, my teekoppie gestaan en was. In die donker, want die gloeilampie het geblaas. My half doodgeskrik toe ek iemand agter my hoor asemhaal. Sy’t net daar gestaan. Stil soos ‘n muis. ‘n Lekker groot stuk sjokoladekoek in die hand.
Ek was ongemaklik. Toe praat ek sommer. Oor ditjies en datjies. Oor die weer. Oor die feit dat die wind erg waai. Oor die kragonderbrekings. Oor die feit dat die krag oor ‘n halfuur afgaan.
Dit was egter die stuk koek in haar hand wat my aandag gehou het. Gewonder hoekom sy nie ‘n bord gebruik nie. Haar liggaamshitte het die versiersuiker laat smelt en van die karamel het tussen haar vingers begin deurloop … Ja, dis alles die stuk koek se skuld. Want toe onthou ek van die nuwe tuisnywerheid wat langs ons oopgemaak het. “Wat dink jy van die nuwe snoepie hier langs ons? Daar’s reeds vier sulke plekke innie Mall. En een op elke hoek! Hier‘s duidelik geen beplanning nie. Kyk maar, oor ‘n maand of twee sal hulle toe wees.”
“Ek hoop maar dit werk?” sê sy ietwat verontwaardig …
Nee, ek sit nie twee en twee bymekaar nie. Hou net aan praat. “Kan dit rệrig nie sien nie. Dit bied niks ongewoon nie en die naam?”
“Ek vertrou die plek sal ‘n reuse sukses wees!”
“O, het jy werk daar aanvaar?” vra ek versigtig. Begin ek lont ruik.
“Nee, dis my en my man se plekkie. Hy’t al sy spaargeld gebruik om die besigheid vir ons oop te maak.”
“Ooo … is julle die eienaars van die pragtige nuwe tuisnywerheid? Mál oor die naam Koekies. Alles in pienk. Met wit kolletjies. Te pragtig vir woorde!”
Sy’t my net aangegluur. Weggestap sonder om te groet. Pap stuk koek nog in die hand. Skoon koppie in my hand. Met my mond vol tande. Regte tande. Pêreltjies se maai. En die Aarde wou my nie insluk nie. En ek het geen bonatuurlike kragte nie. Is nie Super Woman nie.
Laat my dink aan nou die dag toe ek ‘n ou vriend raakloop. “Jako, kan jy nou glo? Na soveel jare! Hoe gaan dit nog met jou Jako?” Hy onthou my hele geskiedenis. Tot die name van my kinders. Ek het hom voor en agter ge-Jako. Eers na die tyd onthou ek sy regte naam. Dit begin nie eers met ‘n “J” nie. Hy was te ordentlik om my daarop te wys … Is dit nou my skuld dat hy soos ‘n Jako lyk?
Onthou ek my pa se woorde as ‘n klein dogtertjie. “Moet tog nie so aanmekaar babbel nie. Mens praat as jy iets sinvol of intelligent het om te sê.” Toe gedink hy is aaklig …
Ander kere glip woorde verkeerd uit. Klein Freudian slips. Wanneer jou kollega daar staan in haar nuwe diksool skoene. “Hoe hou jy van my nuwe skoene?” vra sy vrolik. “Mal oor jou nuwe sole!” Of as jy sit en kyk hoe ‘n vriend sy koffie opslurp. “Jy vergeet om jou tee te drink,” sê hy besorg. “Gaan nou-nou my tee slurp, dis nog bietjie warm.” Dan die vuil kyke.
Party van ons draai woorde om. Lag ek by myself oor my kleinkind nou die dag. “Ouma! Gou! Kom kyk die droë voël innie pragtige tak!” Hoe ek haar vertel dat dit eienaardig is hoe my melk glad nie van katte hou nie. “Watse melk Ouma?” Soms werk die kop vinniger as die mond. Of die mond vinniger as die kop?
Dink ek terug aan ‘n Latyn klas in matriek. Ons moes ‘n Wolf-en-Jakkals storie van Latyn na Afrikaans vertaal. Die afgerolde bladsye beweeg al by die ry af. Elkeen kry ‘n beurt om ‘n paragraaf hardop te vertaal.
Dan is dit my beurt. Heel op my senuwees haal ek diep asem en begin. “Dit word donker en koud. Die water verander in ys. Dan besef Fokkels en Jak …”

Presies net so! Oulik
Ja-nee kyk – vandag se kinders praat lankal nie meer die korrekte Afrikaans nie. Lekker gelees dankie.
Dankie!
Lekker gelees!