Wat ek wil weet

Vanoggend op die trein … was daar, soos elke Donderdag, weer ‘n passasiersverwante insident wat Metrotaal is vir “ses van ons treindrywers lê iewers dronk en julle gaan nou ongelukkig eers tienuur by die werk aankom”.

Toe wonder ek oor of mens dit voel as ‘n trein jou trap en oor die Ewige Lewe en ek dink aan die Dalai Lama wat gereïnkarneer gaan moet word as ‘n sorghumboer op Senekal as hy Suid-Afrika hoegenaamd wil besoek in hierdie lewe of ‘n ander.

En ek onthou van my pa se tante. Tante Miena. ‘n Bitter vrou. Sy het ironies genoeg die voorreg gehad om die lewe te skenk aan dertien kinders, waarvan sy ‘n dosyn en haar sleg man (ook bekend as Die Werfetter) oorleef het. Hulle mae het sy meestal met moeite vol gehou en sy moes meer kere as nie haar broodpanne teen haar groot buuste vasdruk en met kerswas smeer teen vassit omdat die varkvet op was.

My pa vertel hoe haar woorde soos ‘n swart wasem by haar mond uitgekom het, soos kinders wat kamma-rook op ‘n winteroggend, selfs op dae wat die kameeldoringbome gebewe het in die Noordkaap-hitte. Dan het sy oor haar werf gestaar en soos een wat nie wónder nie, maar wéét, vir my ouma gesê: “Jy weet wat ek wil weet, Hentie, is waarom ons eers moet leef en dan moet vrek. Waarom kan ons nie net vrek en klaarkry nie!”

En daardie gif vloei in my are.

The Song of the Lark, Jules Breton
The Song of the Lark, Jules Breton

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply